Logo
Nataniël. Erik. Wolf.
web uni tv guide

Nataniël. Erik. Wolf.

144LeefstylPG

Nuwe TV-films binnekort op kykNET

Nuus
03 Desember 2020
Vanaf einde Desember kan kykers uitsien na kykNET se Storiefilms-projek wat afskop.
Untitled design

Ná die sukses van kykNET se storiefilms in 2018 en 2019, het kykNET (DStv-kanaal 144) goeie nuus vir kykers – vanaf middel Desember sal daar nuwe TV-films as deel van kykNET se Storiefilms-projek uitgesaai word.

Die kykNET Storiefilms is splinternuwe TV-films van 50 minute elk wat vanaf 22 Desember 2020 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin. Hierdie TV-films word almal plaaslik vervaardig en bring van die land se beste akteurs in verskeie rolverdelings na die skerms.

Fladder, die eerste kykNET Storiefilm, handel oor ’n jong onbelese meisie wat na ’n afgetrede bibliotekaresse moet omsien.

Wanneer Mornique vir die eerste keer aan Truida se deur klop, besef sy dat dit glad nie maklik gaan wees nie. Na aan die einde van haar lewe, besluit Truida sy wil spook... in die biblioteek.

Die rolverdeling bestaan uit Franci Swanepoel, Kate Roothman en Andre Stolz. Die draaiboek is geskryf deur Kaz McFadden en André Velts is die regisseur.

“Die kykNET Storiefilms-projek is in die lewe geroep om nuwe en oorspronklike inhoud vir kykers te skep. Dit was ook belangrik vir ons ter wille van werkskepping. Die plaaslike vermaaklikheidsbedryf het, nes almal anders, ’n uitdagende jaar gehad te midde die pandemie en daarom het dit sin gemaak dat ons deur hierdie projek soveel moontlike kunstenaars, skrywers, akteurs en vervaardigers wou betrek om nuwe stories vir kykers te skep,” sê Nicola van Niekerk, Senior Bestuurder: Teksgedrewe produksies en aktualiteit.

Kuberliefde is die tweede kykNET Storiefilm uit die pen van Willie Esterhuizen wat ook die regie behartig het. Die rolverdeling bestaan uit Dorette Nel, Lara Lourens, Elma Potgieter, Kaz McFadden, Natania van Heerden, Hanli Rolfes en Pulani Sekepe.

Hanneke Human (52) is opsoek na ware liefde in die kuberruimte en kry ’n droomman waarna sy soek. Maar haar familie en vriende hou glad nie daarvan nie en beplan ’n ingryping want kuberliefde kom soms met ’n stewige prys...

 

“Verskeie produksiehuise is stewig in die saal om hierdie kykNET Storiefilms na die skerms te bring. Hierdie produksiehuise het ook die geleentheid aangegryp om kragte saam te snoer met ander vennote om sodoende oorspronklike en eksklusiewe inhoud vir kykers te skep. Elk van hierdie 50 minute films het sy eie storie en rolverdeling waarin verskillende temas tot voorskyn kom,” voeg Nicola by.

Daar sal altesaam 50 nuwe TV-films as deel van die kykNET Storiefilms-projek geskep word wat verder in 2021 ook op kykNET en later op fliekNET te siene sal wees.

“Kykers moet die kanaal dop hou vir nog aankondigings van die volgende kykNET Storiefilms waarna hulle kan uitsien,” sluit sy af.

Fladder wys Dinsdag 22 Desember om 20:00 en Kuberliefde Dinsdag 29 Desember om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).