Logo
web uni tv guide

Lottoland Help 'n Dorp

144RealiteitPG

Leah bring Lottoland-hoop na dorpe

Nuus
12 September 2023
Oktober gaan inderdaad die mooiste maand wees wanneer kykNET-kykers saam met die gewilde sanger Leah na 13 dorpe regoor Suid-Afrika koers kies om drome te help bewaarheid.
Lottoland help 'n dorp

Lottoland help ’n dorp is ’n sustersprogram van die gewilde Dankie, Lottoland en in die nuwe reeks gaan die Lottoland dorpe dwarsoor die land besoek en mense ontmoet wat ’n plan of ’n droom het om hul gemeenskap te verbeter.

Wanneer Leah, wat ook ’n voormalige Boer Soek ’n Vrou-aanbieders is, die gekose dorpe besoek, lei sy hulle aanvanklik om die bos: terwyl die betrokke organiseerders dink hulle is deel van die oudisie-rondes, is hulle eintlik reeds gekies om deel van Lottoland help ’n dorp te wees.



Hoe werk die proses?

Leah leer die dorp en sy mense ken en vind meer uit oor watter projek hulle graag sal wil aanpak tot voordeel van die dorp.

“Ons kuier by elke dorp, ontmoet die mense wat hand opgesteek het om die dorp te verteenwoordig en bereid is om binne ’n maand hul droomprojek aan te pak, en verras hul met ’n koevert van Lottoland,” vertel Leah.

Die doel van Lottoland help ’n dorp is nie net om geld te gee nie, maar ook om teenprestasie vanuit die gemeenskap te ontlok. Daarom word die inwoners vier weke grasie gegun om hul kant te bring met die geld wat beskikbaar gestel is.

Daarna besoek Leah weer die dorp om die vordering te sien. As dit nog nie klaar is nie, spring sy sommer self in om saam met die gemeenskap die projek af te handel.

“Hierdie is moontlik een van die heel beste produksies waarop ek al gewerk het. Die span is fantasties, die dorpe is lieflik en dít wat die program doen is regtig uitsonderlik. My hart loop oor van hoop en my siel is verryk. Ek geniet elke oomblik!” vertel Leah.



Die inwoners van Hofmeyr in die Oos-Kaap was die eerste om in die nuwe reeks ’n Lottoland Help ’n Dorp-vlag te kry.

Vir Leah was haar besoeke aan die kleiner dorpies ook ’n openbaring.

“Ek het geleer dat hierdie mense soveel hart het en onbaatsugtig bereid is om hul eie dorpe te help. Jy kan staatmaak op klein dorpies en daar is baie trots. Dit vat regtig net een klein gebaar om ’n groot verandering teweeg te kan bring. Mense is steeds bereid om uit te styg bo hul omstandighede in hul dorpe,” sê sy.

Natuurlik moes sy die land deurkruis na elkeen van die 13 bestemmings – sommige waarvan min mense al gehoor het of weet hoe om die naam uit te spreek. Maar ná Lottoland help ’n dorp se besoek gaan mense beslis weet waar dit is.



Waar wense waar word

Sy het van Cradock na Clanwilliam, van Beaufort-Wes na Philippolis in die Vrystaat en nog nege ander dorpie gereis. Vir sommige was daar ’n pragtige park op die wenslys, vir ander die opknapping van ’n ikoniese toeristebestemming in die Klein-Karoo. En vir die lekker Kalahari-mense van Dibeng gaan dinge eersdaags baie anders lyk...

Leah kan nie uitgepraat raak oor wat hierdie ervaring vir haar beteken nie.

“Dis regtig sielsverrykend. Dit wys net weer watter bitter mooi land ons het en hoe ons mense regtig kan saamstaan en saamwerk. Kykers sal verras wees met elke episode met die veranderinge! Hierdie program sal vir jou hoop gee.”

Lottoland help ’n dorp begin op 11 Oktober om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom op DStv Stream.