Logo
kykNET_Op_my_Eish!_S3_Brendan_Peyper_Slim_BB
web uni tv guide

Op My Eish!

144RealiteitPG13 L

Sexy Brendan Peyper soek liefde in derde seisoen van kykNET se Op my Eish!

Nuus
03 Augustus 2023
Dames, maak gereed, want sanger Brendan Peyper is gereed om liefde te vind!
OME S3 CTE Presser

Inskrywings is tans oop tot 31 Augustus op – moenie hierdie kans laat verbygaan nie.

Hy het ’n glimlag wat menige vrou se knieë lam maak, spiere wat bult en die groot hart van ’n boerseun van die Vrystaat. Met trefferliedjies soos “Stop, wag, bly nog ’n bietjie”, “Trouvrou” en “Jy laat dit maklik lyk” is daar egter een ding wat nog kort in Brendan Peyper se lewe: daardie een groot liefde.

En dis waar Op my eish! ’n rol gaan speel, want, ja, Brendan is die alleenloper wat liefde in die derde seisoen van kykNET (DStv-kanaal 144) se gewilde realiteitsreeks gaan soek.

“Ek het ingestem om deel van die program te wees omdat ek baie oopkop is oor die lewe en nie deure wil toemaak wat vir my oopgaan nie,” sê Brendan. “Mens weet nooit wat die lewe vir jou inhou nie en wat vir jou bestem is nie.”

Hoe lyk sy ideale vrou?

“Ek het nie noodwendig ’n prentjie in my gedagtes nie, want soms is dit die persoon waarvan jy dit die minste verwag wat jou die hardste van jou voete afslaan. Al wat ek kan sê, is dat ek van ’n vrou hou wat atleties gebou is en ’n gesonde leefstyl handhaaf,” sê hy.

Brendan, wat op 7 Augustus sy 27ste verjaardag vier, is in Bloemfontein gebore en het op vyf reeds begin kitaar speel. Sy debuutalbum, Stop, wag, bly nog ’n bietjie, is in 2015 vrygestel en daarna het ’n rits treffers gevolg. “Jy laat dit maklik lyk” en “Stop, wag, bly nog ’n bietjie” se musiekvideo is elk reeds meer as 6,8 miljoen keer op YouTube gekyk en sy nuwe treffer, “Toer om die vloer” is in agt maande al 3,4 miljoen keer gekyk.

Die derde seisoen van Op my eish! word in September en Oktober vanjaar by van Brendan se gunsteling-plekke verfilm en die uitvoerende vervaardiger, Gideon Eksteen van Wakanda Media, sê kykers kan beslis ’n paar kinkels verwag, maar dat daar nie te veel aan die formaat gaan verander nie omdat dit so goed werk.

“Wanneer dit by sake van die hart kom, kan dinge onvoorspelbaar wees,” sê Gideon. “Die beste ding vir ons as ’n produksiespan is om te doen, is om die proses sy natuurlike gang te laat gaan en die beste vir die kyker vas te vang.”

Hy sê hulle hoop Brendan gaan liefde vind. “Hy neem deel met ’n oop kop en ’n groot hart en is reg vir enige gebeurtenis.”

Waarna sien Brendan die meeste uit?

“Om die vroue te leer ken en te sien hoe hulle reageer en optree,” sê hy.

  • Om uit te vind hoe om in te skryf en wat die reëls en regulasies is, klik hier