Logo
Nataniël. Erik. Wolf.
web uni tv guide

Nataniël. Erik. Wolf.

144LeefstylPG

Totsiens, Professor Langpiet... – kykNET

Nuus
06 Februarie 2021
Dit is met medelye dat ons verneem van Prof. Langpiet se afsterwe. Sy bydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf sal vir nog lank onthou word...
Prof Langpiet Article Image

Pieter Francois Andries de Villiers is op 5 April 1935 op Krantz in die Van Rhynsdorp distrik gebore en het op Graafwater tussen Lambertsbaai en Clanwilliam  skool gegaan waar hy in 1953 gematrikuleer het.  Die naam Langpiet is sy verhoognaam wat aan hom gegee is vanweë sy lengte – in die ou taal 6vt 6 duim – en is hy nie bietjie 'n  trots op die naam nie.

Langpiet kom uit ‘n familie waar almal een of ander musiek-instrument bespeel het.  Sy pa, “Langwillem Viljee” het verskeie musiek instrumente bespeel.  Langpiet het op 13 jaar, hoewel hy nog met die drukke gesukkel het, saam met sy pa, terwyl dié viool speel, die kitaar bespeel. Toe Piet 14 jaar oud was, kom daar ‘n man met die naam van Jan Wiid verby (Piet onthou nog die rooi engelse konsertina met die been knoppies) op soek na ‘n kitaarspeler wat hom kan begelei. Hy begin saam met Jan speel en kom gou agter wat kitaarspeel alles behels. Vir ‘n musiekhonger gemeenskap is hy en “oom Jan” “net die manne” en swel die trots in hierdie 14 jarige seun waar hy musiek vir die mense maak en hulle dans. Hy kry sommer in die verbygaan ook die bynaam van “Ramkie”

Hy wou in sy lewe ook graag trekklavier speel en toets op 19 jarige ouderdom die instrument maar besluit dat,  bo-en-behalwe die “ding” se gewig,  ‘n mens nie by al die knoppies en klawers kan bykom nie.

Sy konsertina loopbaan begin toe ‘n vriend van hom ‘n konsertina op ‘n veiling vir £10.0.0 koop en een van die ander vriende die instrument vat en ‘n paar note druk. Hy vat ook die konsertina en kon binne ‘n kort tydjie “Suikerbossie” se begin speel daarom is hy vandag nog lief vir dié eerste wysie wat hy op die konsertina kon speel. 

Prof. Piet stig in 1955 die Sandveld boere-orkes waarvan al die lede jonger as 20 jaar was en in 1956 sluit hy by die Waenhuis-orkes van Willem de la Querra aan. Saam met laasgenoemde orkes is verskeie direkte uitsendings vanaf die Seepunt ateljee van die SAUK gedoen. Freddie Rheeder oorreed hom in 1958 om by sy orkes, Die Landstem Boere-orkes, aan te sluit wat musiek-agtergrond vir die radio reeks “Caltex Kaskenades’ waarin die karakters “Piet Pompies” (Pieter van der Bijl) “Jessie” (Flippie Laker) en “Johnny Peters” (Pip Friedmann)  gespeel is. Die orkes maak verskeie 78 spoed- en langspeel plate en tree baie by sosiale geleenthede op.  Hulle begelei onder andere Penny Coelen tydens haar bekendstelling aan die publiek as die nuut gekroonde Mej. Suid-Afrika van 1958 wat in dieselfde jaar ook die Mej. Wêreld titel verower het.

Prof. Piet studeer buitemuurs in Pretoria gedurende 1965 – 1972 en verwerf 3 grade, BA, BA (Hons) en 'n MA in ‘n tydperk wat hy nie aan die konsertina raak nie, maar in 1977 tel hy weer die instrument op en stig gedurende 1978 saam met Doktor Rudolph Brits, Prof. Humpfrey Du Randt, Mnr Leon Kok en Stephan Le Roux, die “Akademieks”. Hy  wen in die tyd ‘n 3¾-ry Hohner konsertina as eerste prys vir sy eie komposisie “Uppie settees”.  Hy toer in 2001 saam met die Afrikaanse Volksang en -spele beweging deur Holland, België en Engeland waar hy die volkspele groep met die konsertina begelei. In 2002 toer hy weer saam met die selfde groep na die VSA waar hulle aan die jaarlikse “International Folk Dance Festival” deelnaam. Aan die einde van die toer het almal terug verlang huistoe en het die nommertjie “Ver van die huis” die lig gesien.

Langpiet het ‘n televisie reeks, “Langpad - Op soek na Klawa Viljee” aangebied en die temalied van die program was sy komposisie “Klawa se vastrap”. By die inleiding van elke program, het hy die ou bokwagter se rympie “My naam is Klawa Viljee, bokskyn, level you, X square, O.P.M.R aangehaal.  In die program het hy oor ‘n tydperk talle musikante in hulle huise ontmoet en by talle plekke waar musiek gemaak word besoek afgelê en gesprekke met musikante oor style, instrumente en  boeremusiek in die algemeen gevoer. Prof. Langpiet was 21 jaar verbonde aan die Universiteit van Port Elizabeth.

As musikant het hy verskeie toekennings ontvang:  In 1998 en 2001 ontvang hy onderskeidelik van die Afrikaanse Kultuurraad van Port Elizabeth en die ATKV Centurion ‘toekennings vir sy bydrae tot die  bevordering van Boeremusiek. 

Op 16 Maart 2005 word hy deur die ATKV tot AFRIKOON verklaar vir die bevordering en popularisering van die konsertina en in dieselfde jaar ontvang hy ‘n sertifikaat van die ACVV Algoapark, vir buitengewone gemeenskapsdiens en bevordering van Afrikaanse kultuur en musiek. Op 10 Maart 2006 word hy vereer met die “Premier’s Merit Award in recognition with pride, the outstanding achievement in instrumental Music Development."