Logo
Nataniël. Erik. Wolf.
web uni tv guide

Nataniël. Erik. Wolf.

144LeefstylPG

'n Julie propvol vermaak op jou gunsteling kanaal

Nuus
02 Julie 2021
Loer hier na wat kykNET vir jou inhou hierdie winter
HIERDIE JULIE OP

Spoorloos: Steynhof

Drama

’n Baba verdwyn van ’n plaas in die Noord-Kaap. Haar ouers word dood aangetref. Beide die oppasser en die baba is spoorloos. Wat het daardie verskriklike nag gebeur? Wie het die ouers vermoor en hoekom is die dogtertjie ontvoer? Vyftien jaar later kry haar familie die tyding: Sy is gevind.

Spoorloos: Steynhof begin op Dinsdag 6 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Lui maar op, Belinda

Die doyenne van Afrikaanse televisie, Brümilda van Rensburg, is terug met ’n tweede seisoen van die komedie Lui maar op, Belinda. Van Maandag 5 Julie gaan Belinda saam met Annetjie, Ian, Frans, Dirkie en Maggie weer kykers se lagspiere kielie.

Lui maar op, Belinda begin Maandag 5 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Kyk wie praat

Die nuwe kykNET-vermaakprogram Kyk wie praat beloof om net die regte humoristiese medisyne teen die winter te wees. Die program gaan beslis ’n kindersterretjie of drie skep en vir hope vermaak vir die hele gesin sorg.

Hoe werk die program? Daar is ’n groepie bekkige kinders tussen die ouderdomme van ses en nege aan wie vrae gevra word. Die vier volwasse deelnemers aan die program moet dan raai wat die kleingoed se antwoorde op die vrae was. Klink maklik, nè? Moenie glo nie. Kinders is heeltemal onvoorspelbaar.

Kyk wie praat begin Donderdag 22 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Dierepraters

Daar is ’n groep spesiale mense wat glo hulle kan met diere kommunikeer. In die nuwe reeks Dierepraters leer ons van hierdie fassinerende persoonlikhede ken.

Die aanbieder van die program is Daniah de Villiers, ’n aktrise en diere-aktivis. Sy word bygestaan deur Hettie Richter, ’n dierekommunikeerder. In elk van die episodes sal daar ook gepraat word met spesialiste in  onderskeie velde en sal kykers sien watter tegnieke gebruik word om te sien wat huisdiere en wilde diere dink en hoekom hulle op sekere maniere reageer. Die reeks sal ook fokus op die impak wat mens en dier op mekaar het.

Dierepraters begin Woensdag 28 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Nou toer ons

Hulle het al twee Suid-Afrika op die sportveld verteenwoordig en is die afgelope paar jaar bekend as TV-aanbieders. Daar is egter nog ’n ding wat Toks van der Linde en Breyton Paulse in gemeen het: ’n liefde vir reis.

In Nou toer ons gaan Toks en Breyton vir dertien episodes kykers op ’n reis deur Suid-Afrika en Namibië neem. Met ’n spesiale gas elke week, gaan hulle ’n wye verskeidenheid besienswaardighede besoek, aan aktiwiteite deelneem en die gasvryheid en skoonheid van suider Afrika beleef.

Nou toer ons begin op 2 Julie om 17:30 op kykNET, DStv-kanaal 144.

Jan braai vir Erfenis

Jan Braai vir Erfenis is soos braaibroodjies: Mense kry net nooit genoeg daarvan nie,” sê Jan Braai oor sy immergewilde program, wat al sedert 2011 deel van die kykNET-familie is.

Vir die nuwe reeks, wat op 3 Julie begin, het Jan en sy span op Matjiesvlei in die Klein-Karoo gaan woon en alles van bees, lam en hoender tot vrugte en groente en selfs slaai gebraai.

Die eerste van die 26 episodes van die nuwe seisoen van Jan Braai vir Erfenis begin op 3 Julie om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

OppieStoep

Vir die vyfde seisoen van OppieStoep, wat in Julie begin, is daar ’n nuwe persoon in een van die aanbiederstoele wanneer Lyntjie Jaars saam met Pietman Geldenhuys voor die kameras inskuif. Dié seisoen spog ook met ’n heel nuwe stel storievertellers.

Van die gaste wat Pietman en Lyntjie genooi het om saam te kom kuier is, onder andere, Andries Vermeulen (wat hom deesdae op die bediening toespits), Hannes van Wyk, Gerrie Pretorius, Margit Meyer-Rödenbeck, Poem Mooney, Danneline Ramsden, Wicus van der Merwe en ds. André Boezak.

OppieStoep begin op Saterdag 3 Julie om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Slank

Leandie du Randt en die span van die gewilde Slank is op 4 Julie terug met ’n sesde seisoen. Hierdie keer gaan ’n paar bekendes wys wat hulle gedoen het om die skaal te laat sak.

In die nuwe seisoen is daar vyf deelnemers met wyd uiteenlopende omstandighede en doelwitte.

Slank 6 begin Saterdag 4 Julie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Fiësta

Ons gaan weer Fiësta! In die eerste drie episodes kuier die span in Hermanus, beleef ‘n intieme Suidoosterfees en maak ‘n draai by die eerste Toyota US Woordfees Kunstenaarsweek.

Fiësta hervat vanaf Maandag 5 Julie om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Die Uitnodiging

“Verhoudings is kompleks en mense maak foute.” Só sê Cato Bekker, aanbieder van Die Uitnodiging, wat in Julie terugkeer vir nog ’n seisoen.

“Dit is wat ek uit die eerste seisoen geleer het,” sê sy. “Elkeen van ons gaan êrens in sy lewe ’n blaps maak wat ’n verskoning verg.

Die Uitnodiging begin op Donderdag 22 Julie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). kykNET&kie-kykers kan ook vanaf Woensdag 27 Julie 20:00 inskakel vir episodes.

Elders

Vir die vierde seisoen van die SAFTA-bekroonde Elders, het Erns Grundling en sy kameraspan na Namibië gereis om die land van hoek tot kant te deurkruis.

Erns sê Namibië se ongelooflike natuurskoon, onvergeetlike karakters en die mense se grenslose gasvryheid was ’n belewenis.

Elders: Namibië begin op Woensdag 28 Julie 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Winslyn

Divan Botha en die span van Winslyn is terug met goeie raad vir elke ondernemer en weetgierige entrepreneur. In hierdie nuwe seisoen kan kykers uitsien na energieke gesprekke oor innovering, kreatiwiteit, probleemoplossing, tegnologie, wetlike vereistes, bemarking en raad oor beleggings.

’n Nuwe fokus op loopbaankeuses en werksgeleenthede maak dié program ook vir jonger kykers interessant. Onderhoude met bekende sakelui, gewone mense, nuwe en ou entrepreneurs, inspireer en bring hoop vir ’n volhoubare toekoms.

Winslyn begin Donderdag 29 Julie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Toorbos

Die SAFTA-bekroonde fliek, Toorbos, word vir die eerste keer op kykNET op Saterdag 17 Julie 20:00 uitgesaai. ‘n Jong vrou, wat haar hele lewe lank al in die Knysna-woud woon, moet besluit of sy saam met die man op wie sy verlief geraak het dorp toe wil trek. As sy besluit om te trek dorp toe, sal sy alles wat sy ken en waarvoor sy lief is verewig moet agterlaat...

Met Elani Dekker, Stiaan Smith en Ira Blackenberg.

Toorbos is op Saterdag 17 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

kykNET Storiefilms

Magda Louw

Met André Weideman, Desiré Gardner, Hannes van Wyk, Gershwin Mias, Mienke Ehlers en Shimmy Isaacs

Magda moet by die ginekoloog uitkom vir haar jaarlikse ondersoek. Dié mokumentêre film gee ons ’n tong-in-die-kies, knop-in-die-keel-kykie in die lewe van ’n middeljarige, Afrikaanse vrou wat maar net kan lag oor menslike feilbaarheid, terwyl sy heimlik ’n traan stort in die uurglas van die lewe en ’n heildronk instel op die onvermydelikheid van oud word.

Magda Louw – Sondag 4 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Mike en Mavis

Met Tobie Cronjé en Amanda Strydom

Mavis Kellerman, ’n weduwee wat haarself van die wêreld afgesluit het, ontvang ’n uitnodiging na die opening van ’n nuwe bioskoop wat spesialiseer in klassieke rolprente.

Die eienaar, Mike Lewis, is ’n eksentrieke oujongkêrel met ’n ewig romantiese siel. Mavis besef gou dat Mike daarop uit is om haar hart te wen en bevind haarself aan die ontvangkant van ’n vryery in haar herfsjare. Die liefde blom oor ’n reeks van romantiese afsprake wat Mike vir Mavis reël.

Wat sy egter nie weet nie, is dat sy en Mike ’n geskiedenis deel wat lank voor die uitnodiging begin het. ’n Romantiese komedie met baie ouwêreldse sjarme.

Mike en Mavis – Sondag 18 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Monster in my kas

Met Méla Swanepoel, Dior Botha, Nicola Hanekom, Gustav Gerdener en Laré Birk

Klein dogtertjies moenie in monsters glo nie. Maar die monster in 8-jarige Tanya se kas is so eg, dit maak seer.

Hy kom vir haar in die nag, wanneer almal slaap.

Monster in my kas – Sondag 25 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).