Logo
web uni tv guide

Daar Doer In Die Fliek

144Rolprente16 VNL

Vyf nuwe episodes van "Daar doer in die fliek" vertel die res van die Afrikaanse filmbedryf

Nuus
02 November 2023
Dié dokumentêre reeks, met filmkenner Leon van Nierop as aanbieder, is die eerste keer in 2011 op kykNET gewys.
Leon van Nierop filmkenner

Die filmbedryf in Suid-Afrika, en daarmee saam die Afrikaanse filmbedryf, het die afgelope tyd met rasse skrede gegroei. Destyds was dit langsaam en het dit katvoet rondom omstrede stories geloop. Toe bars kykNET se Silwerskermfees los en die bedryf raak gewaagd, manhaftig, parmantig, vrypostig en stimulerend.

Die dokumentêre reeks Daar doer in die fliek, met filmkenner Leon van Nierop as aanbieder, is die eerste keer in 2011 op kykNET gewys en daar is eindelik 25 episodes gemaak oor die geskiedenis van veral Afrikaanse rolprente.

“Die vorige reeks het geëindig met rolprente van in die middel van 2013,” verduidelik Leon. “Ek het na die rolprente gekyk wat van toe tot en met 2022 gemaak is en daar was inderdaad genoeg vir nog vyf episodes. Die CARFO-rolprente – CARFO is die Christelike Afrikaanse Rolprent- en Fotografiese Organisasie wat ’n filmmaatskappy onder beskerming van die NG Kerk was – is ook tot ons beskikking gestel en het ’n groot ruimte gevul. Vanjaar se Silwerskermfees het nog vyf speelfilms, 14 kortfilms en ’n aantal dokumentêre films tot ons arsenaal gevoeg en daar was dus oorgenoeg om oor te praat.”

Elkeen van die episodes dek ongeveer twee jaar, afhangend van hoeveel rolprente uitgereik is, sê Leon.

“Soms sou ’n jaar oorloop na ’n volgende episode vanweë die opwindende en oopkop-onderhoude wat ons met filmmakers en rolspelers gehad het. Ek en Sanet Olivier, die regisseur, het ons laat lei deur hoeveel sinvolle inhoud ons gehad het.

“Ek het met meer as 70 persone in die bedryf gepraat en hulle is baie gemotiveerd en begeesterd oor 2024. Die ateljee het gesidder van idees, optimisme en verwagtinge. Filmmakers is filmgeletterd en vasbeslote om die bedryf in ’n nuwe rigting te stuur,” sê Leon.

“As ek na die heel eerste episode van Daar doer in die fliek kyk wat begin met die eerste rolprentskoot wat in 1897 geskiet is van president Paul Kruger wat na die Raadsaal loop, en ek kyk na Donkerbos en Die tragiese saak van Pamina Vermaak waarmee episode 30 eindig, het daar ’n 360-grade omwenteling plaasgevind. En dit is wat met die nuwe episodes gevier word.”

Hoewel Donkerbos ’n TV-reeks is, het hy aangedring dat dit ook deel van die nuwe episodes is. “Dis vir baie meer film as net blote televisie; die feit dat TV die filmlyn oorgesteek het,” sê Leon.

Hy is opgewonde oor die sukses wat Hans steek die Rubicon oor onlangs by die loket behaal het. “Ek is oortuig dat meer speelfilms in viermuurteaters uitgereik gaan word, want skielik is daar weer ’n platform, ook vir onafhanklike rolprentmakers. Ek is veral opgewonde oor die flieks vanuit die bruin gemeenskap wat baie verhale het wat nog wag om vertel te word en dat daar amper 'n soort New Wave-beweging kan ontstaan, eksperimentele films wat vreesloos aangepak kan word.”

Daar doer in die fliek begin op 5 November om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook op DStv Stream op Catch Up beskikbaar wees.