Logo
kykNET_Op_my_Eish!_S3_Brendan_Peyper_Slim_BB
web uni tv guide

Op My Eish!

144RealiteitPG13 L

Kry antwoorde en vind uit hoe hartsake staan in "Op my eish!" se reünie-episode

Nuus
04 April 2024
Kykers sal hoor hoe dit met Brendan en Janae gaan, en ook uitvind wat is nuut in die lewe van die ander dames.
Brendan Peyper en Janae

Brendan Peyper het uiteindelik een van die 16 dames gekies, maar daar is nog brandende vrae, sommer baie. In ’n spesiale Op my eish!-reünie-episode op 11 April 2024, net op kykNET, kan kykers uitvind wat in die vyf maande sedert die verfilming van die laaste episode gebeur het.

Brendan se wingman, Jo Black, sal weer aan die stuur van sake wees en vir die dames die geleentheid gee om te praat oor alles wat hulle nog op die hart het.

Die top-12 en twee wildcards is almal by die reünie, maar Christine kon ongelukkig nie die geleentheid bywoon nie.

In dié episode sal kykers uitvind hoe dit met Brendan en Janae gaan en watter van die ander dames intussen liefde gevind het. En dan is daar ook vroue wat hulle kant van die storie kom vertel.

In die laaste episode moes Brendan tussen Rachelle, Katja en Janae kies, en die gelukkige een was toe Janae.

“Ek voel ek het deur die Op my eish!-reis aansienlik gegroei en dele van myself ontdek. Dit was nie net ’n reis om liefde te vind nie, maar ook ’n reis waar ek introspeksie gedoen het en my verhouding met die Here versterk het. Dinge het partykeer onseker gevoel en daarom was dit vir my belangrik om te bly glo aan Jesus se plan,” sê Janae.

Brendan sê dat hy nooit dié ervaring sal vergeet nie. “Ek het amazing mense tydens verfilming ontmoet en is opgewonde om te sien wat nog voorlê. My EP (kort-album) Omdat jy mag, word op 5 April 2024 vrygestel, en ek kan nie wag om te hoor wat almal daarvan dink nie.”

Is Brendan gereed om al die dames weer saam in een vertrek te sien? Vind Donderdag 11 April om 20:00 uit – net op kykNET (DStv-kanaal 144).