Logo
Binnelanders S13 Slim BB Updated November 2023
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Wat gebeur alles in Julie in jou gunsteling kykNET-sepies en telenovelas?

Nuus
03 Julie 2023
Lees dié artikel vir ʼn voorsmakie van wat jy alles in Julie kan verwag in "Suidooster", "Diepe waters", "Binnelanders" en "Arendsvlei".
Suidooster 1

Suidooster: 

Dit begin lyk of Orpa Blignaut vir meeste van Ruiterbosch se inwoners ’n seëning vir die gemeenskap is, maar vir sommiges bly dit dat sy en haar man James eerder ‘n plaag is wat die woonbuurt getref het. Soos dié charismatiese paartjie al hoe meer tuis in Ruiterbosch raak, begin hul doen en lates tot verdeeldheid in die gemeenskap lei. Veral Ruiterbosch se kerk staar ‘n krisis in die gesig wanneer dit begin lyk of Siya se gemeentelede by Orpa se kudde wil inval. Siya neem ’n drastiese besluit, wat baie van sy lede ontstel... Orpa is soos manna uit die hemel soos die woord oor haar versprei, terwyl sy wonderwerke laat geskied wat almal sprakeloos laat. 

Nazeem se duistere planne met Rita raak al meer en meer duidelik, en sy is vir hom net ’n pion om wraak te neem op diegene wat hy die meeste haat. In die proses begin sy al hoe meer van die werklikheid verwyder raak, en sukkel sy om onderskeid tussen vriend en vyand te maak... Daar is katastrofiese gevolge - vir almal betrokke... 

Nuwe lede van die buurtwag word deur geveerde booswigte gejaag en hulle is baie ontsteld wanneer hulle uitvind wie agter dit is. ’n Kompetisie lei tot vriendelike uitdagings en twee lede van die buurtwag vind mekaar.... 

Diepe waters: 

In Julie begin die poppe werklik dans, wanneer 'n ou “frenemy” van die Swarts-familie opdaag met nuus wat dreig om almal se lewens te verander. Jacques word veral geteiken, en dit wil voorkom asof Gys se vendetta teen sy seun nog lank nie verby is nie. Gaan Jacques sink of swem?

Karla val in die diep kant in wanneer haar onstuimige liefdeslewe nuwe golwe in haar lewe veroorsaak. Wanneer die druk te veel word, gaan soek sy groener weivelde, maar hoe lank voor hierdie storm almal se lewens beïnvloed?

Anja en Rossouw gaan deur diep waters wanneer dinge net nie vlot wil verloop in hul liefdesverhaal nie. Gaan Sanet kan vrede maak met wat oor haar pad gebring word, en sal sy die standvastige rots kan wees waarop haar geliefdes staatmaak? 

Lettie sit met 'n probleem wanneer 'n onverwagte uitnodiging na haar kant toe kom. Maar gaan die keuses wat sy maak haar na stille waters lei? Of gaan sy meegesleur word deur die strome van die gevolge van haar keuses?

Binnelanders: 

Elise erf by Tannie Kietie en sy besluit sy wil iets goed met die geld doen. Annelize en Danny raak té betrokke by Jazzy en haar baba. Naomi vind uit wat Magda regtig van Karen dink, en Annetjie kry ’n gelukkige einde. Andrea en Thomas moet die verlede in die gesig staar voor hulle vorentoe kan beweeg, en Delia neem ’n besluit. 

Steve is bekommerd oor Vicky en besluit om Tracy se hulp in te win. Nicolette word in ’n hoek gedruk wanneer Birdy haar ’n reguit vraag vra, en iemand word met ’n mes gesteek. Annelize erken dinge tussen haar en At is finaal verby, en die ja-woord word gevra. Dawid se terugkoms sorg vir verskeie emosies, en dis tyd vir “restaurant wars”! 

Arendsvlei:  

Hierdie maand in Arendsvlei is liefde weer die top prioriteit, maar dit kom nie so maklik nie. Langes probeer sy verhouding met Ayesha uitsorteer, Ruby bevind haarself in ’n liefdesdriehoek en Rachel probeer alles om Desmond te ontstel. Dan kan ons ook nie vergeet van ’n skokkende verrassing wat by Beatrice se voordeur opdaag nie.

Langes en Ayesha sien mekaar nou al ’n geruime tydjie, maar dis tot Langes se skok toe hy uitvind Ayesha hou dit ’n geheim. Ayesha se ma, Zuleika, sien dié twee al te gesellig in die bakkery en konfronteer toe dadelik vir Ayesha. Langes het nie benul van wat aangaan nie en draai na Ayesha vir antwoorde. Langes is duidelik ontsteld, maar Ayesha probeer haar bes om niemand seer te maak nie. Tot Langes met ’n skok-voorstel vorendag kom – hy sal van geloof verander sodat hy in ’n verhouding met Ayesha kan wees. Ander mense sou bly wees, maar hierdie is net die begin van nóg ’n familiedrama.

Dis baie duidelik dat Ruby in Lennie belangstel, maar haar plan word stopgesit as Eva weer opdaag in Arendsvlei. Ruby het gedink sy maak vordering met haar en Lennie, maar nou tree Lennie heel anders op. Aan die begin van die maand deel dié twee ’n soen – Ruby is in die wolke, maar Lennie voel glad nie dieselfde nie. Gaan Lennie weer vir Eva ’n kans gee?

Dis net oorlog tussen Rachel en Desmond, maar Rachel is altyd ’n stappie voor Desmond en doen die ondenkbare. Sy beraam ’n plan om vir Bompie uit die tronk te kry – en Desmond is woedend. Rachel weet net hoe om Desmond se knoppies te druk en sy raak heel gemaklik met Bompie. Arme Adam is in die middel van als en hou glad nie van wat hy sien nie. Terwyl Rachel, Desmond en Bompie baklei, waar los dit vir Adam?

Net wanneer Beatrice gedink het dinge kan nie nog erger raak nie, daag daar iemand by haar voordeur op wat die mat onder haar voete uitruk. Ons kan nie verklap wie dit is nie, maar Beatrice is in ’n toestand van skok en woede. Gaan Clint eindelik opdaag en alles beter maak?  

Bly hierdie Julie ingeskakel op kykNET (kanaal 144) en kykNET&kie (kanaal 145) vir die nuutste verwikkelinge in Suidooster, Diepe waters, Binnelanders en Arendsvlei. Gesels ook saam op Facebook, Twitter en Instagram.