Logo
OME S2 Slim BB Web Uni
web uni tv guide

Op My Eish!

144Realiteit13 L

Ontmoet Francois se wingman – Op My Eish!

Nuus
26 November 2021
Francois Jacobs is op soek na liefde in die nuwe seisoen van Op My Eish! en soos met die vorige reeks, het die een wat liefde soek ’n sogenaamde wingman nodig.
Schalk Bezuidenhout – Op my eish!

Wat is ’n wingman? Dis daardie vriend wat jou deur dik en dun bystaan, jou sal keer dat jy nie verkeerde besluite neem nie. Die een wat jou optel wanneer jy val en saam met jou bly is wanneer dinge goed gaan. En wie beter om dit te doen as Schalk Bezuidenhout!

“Soos die gesegde gaan: Hulle wat nie kan nie, leer ander,” sê Schalk wat onlangs saam met Francois in die fliek Kaalgat Karel te sien was. “Ek was al useless in my liefdeslewe en het uiteindelik my lewenslange pasmaat gevind, maar ek het lekker gesukkel in die verlede. Ek dink dit maak my juis ’n goeie raadgewer. Ek is ook ’n goeie luisteraar. As Francois twyfel, of ’n skouer nodig het om op te huil wanneer dinge nou regtig moeilik raak, sal ek daar wees.”

Hy sê hy is nie daar om Francois oor sy keuses te beïnvloed nie. “Hy moet kies wat sy hart vir hom sê. Ek dink so ’n proses raak al moeiliker hoe minder vroue daar oor is. Wat maak jy as die laaste drie almal wonderlik is en jy moet net een kies? In so ’n geval gaan hy ’n klankbord nodig hê, al is dit net om deur dit te praat om by die regte antwoord uit te kom.”

Schalk sê waarna hy die meeste uitsien, is om tyd saam met Francois in Mbombela (Nelspruit) deur te bring.

“Hy is Nelspruit opgesom in ’n mens,” sê Schalk en lag. “Hy verteenwoordig Nelspruit of hulle dit nou wil hê of nie. Ek dink dit is waar hy werklik in sy element gaan wees.”

Hoe weet mens iemand is regtig verlief op jou? “Wanneer jy hulle onkant betrap dat hulle net na jou staar,” sê Schalk. “Hulle begin in hulle gedagtes na plekke in die toekoms gaan.”

Hy sê die vroue wat Francois gaan kies, moet beslis avontuurlustig wees. “Hy sit nie stil nie. Hy hou daarvan om op ’n dam gesleep te word, om motorfiets te ry – enigiets wat adrenalien opjaag. Daarmee sê ek nie hulle moet presies dieselfde wees nie, want dit gaan vervelig word, maar sy moet darem nie nag en dag van hom verskil nie.”

Omdat hy self in die vermaakwêreld is, is dit vir hom belangrik dat Francois iemand kies wat hulle industrie verstaan.

“Ons is baie weg van die huis. Ons werk lang ure. Jy moet so nou en dan ’n ander vrou op die verhoog of voor die kamera soen. Jy kan nie iemand hê wat by die huis sit en kerm en kla omdat jy nie daar is nie. Jaloesie is ’n groot probleem in ons industrie. Die vrou moet dus onafhanklik wees en van die begin weet waarvoor sy haar inlaat. Jaloersbokkies gaan nie werk nie.”

Om in te skryf as een van die moontlike deelnemers, moet vroue ouer as 21 jaar oud wees en ’n Suid-Afrikaanse burger met ’n geldige paspoort wees. Hulle moet van 5 Februarie tot 5 Maart 2022 beskikbaar wees vir verfilming indien hulle een van die 12 finaliste is. Inskrywings moet bestaan uit ’n kort video, twee onlangse foto’s van jouself asook die inskryfvorm wat ingevul moet word. Al die elemente moet deel van die inskrywing wees anders word dit gediskwalifiseer. Inskrywings sluit 15 Desember 2021 en slegs digitale inskrywings sal aanvaar word.

Inskrywings sluit op 15 Desember 2021. Skryf hier in.