Logo

Fluiters: Wie luister en wie fluister?

Nuus
21 Junie 2016
Fluiters se regisseur, Jozua Malherbe, gesels oor die maak van dié reeks in die jongste uitgawe van kykNET se Digityd.
Fluiters Jozua Malherbe

Dié artikel is ’n uittreksel uit ’n artikel in die jongste uitgawe van kykNET se digitale tydskrif, Digityd.

Fluiters vertel van die wêreld van korrupsie, wapensmokkelary en kuberkraking.

Die regisseur van Fluiters is Jozua Malherbe, wat ook vir die trefferreeks Bloedbroers verantwoordelik was.

Jozua gesels hier en hier met kykNET oor die karakters en storielyn.

Bloedbroers was ’n wonderlike uitdaging en ek het baie daaruit geleer oor hoe ek my medium aanpak en hoe ek dus ’n storie kan vertel,” sê Malherbe. “Ek het baie van hierdie lesse oorgebring na Fluiters. Die reeks is ’n spanningsdrama, maar daar is tog dinge wat met Bloedbroers oorvleuel soos vele hoofkarakters, aksietonele en groot emosionele tonele. Die groot verskil is natuurlik dat die een reeks in 1918 afspeel en die ander in 2016.

“Ek het met dieselfde span as op Bloedbroers gewerk en ons oogpunt was om ’n super moderne wêreld te skep, een wat ons almal ken en al gesien het. Ons het almal navorsing oor moderne tegnologie gedoen en wat op die oomblik met globale spioene aangaan, maar ook om vir ons ’n wêreld te skep waaruit die karakters kom.”

Malherbe geniet dit om oor wêreldsake en tegnologie te lees en tel Wired en Forbes onder sy gunsteling tydskrifte.

“Dit is vir my fassinerend hoe ons lewens deur tegnologie verander word en hoe ons privaatheid skaars word juis omdat ons almal so ‘connected’ is. Fluiters is so relevant vir almal wat ’n selfoon of rekenaar het en wys die ander kant van hierdie muntstuk. Daar word gedink dat die tegnologie se donker kant nie Jan Alleman raak nie, maar dis nie waar nie. Ek was dus van die begin baie opgewonde om by die reeks betrokke te raak.”

Sal selfs mense wat tegnologies gestrem is die reeks verstaan?

Deon (Opperman) se tekste is universeel,” sê Malherbe. “Hy weerspieël die emosies en verhoudings van mense van alle ouderdomme, rasse en kulture en dit is juis wat sy tekste so sterk maak.

Fluiters gaan ook oor meer as tegnologie. Dit gaan oor vriendskap en huwelike, oor taal en kultuur.

“Die kykers gaan beslis meer weet oor internasionale en plaaslike regulasies en hoe tegnologie teen jou gebruik kan word. Hulle gaan twee keer dink voor hulle iets op Facebook skryf…”