Logo
Suidooster Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13 V

Illse Roos binnekort in Suidooster te sien

Nuus
04 Februarie 2016
Suid-Afrikaanse sepiekykers kan daarna uitsien om binnekort vir Illse Roos in Suidooster te sien. Ons het met haar gesels.
Ilse Roos Suidooster 00
Suid-Afrikaanse sepiekykers kan daarna uitsien om binnekort vir Illse Roos in Suidooster te sien.

Illse sal vir die eerste keer op 9 Maart haar verskyning in dié gewilde kykNET-sepie, wat op 16 November 2015 begin het, maak. Haar karakter in Suidooster is Rita du Plooy, Chris (Marcel van Heerden) se vrou en Tim (Marco Spaumer) se ma.

Illse, wat deesdae saam het haar gesin in Kaapstad woon, is ’n gesoute sepie-aktrise en was onder meer vir langer as tien jaar in Egoli te sien en sy het ook ’n prominente rol in 7de Laan gehad.

“Illse Roos is uitmuntend en in ’n liga van haar eie,” sê Kaye Ann Williams, toesigvervaardiger van kykNET.

“Haar elegansie en professionaliteit is ’n aanwins vir enige produksie. Ons voel regtig geëerd om so ’n ikoniese aktrise in Suidooster te verwelkom.”

34 ilse roos suidooster 00


Ons het met Illse oor Suidooster gesels.

Hoe voel dit om in Kaapstad in ’n sepie te speel?

Dis ’n heerlike rol wat my op my tone hou – en ek ry langs die see en aan die voet van Tafelberg werk toe! Ek kan beslis nie kla nie!

Jy het baie sepie-ervaring, want jy was meer as tien jaar in Egoli en toe later weer in 7de Laan vir ’n ruk. Wat trek jou aan van ’n sepie?

Dis vaste werk en inkomste, maar my rol in Suidooster is ’n besoekende karakter (wat kan terugkeer soos die storielyne dit vereis), dus nie voltyds nie, wat my perfek pas. My jongste seun is nog op skool, so ek wil nie nou al weer voltyds werk nie.

Wat is vir jou die uitdagendste om in ’n sepie te speel?

Dis ’n masjien wat jou kan knak. Jy moet baie goed voorbereid wees en byhou.

Is jou karakter, Rita, in Suidooster uniek vir jou – is daar ooreenkomste met vorige karakters wat jy vertolk het?

Nee, Rita is totaal anders. Ek moes soek na haar. Sy’s soos kwiksilwer – nes ek dink ek het haar, dan glip sy weer weg. Sy’s uitputtend, maar ’n heerlike uitdaging.

Wat staan uit van Suidooster?

Die ateljee is 10 minute van die see af! Boonop met Tafelberg as agtergrond is dit kos vir die siel... En ons kry ons tekste weke vooruit! Wat ’n plesier!

Waarmee anders is jy besig buiten Suidooster?

Ek werk vryskut nou, maar tussendeur is my tuin ’n groot plesier. Ons kajak in die see gereeld, swem en stap omtrent elke dag. Dis so ’n voorreg om ’n berg agter jou en die see voor jou te hê. Ek is baie dankbaar.

Suidooster word op Maandae, Dinsdae en Woensdae om 18:00 op kykNET en kykNET & kie uitgesaai, met ’n herhaling daardie aande om 20:00 op kykNET & kie. Daar is nog herhalings op ander tye en ’n omnibus word op Sondae om 14:00 op kykNET & kie uitgesaai.