Logo
Nataniël. Erik. Wolf.
web uni tv guide

Nataniël. Erik. Wolf.

144LeefstylPG

MultiChoice stel nuwe kykNET-hoof aan

Nuus
16 November 2021
Waldimar Pelser sal vanaf 1 Februarie 2022 die leisels by Karen Meiring oorneem as M-Net Direkteur: kykNET-kanale.
Karen Meiring – kykNET

Karen tree af, maar sal steeds as konsultant vir MultiChoice optree. Sedert Karen in 2009 by die groep aangesluit het, het sy aan die spits van volgehoue innovering en verandering gestaan. Onder haar leierskap het die kykNET-kanale en -kykerstalle merkbare groei getoon.

kykNET bestaan uit vyf kanale op verskillende DStv-pakette en verseker toegang tot kwaliteit Afrikaanse inhoud vir hulle kykers en is ’n weerspieëling van die wonderlike diversiteit van Afrikaanssprekendes en hulle gemeenskappe in Suid-Afrika.

Waldimar is reeds geruime tyd ’n gevestigde naam in die Afrikaanse gemeenskap te danke aan onder meer In Gesprek, ’n aktualiteitsprogram op kykNET (DStv-kanaal 144) waarvan hy sedert 2013 die aanbieder is.

Waldimar het regte en joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en het  in 2004 ‘n meestersgraad in filosofie aan die Universiteit van Oxford behaal. Hy was onder meer hoof van Media24 se kantoor in Lagos, Nigerië en nuusredakteur van Beeld in Johannesburg. Hy is in 2013 as redakteur van die Sondagkoerant Rapport aangestel.

“As kyker, en later as aanbieder, het ek baie lief geword vir kykNET – ‘n familie van kanale wat soveel in ons Afrikaanse en Suid-Afrikaanse kultuur vind om te vier. Ek bewonder die manier waarop Karen en haar span TV maak wat soveel Afrikaanse kykers laat regop sit, laat lag en soms ook laat huil (ons sit tans vasgenael voor Nêrens, Noord-Kaap!). Dit is ’n groot voorreg om die kans te kry om te help vorm gee aan die stories oor onsself, mekaar en ons land wat ons nog moet en wil vertel.” Vertel die nuwe kanaal-hoof

Waldimar is op die raad van die Pendoring-toekennings wat kommunikasie oor al Suid-Afrika se amptelike tale ondersteun en vereer.

“Ons sien uit om Waldimar by die MultiChoice-familie te verwelkom,” sê Gideon Khobane, uitvoerende hoof van algemene vermaak by die MultiChoice-groep. “Sy ondervinding, kennis, passie en insig vir en van die Afrikaanse gemeenskap is ’n aanwins en sal hom help om verder tot die sukses van die kykNET-kanale by te dra.”

“Dit was ‘n ongelooflike voorreg om by kykNET betrokke te kon wees. Ek is baie trots op die inhoud, kanale en werksgeleenthede wat ons kon skep oor die afgelope 12 jaar. Ek koester die wonderlike geleenthede en die impak wat ons op die bedryf en die Afrikaanse landskap het. Ek is opgewonde oor Waldimar se aanstelling en het geen twyfel dat hy die kykNET familie-kanale na nog hoër hoogtes sal neem.” – Karen Meiring uittrede M-Net Direkteur: kykNET-Kanale

MultiChoice wens Karen alles van die beste toe en sien uit na die projekte wat sy in haar rol as konsultant tot lewe gaan roep.