Logo
web uni tv guide

Plan B

144Drama13 VL

"Plan B" – ’n nuwe misdaadkomedie-reeks met ’n A-span akteurs en groot name aan die stuur

Nuus
09 Februarie 2024
Met Vosloo, Kapp, Meyer en Malherbe is "Plan B" ’n wenplan vir ’n nuwe trefferreeks.
Plan B akteurs

Dit het al die elemente van ’n trefferreeks: Van die vroeë geliefde karakters gebore in die verbeelding van die internasionale topverkoper-misdaadskrywer Deon Meyer. ’n Draaiboek deur die bekroonde Tertius Kapp. Jozua Malherbe (Devil’s Peak) in die regisseurstoel en van die land se top-akteurs voor die kameras. Onder hulle is Arnold Vosloo, wat al 33 jaar in Hollywood werk. Ná sy uitstekende spel in die rolprent Griekwastad, ook gemaak deur Kapp en Malherbe, is hy weer in Afrikaans te sien.

Plan B vertel die verhaal van ’n man met ’n militêre agtergrond, Ivan Malan, en sy vennoot, Paul Schmidt, wat ’n bendebaas beroof en die Vlammemeisie steel – ’n skildery deur die meesterskilder Vermeer wat €30 miljoen werd is. Intussen word Ragel Bergh deur die glyjakkals Joshua Lansky uit haar erfporsie geswendel. Alles lyk vir haar verlore, tot ’n kunswaardeerder Ragel se paaie met die van Ivan en Paul laat kruis. Al drie van hulle wil dieselfde ding hê: die Vlammemeisie.

“Die keuse van die spelers was ’n gesprek tussen die vervaardigers, wat Deon insluit, asook Jozua,” sê Tim Theron wat nie net in die reeks speel nie, maar ook een van die vervaardigers is. “Ons het van die begin geweet ons wil die beste moontlike mense vir elke rol kry. Vir sekere karakters het ons geweet wie ons graag sou wou vra, soos Amalia Uys, maar in ander gevalle het ons meer as een sterk opsie gehad en het die kandidate ’n oudisie vir Jozua kom doen. Alles het perfek uitgewerk, en ons het die kans gekry om saam met ’n rits uitstekende akteurs te werk saam met wie ons nog nie voorheen gewerk het nie, soos Armand Aucamp en André Jacobs.”

Interessant genoeg is die rol van die skurk Zeev Lansky (Joshua Lansky se pa) aanvanklik vir Arnold Vosloo aangebied. “Hy het gevra om die tekste te lees en laat weet hy verkies om die rol van Paul te speel, aangesien hy al verskeie kere karakters soortgelyk aan Zeev vertolk het,” sê Tim. “Dit was natuurlik nie moeilik om in te stem tot sy versoek nie.”

Plan B het meer as genoeg aksie, maar daar is net soveel humor. Dit word beskryf as ’n caper – ’n genre waar misdaad betrokke is, maar met ’n ligter aanslag en ’n storie vol avontuur, kwinkslae en sjarmante skurke. Klassieke rolprentevoorbeelde is Ocean’s Eleven en The Italian Job.

DIE HOOFKARAKTERS

RAGEL BERGH (Amalia Uys) is die eienaar van ’n boekwinkel wat deur Joshua Lansky, ’n glyjakkals en seun van ’n bendebaas, uit haar erfporsie geswendel word. Ragel het ’n liefde vir die fyner dinge in die lewe – goeie kos, boeke en musiek en wanneer dit by kuns kom, verkies sy ouer, klassieke werk.

IVAN MALAN (Tim Theron) se sin vir humor is ’n skild vir sy donker verlede toe hy lid van ’n geheime intelligensie-eenheid was. Hy het moeilike kinderjare gehad en moes van kleintyd vir homself sorg. Nadat hy amper in die tronk beland het, is hy deur Schmidt gewerf om vir die eenheid te kom werk. Sedert die ontbinding van die eenheid werk die twee mans saam om gesteelde ware vir welgestelde kliënte op te spoor.

PAUL SCHMIDT (Arnold Vosloo) span die kennis en talente wat hy by die intelligensie-eenheid geleer het, in sy later jare ten goede in. Hy is ’n wewenaar en sien Ivan as die seun wat hy nooit gehad het nie. Met ’n voorliefde vir letterkunde, kuns en teater, vind hy en Ragel gou gemeenskaplike belangstellings.

JOSHUA LANSKY (Armand Aucamp) is die bedrieër wat Ragel uit haar erfporsie swendel. Hy is die seun van ’n aartsskelm – ’n pa wat nie net sy seun emosioneel geknak het nie, maar hom ook van sy ma gesteel het. Joshua het drome gehad om ’n kunstenaar te word, maar hy het nie die nodige talent gehad nie.

MARGOT LAW (Rolanda Marais) en Joshua deel so nou en dan ’n bed, maar dit is nie die enigste ding wat hulle deel nie – al twee is ewe onseker van hulself. Margot is die middelpunt van enige partytjie en pryk gereeld as sosiale vlinder op foto’s, maar sy weet in haar hart dat dit wat sy voorgee om te wees, net skyn is.

ZEEV LANKSY (André Jacobs) is ’n bendebaas en Joshua se pa. Hy is ’n voormalige oorlogsmisdadiger en ’n man wat dink geld kan alles koop. Hoe hard hy ook al probeer, die wie’s-wie van die wêreld wil hom net nie as een van hulle aanvaar nie. Hy het gehoop Joshua gaan regte studeer en hom daarmee help om politieke invloed te kry, maar helaas is sy seun vir hom ’n reuse-teleurstelling.

Sobantu Nqayi is JOE MOROKO, ’n voormalige kollega van Ivan wat probeer om ’n nuwe lewe te lei en hoop sy verlede gaan hom nie inhaal nie. Joe is, nes Ivan, ’n ervare vegter en skut en het ’n gawe om verskillende persoonlikhede aan te neem. Hy is sjarmant en pas gemaklik in die wêreld van die superrykes in.

Wanda Banda is die rekenaarfundi KATE. Sy kan enige rekenaar kraak en is beslis die slimste in die span – iets waaraan sy hulle graag herinner. Haar hoofdoel in die lewe is om geld te maak. Sy sien vriende as ’n gevaar vir haar veiligheid. Daarom is sy meeste van die tyd op haar eie in haar stylvolle woonstel.

Dorette Potgieter is HILDEGARD, ’n kunsliefhebber wat as kunswaardeerder ’n lewe maak. Sy is stylvol, aantreklik en was al ’n paar keer getroud. Sy stel hoë standaarde vir alles en almal, en dit neem haar lank om mense in haar vertroue te neem.

Ander spelers sluit in Roberto Kyle, Devonecia Swartz, André Weideman, Anrich Herbst, Marguerite van Eeden en Dylan Williams.

Plan B, wat in en om Kaapstad verfilm is, bestaan uit vyf episodes. Die eerste episode word Dinsdag 26 Maart 2024 om 20:00 op kykNET uitgesaai. Dit sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.