Logo
web uni tv guide

Magda Louw

144KomediePG13 L

Cindy Swanepoel binnekort in "Magda Louw" te sien

Nuus
04 Desember 2023
Wanneer die tweede seisoen van kykNET se gewilde plaaslike komediereeks op 1 Januarie 2024 afskop, gaan kykers ’n paar nuwe gesigte ontmoet.
Magda Louw 1

Die grootste verandering is Cindy Swanepoel (Dr. Annelize Roux in Binnelanders) wat nou die rol van Gertrude Louw vertolk. Cintaine Schutte, wat in die eerste seisoen dié rol vertolk het, was weens ander verpligtinge nie beskikbaar vir die tweede seisoen nie. 

Saam met Cindy, is Magda Louw se hoofkarakters: Desiré Gardner as Magda, Hannes van Wyk as Erhard, Bennie Fourie as Baltus en Gershwin Mias as Shaun.

Ander bekende gasakteurs wat wéér hul verskyning in die reeks maak, is: Shimmy Isaacs as Lynette, Margit Meyer-Rödenbeck as Marlene, André Weideman as dr. Havenga, Mandri Sutherland as Delere en Mienke Ehlers as Lydia.

Daar is ook ’n handvol nuwe karakters wat kykers gaan ontmoet. Só kom Erhard se broer Ferdinand, wat deur Louw Venter vertolk word, ’n draai maak, terwyl Magda se paaie ook met ’n sosiale media-kenner Sol, gespeel deur Wian Taljaard, kruis. 

Ons het vyf vrae aan Cindy gestel.

1.  In jou eie woorde, hoe sal jy jou karakter Gertrude beskryf?

Gertrude is ’n vrou wat op haar eie voete staan. Sy vat nie nonsens nie. Sy is ’n realis wat miskien partykeer kan voorkom asof sy negatief is, maar sy is nie rêrig nie. Sy is net nie ’n vol-fiemies-mens nie.

Ek dink sy boor ook alles self in haar huis en sy kap ’n ding. Sy is selfstandig. Dit is vir haar belangrik dat ’n man nie dinge vir haar hoef te doen nie – sy kan dit self doen.

2.  Wat kan kykers van Gertrude in seisoen 2 verwag?

Gertrude gaan definitief swanger wees. Daar gaan dalk ’n verandering by haar plaasvind . . . so ’n  bietjie van ’n transformasie. Dit gaan nie massive wees nie, maar ek dink om ma te word verander wel iets in ’n mens.

3. Hoe was dit vir jou om komedie te doen? Wat is uitdagend/lekker daarvan?

Ek is baie lief vir komedie. Dit is my gunsteling genre en dit is ’n verskriklike uitdagende genre want jy moenie probeer om snaaks te wees nie, want dan is iets nie snaaks nie.

Ek dink dit gaan maar daaroor om vir Desiré [Gardner] te ondersteun. Magda is eintlik die kern-een, die snaakse een. Hoe meer jy jou karakter real speel en nie as ’n karikatuur speel nie, maak dit haar snaaks. 

Dis baie ensemble-werk. Dit gaan nie oor my nie, dit gaan daaroor om mekaar te ondersteun om die toneel snaaks te maak. 

Ja, ek love komedie. Gló net in die scene – dis so lekker geskryf dat dit baie maklik gebeur. 

4.  Hoekom dink jy is Magda Louw so gewild onder kykers?

Ek dink dis omdat dit so werklik is dat mense daarmee kan identifiseer. Dit is die klassieke Afrikaner-huishouding – die kos wat geëet word, die goed waaroor gepraat word, doilies . . . 

Daar is ’n karakter vir elkeen om mee te identifiseer, of dit is die huishouding self. Dis eerlik en eg. En dit is wat dit snaaks maak.

5. Enige iets anders oor jou ervaring op stel wat jy wil byvoeg?

Ek het verskriklik baie gelag. Desiré is ’n ongelooflike skrywer. Ek kon nie wag om die tekste te lees nie. Sy het rêrig net so ’n talent . . . ek admireer haar skryfwerk.

Sy is ongelooflik snaaks en ons het bitter baie gelag. En ons het soveel in gemeen. Ek was met ope arms verwelkom. 

Omdat Cintaine reeds die karakter gespeel het, was ek nogal senuweeagtig want ek het ’n ander energie. Niemand van ons is dieselfde nie, daarom maak dit nie saak wat ek gedoen het nie, want ek sou nie Gertrude presies soos sy dit kon doen nie. 

Almal het my vertrou en baie grasie gegee om die karakter self te kan inkleur op my manier, met karaktertrekke wat Cintaine reeds gevestig het. 

Dit was net ’n verskriklike lekker omgewing om in te werk. Ek kon nie glo ek gaan elke dag werk toe nie – ’n mens kan dit nie werk noem nie. Dit is tog wat ek nog altyd wou doen: ek wou net gaan speel by die werk. 

Die dae het so vinnig verbygegaan. Toe ek weer sien, toe’s dit verby. Ek hoop rêrig vir nog!

Die tweede seisoen van Magda Louw begin op Maandag 1 Januarie 2024 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144)