Logo

Treffer-komedie, Hans steek die Rubicon oor, meer as R1 miljoen by die loket!

Nuus
16 Oktober 2023
“Hans steek die Rubicon oor” was #1 by 14 van die fliekteaters waar dit vrygestel is.
Hans steek die Rubicon oor film

“Hans steek die Rubicon oor”, die onvergeetlike komedie-film gebasseer op Rudie van Rensburg se treffer-roman, het reeds meer as R1 miljoen by die loket verdien, terwyl dit #1 by 14 van die fliekteaters was waar dit vrygestel is. Hierdie is ’n groot oorwinning, nie alleenlik vir fliekteaters nie, maar ook die plaaslike filmbedryf, wat sedert die Covid-pandemie erg geknou is.

Boonop is dit aangewys as die 'Beste Film' by die kykNET Silwerskermfees 2023, en resensente sowel as fliekgangers is vol lof oor hierdie "lag-met-’n-traan" film.

Hans steek die Rubicon oor, gaan oor die hardkoppige 90-jarige Hans wat deur sy vervreemde dogter Karla (wat in die buiteland woon) in ’n ouetehuis gestop word. Hans skop egter kliphard daarteen en lei ’n ouetehuisopstand teen die drakoniese matrone – ’n afgetrede tronkbewaarder. Dis ’n komedie vir die hele gesin, oor oudword op jou eie termes.

Die regisseur Corné van Rooyen sê: "Dit is ’n bewys dat Afrikaans op die grootskerm hoort. Ons wou ’n revolusie en bevrydingskreet vir ouermense teweeg bring, maar ook vir die filmbedryf. Ons wil mense saambring in teaters, sodat fliekkyk ’n grootskerm-ervaring bly."

Verskeie resensente het ook die film se lof besing:

“Dis aangrypend deur Corne van Rooyen verfilm. Wat ’n inspirerende en genotvolle rolprent!” - Leon van Nierop, RAPPORT | 4 sterre

“Hans steek die Rubicon oor stands toe to toe with some of the most notable comedies… is highly enjoyable and it is fun to watch” - Joel Ontong, NEWS24 | 4/5 sterre

“Dis ’n komedie, jy lag jou ’n papie. Die prent is ’n gesinsprent wat  oor generasies raakpunte uitlig” - Laetitia Pople, DIE BURGER

“Daar is humor, daar is patos, en vrek baie hart en siel. Jy gaan egter uitstap met ’n groot glimlag op jou bakkies. Hans is wat die Engelse ’n ‘feel-good ‘movie noem.” Reney Warrington, LITNET

Pierre van Pletzen gee gestalte aan Hans, Tobie Cronje is die skreeusnaakse Vasie, June van Merch is Baby en Sandra Prinsloo, Liesbet. Nicola Hanekom is die gevreesde Matrone, en Juan-Pierre Moller maak sy silwerskermdebute as Esmuraldus. Die verdere rolverdeling sluit ook in, Danny Ross, Bobby Stuurman, Ivan Abrahams en Karel Nel.

“Hans steek die Rubicon” is deur Red Letter Day Pictures vervaardig, in samewerking met kykNET, wat ook die treffer-reeks “Alles Malan” en die loket-treffers “Vaselinetjie” en “Hollywood in my Huis” behartig het. Die verspreiders is Indigenous Film Distribution en is NOU in teaters landswyd te sien.

Bly op datum met wat agter-die-skerms gebeur op die "Hans steek die Rubicon oor" Facebook-blad of die webwerf-tuiste.