Logo
Binnelanders S13 Slim BB Updated November 2023
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Tussen tonele met Cindy Swanepoel

Nuus
04 April 2024
Cindy Swanepoel deel haar loopbaan-hoogtepunte, asook wat sy graag in die toekoms wil doen.
Cindy Swanepoel

Het jy geweet Cindy Swanepoel is so erg oor haar koffie dat sy haar eie koppie boeretroos moet stel toe neem? Die aktrise wat onlangs die sepie, Binnelanders gegroet het, vertel ons ‘n bietjie meer oor haar doen-en-late agter die skerms. 

Watter items gaan ten alle tye saam met jou stel toe? 

As ek fisies op stel is, is dit net my teks. Ek vat nie eens my foon saam nie. 

Ek steek altyd my teks weg iewers agter ‘n kussing of onder ‘n stoel. Dis maar net altyd ‘n safety om te hê, al ken ek my woorde; vat ek my teks saam. As ek net stel toe gaan in general, is dit altyd my plungertjie met my koffie want ek is baie lief vir MY koffie. [Dis] spesifieke koffie, want stel-koffie is nooit lekker nie, en my water. Daai is die items waarsonder ek nie kan nie.

Indien jy kan, watter een van die karakters wat jy al vertolk het was jou gunsteling en hoekom? 

Een van my gunsteling karakters was definitief Christelle in Koek.

Natuurlik ook [die] Magda Louw [reeks]. Ag, dit was net lekker om te lag en om te kan simpel wees en te relax.

Watter rol het jou al die meeste uitgedaag in jou loopbaan en hoekom? 

My grootste uitdaging was vir seker Christelle in Koek. Sy moes baie emosionele journeys deurgaan. Ek moes toe kophou, omdat ons uit continuity moes shoot waar ek presies in die storie is en om die storie vertel, eerlik te vertel. [Ons het] so baie tonele gehad. Dit was ‘n uitdaging om kop te hou waar ek in die storie is en op watse emosionele vlak sy was op daardie stadium: Is sy gefrustreerd emosioneel of is sy hartseer emosioneel, of is sy moedeloos emosioneel? Ek moes dans… Dit was vir seker een van die grootste uitdagings tot dusver [in my loopbaan].

Het jy onlangs iets geleer by ’n ander akteur/ persoon op stel wat jou geïnspireer het? 

Hulle sê altyd “don’t meet your heroes”, maar om vir Sandra Prinsloo te kon ontmoet en saam met haar te kon speel, dit was regtig ‘n massiewe eer.  Natuurlik het ek haar met ‘n valk oog dopgehou, om te kyk wat sy als doen en sy is so professioneel, sy is so humble, sy is so vriendelik, sy kla nie, sy is ‘n hardwerkende persoon, sy ken haar woorde… Ek dink jong mense moet weer na die old school akteurs kyk – jy weet daar is baie wat ‘n mens kan leer [van hulle]. Maar dan het ek ook van Ashley de Lange wat my sussie gespeel het, geleer van hoe om mekaar te ondersteun. Sy was altyd daar vir my. Sy is vir seker ook iemand na wie ek na opkyk al is sy jonger as ek. Akteurs moet mekaar kan vertrou en daar wees vir mekaar as jy deur moeilike scenes gaan. En sy het groot daarin geslaag.

Saam met watter persoon in die industrie sal jy nog mee wil werk eendag? 

Anna-Mart van der Merwe is my grootste bucket list aktrise, dis iemand met wie ek iets wil doen, ek hou nog duim vas daarvoor. Ek het nou saam met Desiré Gardner gewerk in Magda Louw, maar ek sal love om saam met haar en Mandri (Sutherland) en Llandi Beeslaar komedie te kan doen, ‘n paar vroue. Jis, dit sal vir my great wees.

Is daar ’n fliek of reeks op kykNET/Showmax wat jy onlangs gesien het waar jy gedink het jy sal nogals graag daarin wil speel? 

Ek en my verloofde Craig (Urbani) het onlangs Donkerbos klaar gekyk. Jis, ons was mal daaroor. Craig het dit gelove en hy is Engels en daar was nie eens onderskrifte nie. Dit sê vir jou iets! Ek sal love om so ietsie te kan doen. Enigiets saam met Nico Scheepers of Christiaan Olwagen, ek dink enige akteur sal dit like [om saam met hulle te kan werk].

Hoe motiveer jy jouself nadat jy ’n moeilike dag agter die rug het? 

Ek glo in ‘n lekker stort, ek glo in ‘n glas wyn en ‘n debrief. Ek sal altyd by Craig sit en vir hom vertel hoe my dag was en waardeur ek was  en  als wat ek moes doen. Dit help my nogal baie om die dag te verwerk.

My brein is nou al so ingeoefen om woorde te leer – te danke aan Binnelanders – dat dit [woorde leer] nie meer vir my die moeilike deel is nie. Dit gaan maar meer om genoeg slaap in te kry en jou werk te geniet. So, dis darem nie moeilik vir my om die volgende dag op te staan nie.

Wat is jou motto in die lewe? 

‘n Stuk deur Roald Dahl wat hy geskryf het in The Twits: “If you have good thoughts it will shine out of your face like sun beams and you will always look lovely.”

As jy enige ander celebrity moet speel, plaaslik of internasionaal, wie sal dit wees en hoekom?

Ek is baie lief vir al die karakters in Saturday Night Live, veral die vrouens soos Amy Poehler, Kristen Wigg, en Tina Fey. As ek hulle storie moes vertel, sal dit my die kans gee om dan in die psige te gaan van die verskillende karakters wat hulle ook al moes vertolk het.

So iets sal lekker wees, as ek nou meer as een karakter moet speel. Ek is baie lief vir karakterisasie en komedie; komedie met ‘n traan gewoonlik, ietsie wat so half, jy lag en die volgende oomblik skrik jy want dis ‘n bietjie hartseer ook, enigiets wat so half ‘n twist het. [Gee my] enige Saturday Night Live karakter.

Magda Louw seisoen twee is beskikbaar op DStv Stream. Jy kan Cindy sien in Koek wat tans op Showmax stroom.