Logo
kykNET_Op_my_Eish!_S3_Brendan_Peyper_Slim_BB
web uni tv guide

Op My Eish!

144RealiteitPG13 L

Dís wanneer Brendan Peyper se Op my eish!-soektog na liefde begin

Nuus
17 November 2023
Vanaf Donderdag 11 Januarie 2024 om 20:00 gaan 16 dames die reis saam met die gewilde sanger Brendan Peyper in die derde seisoen van “Op my eish!” aanpak in die hoop om sy hart te wen.
Brendan Peyper

Verfilming van die reeks het in September begin, en Brendan en die span het die hele Oos-Vrystaat platgetoer – van Clarens en Golden Gate tot Fouriesburg en Bethlehem.

Hierdie seisoen gaan geen tekort aan aksie en avontuur hê nie. Van lugballon ry en visvang tot ski en quad bike jaag, en trekkerresies hou – die dames gaan agter kom hoe lief Brendan is vir avontuur. Daar sal ook tyd wees vir ontspanning in die jacuzzi en spabederfies. Van die spesiale plekke wat besoek word, is Destiny Castle, die grotte net buite Fouriesburg en die prentjiemooi Bubble Valley.



Jaco Spies, regisseur van hierdie seisoen, sê dié reeks het sy stoutste verwagtinge oortref. “Die skilderagtige Oos-Vrystaat verskaf die doek waarteen ’n bitter mooi liefdesverhaal oor 13 aksiebelaaide episodes afspeel. Ons leer vir Brendan ken soos nooit te vore nie, en die 16 dames wat sy hart probeer wen, sorg vir hope vermaak en intrige.”

Brendan deel Jaco se entoesiasme: “Ek sou nooit in my wildste drome kon dink dat hierdie show my so baie sou leer nie, en ek is bitter bly ek het dit gedoen!”

Gideon Eksteen, die uitvoerende vervaardiger van die reeks, stem saam dat dié seisoen beslis spesiaal gaan wees. “Dit is ’n seisoen om nie te mis nie. Met name soos Brendan Peyper en Jo Black, gepaard met die wonderlikste deelnemers, asook produksiespan wat lang ure gewerk het, maak dit vir ongelooflike realiteits-vermaak met elke emosie wat geprikkel sal word deur die loop van die seisoen. Was dit ’n ware sprokiesverhaal… miskien!”

Dit klink asof Brendan dalk selfs ’n bietjie te veel pret gehad het... kykers sal binnekort self meer hieroor kan uitvind. Een ding is vir seker – die vonke gaan behoorlik spat!

Skakel vanaf 11 Januarie 2024 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) in om uit te vind of Brendan die liefde van sy lewe ontmoet het.

Die seisoen sal ook beskikbaar wees op DStv Stream en Catchup.