Logo
kykNET_Op_my_Eish!_S3_Brendan_Peyper_Slim_BB
web uni tv guide

Op My Eish!

144RealiteitPG13 L

Ontmoet die 16 dames wat Brendan Peyper vir "Op my eish!" gekies het

Nuus
05 Januarie 2024
Die derde seisoen van die gewilde "Op my eish!" is in die wegspringblokke. En nou’s dit tyd om uit te vind watter 16 vroue die kans gaan kry om Brendan Peyper se hart te wen.
kykNET_Op_My_Eish!_Seisoen_3_Brendan_Peyper_HP_Billboard

Op my eish! begin op 11 Januarie 2024 om 20:00, net op kykNET (DStv-kanaal 144)

Brendan het hierdie 16 deelnemers uit ’n stortvloed van inskrywings gekies. In die groep is daar ’n wye verskeidenheid – van modelle, haarstiliste en studente tot ’n eiendomsagent en onderwyseres. Gelukkig was sy wingman, Jo Black, aan sy sy om hom te help met die moeilike keuses.

Hier is die 16 avontuurlustige dames wat hierdie opwindende reis met Brendan gaan aanpak. 

Chaunte du Bruyn (Student, 22)

1.     Hoekom het jy ingeskryf?

“Die belangrikste antwoord, en ek wil dit duidelik maak, is dat ek ingeskryf het vir Brendan. Ek wil hom beter leer ken, en ek was nog altyd iemand wat glo mense wat kanse waag, is mense wat wen. Jy gaan nie die werk kry as jy nie jou CV instuur nie, en dis dieselfde beginsel wat tel wanneer dit by liefde kom.”

2.     Waarna soek jy in ’n man?

“Iemand wat na aan God se hart is. Hy moet geduldig wees, goed kan kommunikeer en ambisie hê, want ek wil die wêreld sien.”

 

Bianca de Reuck (Au pair, 22)

1.       Hoekom het jy ingeskryf?

“Ek het ingeskryf om vir Brendan beter te leer ken as die persoon wat hy is en nie net die sanger wat ons almal ken nie.”

2.     Waarna soek jy in ’n man?

“Ek soek iemand wat my sal aanvaar vir wie en wat ek is – iemand wat my deur dik en dun sal bystaan soos wat ek hom sal bystaan; ’n man met ’n groot hart. Hy moet liefdevol wees en omgee. Hy moet ook avontuurlustig wees en van die buitelewe hou.”

 

Natasha Jansen van Rensburg (Student, 21)

1.     Hoekom het jy ingeskryf?

“ ’n Paar mense het my aangemoedig om in te skryf. Ek het ’n week lank daaroor gedink, maar was nog steeds nie oortuig nie. Een oggend het ek na die sonopkoms gekyk en Bybel gelees. Brendan het later die dag dieselfde Bybelvers op sy sosiale media gesit. En dit het my finaal oortuig om in te skryf.”

2.     Waarna soek jy in ’n man?

“Ek soek iemand wat hou van impulsief wees. ’n Bok vir sports wat goeie grappies kan maak en besluite met selfvertroue neem. ’n Sagte hart en ’n gedeelde liefde vir die Here is vir my van groot waarde. Ek wil iemand aan my sy hê wat van geselskap hou en die lewe ten volle geniet.”

 

Chantelle Smith (Eiendomsagent, 29)

1.     Hoekom het jy ingeskryf?

“Ek het ingeskryf vir Op my eish! om uit my gemaksone te tree en myself uit te daag om nuwe dinge te probeer. Dit het geklink soos ’n avontuur, en mens weet nooit wat kan gebeur nie.”

2.     Waarna soek jy in ’n man?

“Ek soek ’n man met ’n goeie hart – ’n hart vir Jesus en mense – ’n goeie sin vir humor en ’n sterk persoonlikheid. ’n Man wat nie te sleg op die oog is nie. ’n Man wat ’n goeie verhouding het met sy familie, wat hulle liefhet en respekteer.”

 

Christine Kirkcaldy (Haarstilis, 28)

1.     Hoekom het jy ingeskryf?

“Ek het ingeskryf met ’n oop kop om liefde te vind en ’n kans te vat om dit te kan beleef.”

2.     Waarna soek jy in ’n man?

“Iemand wat baie lief is vir God en sy familie. Iemand wat my beste maat kan wees en wat my respekteer en vol liefde en vreugde is. Hy moet ’n positiewe uitkyk op die lewe hê en saam met my deur goedjies kan werk as dit moeilik gaan.”

 

Luzaan Marais (Versekeringsonderskrywer, 28)

1.     Hoekom het jy ingeskryf?

“Ek het vriende gehad wat vir my die inskrywingsvorm aangestuur het en my aangemoedig het om in te skryf. Ek sou aanvanklik nie, maar het toe wel besluit om voort te gaan. Geen verwagtinge gehad nie. Bloot net ’n kans gevat.”

2.     Waarna soek jy in ’n man?

“Iemand wat my kan laat lag, ’n man wat my drome ondersteun en ’n waardevolle toevoeging tot my lewe sal wees. Iemand wat avontuurlustig is en ’n positiewe uitkyk op die lewe het.”

 

Katja Pieters (Lufthansa-dienskonsultant, 25)

1.     Hoekom het jy ingeskryf?

“Ek het een rustige oggend op my vriendin se bank op die inskrywingsvorm vir Op my eish! met Brendan Peyper afgekom. Ek wonder toe of die inligting reg kan wees, want dit het vir my gelyk Namibiërs kan ook inskryf. Wat is die kanse dat hy my kies om hom beter te leer ken? Ek glo toe dit sal ’n opwindende journey wees as ek gekies word. En soos almal natuurlik, sou ek graag die man van die uur beter wil leer ken.” 

2.     Waarna soek jy in ’n man?

“Oor die jare van grootword met my pa, het ek nog altyd gedroom van ’n man soos hy. Die man wat berge sou klim vir sy geliefdes – sy hart so groot dat niks te veel gevra is nie. Almal is welkom in sy huis, en hy buig agteroor om vir jou gelukkig te sien. As gevaar kom, sal hy spring om jou te beskerm.”

 

Nina Solomon (Haarstilis, 24)

1.     Hoekom het jy ingeskryf?

“Ek het gedink ons sal baie gemeen hê. Dit wat hy beskryf het hy in ’n meisie soek, is baie dieselfde as wat ek is. Ek het letterlik ’n dag voor inskrywings gesluit het, ná baie oorreding van my familie en vriende, my inskrywing ingestuur.”

2.     Waarna soek jy in ’n man?

“Ek soek ’n Christen-man met goeie waardes wat my altyd met respek en liefde hanteer en ook my beste maatjie kan wees saam met wie ek die lewe en al sy avonture kan aanpak.”

 

Nadia Olivier (Student, 26)

1.     Hoekom het jy ingeskryf?

“Ek het ingeskryf omdat ek graag wou sien wie Brendan is buite die naam ‘Brendan Peyper’. Ek kon sien dat hy ’n diep mens is, en ek wou daardie kant van hom leer ken.”

2.     Waarna soek jy in ’n man?

“Hy moet waardes hê, snaaks wees, slim wees, kan visvang en kan braai.”

 

Janae Stander (Student, 22)

1.     Hoekom het jy ingeskryf?

“Ek het ingeskryf omdat my vriendinne my aangehits het om ’n kans te waag om liefde te vind. Ek het dit in die Here se hande gelos om vir my op die regte pad te sit. 

Ek wou meer uitvind van Brendan se ware karakter en ook wat hom gevorm het tot die persoon wat hy vandag is. Sonder twyfel dink ek natuurlik ook hy is baie aantreklik.”

2.     Waarna soek jy in ’n man?

“Ek soek ’n man wat nie net my grootse supporter is nie, maar ook my beste vriend. Dis vir my belangrik dat die persoon lief is vir sy familie en vriende en ook tyd maak vir hulle. Ek wil graag saam met die persoon kan lag en simpel wees, maar terselfdertyd is dit vir my net so belangrik dat die persoon my sal bystaan deur die moeilike tye ook.”

 

Rachelle Fourie (Onderwyseres, 25)

1.     Hoekom het jy ingeskryf?

“Ek wou Brendan graag leer ken vir wie hy is en nie op grond van die stories wat ek van hom gehoor het nie.”

2.     Waarna soek jy in ’n man?

Ek sou sê ek soek iemand wat weet wie hy is en waarheen hy op pad is. Iemand wat ek nie hoef te fix nie, maar ’n aanwins tot my lewe sal wees. Iemand saam met wie ek lekker kan lag en die lewe kan geniet. ’n Godvresende man. En laastens, iemand wat ek met my hele hart kan vertrou.” 

 

Juane Lubbe (Landboukundige, 26)

1.     Hoekom het jy ingeskryf?

“Eers wou ek glad nie ingeskryf het nie. ’n Paar mense my gevra om dit te doen, maar ek het geweier. Ná ’n goeie dinksessie het ek besluit om uit my boksie en my gemaksone te klim en wel in te skryf. Ek het nooit gedink dat ek in die top-16 gaan wees nie.”

2.     Waarna soek jy in ’n man?

“Eerstens moet my man Jesus meer liefhê as vir my. Hy moet my baie liefhê en goedgesind wees. Ek is nie ’n groot romantikus nie, maar dit is die klein goedjies wat saak maak.”

 

Jane Bacher (Model, 25)

1.     Hoekom het jy ingeskryf?

“Ek het ingeskryf omdat ek vir Brendan beter wou leer ken en wou sien wie hy is agter die skerms en die verhoog. ’n Mens sien prentjies en stories, maar ek is iemand wat altyd my eie opinie en ervaring vertrou en daarom wou ek dit ’n kans gegee.”

2.     Waarna soek jy in ’n man?

“My man moet gelowig en werklik my beste vriend wees – iemand met wie ek alles en enige iets kan deel en waar ek veilig voel. Daar moet baie respek en liefde in ons verhouding wees.”

 

Sonel van der Walt (Student, 22)

1.     Hoekom het jy ingeskryf?

“Ek het SOLIDLY gedink Brendan is my trouman, en ek moes en wou hom beter leer ken.”

2.     Waarna soek jy in ’n man?

“Hy moet ’n Christen wees en ’n groot lewenslus hê, want ek hou van baie dinge doen. Hy gaan moet bereid wees om baie kinders saam met my groot te maak. En hy moet my grappies verstaan en lekker kan lag saam met my.”

 

Thelmané Wentzel (Student, 25)

1.     Hoekom het jy ingeskryf?

“Ek is nou op ’n stadium in my lewe waar ek weet wie en wat ek is en wat ek soek. Ek is reg om my hart oop te maak vir liefde, en ek is reg vir ’n ernstige verhouding. Ek het ook ingeskryf omdat Brendan gesê het hy soek ’n vrou met waardes en ’n regte boeremeisie. Ek kom van die plaas af en is grootgemaak deur ongelooflike ouers.”

2.     Waarna soek jy in ’n man?

“Ek soek iemand met dieselfde waardes en manier van dink as wat ek het. ’n Man moet sy eie individu kan wees, maar ook my menswees, drome en ideale in die lewe kan ondersteun soos wat ek sy menswees, drome en ideale sal ondersteun.”

 

Runet van Heerden (Persoonlike afrigter, 27)

1.     Hoekom het jy ingeskryf?

“Ek het ingeskryf, want Brendan is vir my aantreklik, en ek hou van ’n onbekende uitdaging.”

2.     Waarna soek jy in ’n man?

“Iemand wat kommunikeer, selfversekerd is, ’n positiewe uitkyk op die lewe het en ’n aktiewe en gesonde gebalanseerde leefstyl het.”

·      Volg Brendan se soektog na liefde vanaf Donderdag 11 Januarie 2024 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Op my eish! sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.