Logo
kykNET_Op_my_Eish!_S3_Brendan_Peyper_Slim_BB
web uni tv guide

Op My Eish!

144RealiteitPG13 L

Op my eish!-dames dolgelukkig en verlief nadat Brendan hulle huis toe stuur

Nuus
26 Januarie 2024
Gisteraand se episode van “Op my eish!” was ’n warrelwind van emosies – van intieme gesprekke en die eerste soen tot twee dames wat moes groet. Maar dié twee vroue sit nie in sak en as nie. Inteendeel, hulle het die skoot hoog deur.
Op my eish

Die episode het afgeskop met ’n lekker aktiwiteit. Ses van die deelnemers – Thelmané, Runet, Christine, Janae, Chaunte en Natasha – het saam met Brendan Peyper gaan quad bike ry. Thelmané en Runet het die geleentheid gekry om vir Brendan beter te leer ken, maar toe verras Brendan vir Janae met die eerste alleen-afspraak. Dié tweetjies het so goed oor die weggekom dat kykers op die eerste soen van die seisoen trakteer is.

Daarna het Jané, Nadia, Katja, Christine en Natasha ’n werkswinkel bygewoon waar hulle geleer het hoe om produkte van leer te maak. Brendan het die middag met die dames terdeë geniet. Hy het egter gesorg vir ’n tweede verrassing toe hy uit die bloute vir Nadia en Jané gevra het of hulle kan gesels. Tot die twee vroue se skok, het Brendan hulle in kennis gestel dat hulle reis ongelukkig tot ’n einde gekom het.

Maar nou is hulle gelukkiger as ooit. Nadia en Jané het albei liefde gevind ná die skiet van die reeks.

“My kêrel het die mooiste blou oë wat deur my siel kan kyk, én hy boer. So, ek het uiteindelik my boer gekry waarvoor ek al jare gebid het. En hy is twee keer langer as ek, wat beteken ek kan nou my hakskoene dra wat al begin stof opgaar het in my kas,” vertel sy opgewonde.



Nadia sê sy sou steeds aan die program deelneem as sy weer moes kies. “Sonder dat ek besef het, het ek my hart oopgemaak vir my kêrel en vandat ek hom ontmoet het, het ek geweet my hart is nie meer myne nie,” vertel sy.

Jané het twee weke ná verfilming haar nuwe liefde ontmoet en is ewig dankbaar dat sy deel van die reeks kon wees. “Ek weet nou meer as ooit wat ek in terme van ’n verhouding wil hê. Hy ondersteun my geweldig in al my drome en vooruitsigte en motiveer my werklik om die beste te wees wat ek kan wees,” sê sy.



“My gunsteling-ervarings in die reeks was om die pragtige Vrystaat ’n bietjie meer te verken en almal se persoonlikhede te sien. Dis vir my baie lekker om nuwe mense te ontmoet en nuwe vriendskappe te bou,” voeg sy by.

Nou is daar net tien dames oor wat Brendan se hart kan wen. Wie sal dit wees?



Op my eish! word elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Catch Up en DStv Stream.