Logo
Die tragiese saak van Pamina Vermaak

Pamina kom kassie toe: Bekroonde fliek eersdaags op DStv BoxOffice

Nuus
08 Februarie 2024
“Die tragiese saak van Pamina Vermaak”, die Afrikaanse rolprent gegrond op Annie Klopper se trefferboek wat by die kykNET Silwerskermfees in 2023 gedebuteer het, sal vanaf 11 Februarie op DStv BoxOffice beskikbaar wees.
Die tragiese saak van Pamina Vermaak

By die 2023 Silwerskermtoekennings vir Film en Televisie het dié romantiese komedie pryse gewen vir Carla Smith as beste aktrise, beste draaiboek (Elanie Rupping en Bibi Slippers), beste redigering (Eva du Preez) en beste kinematografie (Johannes Pieter Nel). Die tragiese saak van Pamina Vermaak is ook in die kategorieë vir beste speelfilm, beste manlike byspeler, beste vroulike byspeler, beste regisseur, beste klankontwerp, beste produksie-ontwerp en beste oorspronklike klankbaan benoem.



Die tragiese saak van Pamina Vermaak vertel die verhaal van Pamina, ’n werklose joernalis, wat terugkeer na haar geboortedorp en haar ma se huis om vrede nie net met haarself nie, maar ook met haar verlede te maak. Haar pad kruis met Wolf de Jager, ’n rocker met een trefferliedjie op sy kerfstok wat ná ’n groot liefdesteleurstelling ook na die Weskus uitwyk om te kyk of hy die ontwykende muse dalk weer kan vind.



Carla Smith is Pamina, en Christiaan Schoombie is Wolf. Ook in die rolverdeling is Lee-Ann van Rooi, Anna-Mart van der Merwe, Duane Williams, Albert Pretorius, Armand Aucamp en Rolanda Marais.

Pamina is die bekende TV-aanbieder Kabous Meiring se debuut as speelfilmregisseur. Sy sê die rede hoekom sy so graag die boek in ’n fliek wou omskep, was omdat sy versot was op die hoofkarakter en wou kyk of sy haar ook kan laat gatskop op die grootskerm.



“Ek hoop kykers kry ’n gevoel van verwondering oor die skoonheid van ons land, die klankbaan en die algemene goedvoel van Suid-Afrikanerskap,” sê Kabous. “Ons is kompleks, met nie net ’n swaar geskiedenis nie, maar ook swaar individuele verledes, wat ons deels self gekompliseer het. Maar ons kan leer om anders te kyk. Dis egter ’n ligte fliek en ek wil regtig hê mense moet dit bloot geniet.”

Dit was vir Kabous ’n persoonlike hoogtepunt dat sy in die regisseurstoel kon inskuif. “Dis een van die dinge wat ek die heel graagste in my loopbaan wou doen, en ek het dit oorleef! Nou sien ek uit na die volgendes.”

Die tragiese saak van Pamina Vermaak is van 11 Februarie op DStv BoxOffice beskikbaar.