Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Friedrich Stark se ‘plek in ons annale is verseker’

Nuus
13 Januarie 2017
Friedrich Stark (7 Mei 1954 – 25 Desember 2016) was ’n onmisbare figuur in die TV-bedryf, en was bekend as regisseur en vervaardiger van veral Generations en Binnelanders.
Friedrich Stark

Friedrich Stark (7 Mei 1954 – 25 Desember 2016) was ’n onmisbare figuur in die TV-bedryf, en was bekend as regisseur en vervaardiger van veral Generations en Binnelanders.

LEES: kykNET en Binnelanders groet twee grotes

Lees van die huldeblyke hier:

Hans Strydom (At in Binnelanders):

Ek en Friedrich het bevriend geraak gedurende die verfilming van Môre, Môre in 1973. Deur die jare het ons vriende gebly alhoewel ons later nie meer so baie kon saam kuier nie – ons beroepe het net te veel van ons tyd in beslag begin neem. Ek was seremoniemeester op sy troue met Elsje en later peetpa van sy kinders.

Friedrich was bestem vir die vermaaklikheidsbedryf. Sy pa was ’n grootkop by die destydse TRUK en sy ma was ’n ruk lank verbonde aan die SAUK in Durban. Friedrich het as tjokker van so 9, sy debuut voor die radio-mikrofoon gemaak. Ek onthou ’n foto van hom waar hy, teks in die hand, op ’n stoel staan om by die mikrofoon by te kom tussen die ander gesoute akteurs.

Friedrich was ’n entrepreneur wat bereid was om kanse te waag. Vroeg al het hy meer belanggestel in filmvervaardiging as om te akteur te speel. Toe die geleentheid hom voordoen, het hy, met formidabele Elsje aan sy sy, Generations as ’n sepie aan die SABC voorgestel en aan die gang gekry. Jare later het hy dit weer met Binnelanders vir kykNET reggekry.

Friedrich het daarin geglo om net die beste mense moontlik byeen te trek vir sy projekte. Hy het die vermoë gehad om mense te beïnvloed, na sy standpunt oor te haal. Sy akteurs het van hom gehou omdat hy “aan hulle kant was”. As oud-akteur kon hy hulle frustrasies verstaan en kon hy moeilike situasies met gemak hanteer. Een van sy sêgoed aan sy sepie-regisseurs, waarvan die akteurs gehou het, was: “Luister na die akteur, hy ken sy rol beter as almal.”

Friedrich is nou nie meer met ons nie. Die stres en “deadlines” van ons bedryf het sy tol geëis, maar sy plek in ons annale is verseker. Generations en Binnelanders getuig daarvan, asook die prag Stark-ateljees, ’n eerste in ons bedryf, wat hy en Elsje in Randburg opgerig het. Die Stark-naam sal, deur Elsje en die seuns, voortleef in die bedryf. Rus sag my vriend, jy het meer as jou deel gedoen.

Mitzi Booysen, hoofskrywer en mede-vervaardiger van Binnelanders:

Vir jare as ek Friedrich Stark raakgeloop het in die gange van die SABC, sou hy altyd spottende vir my vra wanneer gaan ek Isidingo verlaat en vir hom kom werk by Generations. Hy het belowe dat hy ’n goeie baas is en ek nooit spyt sou wees nie.

Dit was dus vir my ’n maklike skuif toe ek deur Stark Films gekontrakteur word om deel van ’n span vir ’n nuwe M-Net-sepie (Binnelanders) te word. En Friedrich was reg, hy was ’n wonderlike baas en ek was nog nooit spyt nie.

Friedrich was sjarmant, gaaf, snaaks, vrygewig en baie skerp. Wanneer dit nodig was, het hy my vir myself laat lag en ’n mens was altyd ten volle bewus van sy waardeering en ondersteuning. Beide hy en Elsje het ’n manier gehad om mens te laat voel asof jy meer as net ’n werknemer is. Hulle het ons laat voel soos familie.

Ek is seker dat almal wat deel is van die uitgebreide Stark-familie ook in skok is oor die nuus van sy ontydige dood. Ek weet dat ek hom baie gaan mis, nie net as baas nie, maar ook as lojale vriend. RIV Friedrich Stark.

Karen Meiring (M-Net: Direkteur kykNET-kanale):

Karen sê sy het “ongelooflike respek vir Friedrich as mens, vervaardiger en baanbreker in die televisiebedryf gehad. Hy was altyd hartlik en baie vrygewig met sy kennis en ervaring. Dit was ’n voorreg om hom as deel van die kykNET-kanale te kon beskou.”