Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

‘n Splinternuwe seisoen van kykNET se gewilde sepie – Binnelanders

Nuus
08 Junie 2020
‘n Splinternuwe seisoen van kykNET se gewilde daaglikse drama, Binnelanders, begin op Maandag 8 Junie en belowe vuurwarm kykgenot as teenvoeter vir die koue wintermaande.
Binnelanders Billboard 2560x490

Kykers moet egter hulle PVRs van vooraf instel om seker te maak dat hulle geen aflewering van die nuwe seisoen, wat boonop Binnelanders se vyftiende bestaansjaar inlui, misloop nie.

Bo-en-behalwe die bekende en geliefde karakters sal talle nuwe gesigte sorg vir bykomende intrige en kinkels in die kabel. 'n Pasiënt, vertolk deur Jonathan Boynton-Lee van Top Billing-faam, word deur dr. Maya Gossling (Kara du Toit) behandel. Sy doen en late ontketen 'n reeks gebeure wat talle lewens in gevaar stel – onder andere dié van paramedikus Danny (Bradley Olivier).

Volgens Elsje Stark, vervaardiger van Binnelanders, het die draaiboekspan hierdie storie reeds in November 2019 gekonseptualiseer en geskryf. “En omdat ons opnames maande voor uitsending plaasvind, is dit blote toeval dat hierdie virus-storie tydens die COVID19-pandemie uitgesaai word,” sê sy.

Die hele produksiespan sit skouer aan die wiel om binne die huidige voorgeskrewe regulasies en beperkings hulle beste te lewer en kykers sal die vrugte hiervan pluk – Louis (Germandt Geldenhuys) onthul met groot fanfare 'n nuwe uithangplek nadat die gewilde Nagskof in April in 'n brand verwoes is.

Okkie (Ben Kruger) staan sy skoonseun Louis met woord en daad by, maar dit gaan nie sonder pyn en lyding gepaard nie – selfs Maya en dr. Hugo Vos (Cobus Rossouw Jr) se nuutgevonde werksverhouding loop deur. Geen wonder Ilse (Hannelie Warren) se senuwees is aan flarde nie.

Soos dit gaan met enige verhouding, is uitdagings aan die orde van die dag. At (Hans Strydom) en Annelize (Cindy Swanepoel) spring nie vry nie, om nie te praat van Danny en Chanel (Lindsey Abrahams) nie. Selfs Naomi (Je-ani Swiegelaar) moet byt op haar tande.

René (Simoné Nortmann) se lewe verander in ‘n japtrap toe sy tydens 'n braai saam met dr. Quinton Meyer (Ramey Short) nie net ‘n besering opdoen nie, maar as gevolg daarvan ‘n ontdekking maak met ontstellende persoonlike gevolge.

In Julie bly dit ‘n ope vraag of Eben (Zak Hendrikz) daarin slaag om die brûe te herbou wat hy verbrand het – en lê die antwoord regtig by Tracy (Melinda Smith)?

Om alles te kroon, moet Rian (Erik Holm), Conrad (Hykie Berg) en Ingrid (Michelle Botes) besluit waar hulle lojaliteit lê wanneer Elana (Ilne Nienaber) se navorsing ‘n bedreiging inhou vir sowel Binneland Kliniek as Southern Hope. Dis juis verdeelde lojaliteite wat ‘n ou bekende teruglok Pretoria toe – en sy daag nie op sonder ‘n versteekte agenda nie…

B10 ep18 3
B10 ep18 6
B10 ep19 4
B10 ep20 2
B10 ep23 1
B10 ep32 3
Binn10 ep0033 1
ep39 4
Gallery
B10 ep18 3

Kyk elke weeksaand om 19:30 op kykNET (kanaal 144 op DStv) na Binnelanders. Maak net dubbel seker jou PVR is opnuut ingestel vir die nuwe seisoen wat op Maandag 8 Junie begin.

SPLINTERNUWE episodes word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET, kanaal 144, uitgesaai. Elke aand is daar ‘n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30. ‘n Omnibus van die week se episodes word Saterdae vanaf 09:30 tot 12:00 uitgesaai.

Episodes van die VORIGE SEISOEN word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET&kie, kanaal 145, uitgesaai, met herhalings van dié episode om 23:30. Daar is ook herhalings op Maandae om 13:30, Dinsdae om 14:00, Woensdae om 13:30, Donderdae om 14:00, en Vrydae om 13:30.