Logo
web uni tv guide

Lottoland Help 'n Dorp

144RealiteitPG

“Lottoland help ’n dorp”:  ‘Bietjie-bietjie’ maak baie vir Bloemfontein  + goeie nuus vir ander dorpe! 

Nuus
20 Desember 2023
In die 11de episode van kykNET se trefferreeks waar dorpe ’n gesonde finansiële hupstoot na verbetering kry deur samewerking in die gemeenskap te verseker, het Leah by die Stad van Rose aangeklop. 
Lottoland Bloemfontein article image

Inwoners wat self opstaan en ’n verskil maak, is waaroor Lottoland  help ’n dorp vir Maryke Haywood, Bemarkingshoof: Lottoland SA, gaan. En hierdie keer gaan die inwoners van Bloemfontein hul moue oprol om daardie verskil teweeg te bring. 

“Ek hou van die mense van Bloemfontein. Hulle is baie positief oor die pad vorentoe om Bloemfontein weer mooi te maak,” het Boeta Swart, stigter van Anchor of Hope, aan Leah gesê. 

Hy en sy vrou het 12 jaar gelede ’n bediening in Bloemfontein begin, maar wat hom hier hou is die kleindorpie-gevoel, al is dit eintlik ’n stad. Boeta vertel daar is ’n sê-ding dat wanneer jy na Bloemfontein verplaas word, jy huil . . . en die dag wanneer jy moet weggaan, dán huil jy eers. 

Anchor of Hope is in 2009 tot stand gebring om sypaadjies netjies te hou en blombeddings weer in Bloem te laat herleef. Ingange, die presidensie, die lughawe – dis alles plekke wat hulle weer wil mooi maak. 

Benewens die kontrakte om geboue en plekke skoon te maak, maak Anchor of Hope ook een keer ’n maand ’n gedeelte van die dorp skoon. Dit bestaan uit twee spanne: inwoners van die mans-skuiling en werklose mense. 

“Boeta en sy mense doen ongelooflike werk en dis oral sigbaar,” vertel Johan Snyman, direkteur: OurSA. 

“Baie mense kan ’n probleem raaksien en dan doen hulle nie noodwendig iets daaromtrent nie, behalwe om daaroor te kla nie,” sê pastoor Danie Roodt van Doxa Deo Bloemfontein. “Maar Anchor of Hope beweeg tot aksie. Hulle werk saam, hulle werk nooit teen iemand nie.” 

Boeta sê wat hy in Bloemfontein gesien het, is dat elke bietjie help. “Of iemand nou R5 gee of ’n koeldrank gee, dit maak nie saak nie. Elke ou wat help, maak ’n verskil. Bietjie-bietjie maak baie. 

“Daar’s altyd hoop, en as daar hoop is, is daar dryf. Die oomblik wanneer daar dryf is, kan ons goed verander.” 

Hy sien ook die agteruitgang van Bloemfontein in ’n positiewe lig om dit ’n nóg beter stad te maak. “Nou kan verskillende mense uit verskillende omstandighede saamkom en ’n verskil maak.” 

Boeta sê die Koningsrosepark en die Eiland is die twee parke wat hulle graag met behulp van Lottoland help ’n dorp wil verbeter. Die parke is reg langs die sogenaamde superblok in Bloemfontein waar al die sportgebeure plaasvind – van rugby en krieket tot tennis, atletiek en swem. En hy sien dit as ’n ideale ruimte vir gesinne en selfs optredes.  

Leah het die park beskryf as een wat jou nie verwelkom nie. Dis afgeskeep, maar sy kan die potensiaal daarvan sien. 

Volgens Boeta het maatskappye reeds hand opgesteek om te help en dit volhoubaar te maak as iemand net wil begin met die opgradering van die park. 

“Vir nou moet daar net reggemaak en skoongemaak word sodat mense na die park kan terugkeer,” sê Johan. Kragpunte, sekuriteitskameras en die pragtige spuitfonteine is van die items op die lysie.  

Van al die rose wat in die bekende Koningsrosetuin was, is daar nou net twee rose oor. En vir Boeta is dit een van die prioriteite – om weer die rose terug te bring. ’n Trekker om die gras mee te sny, bossiekappers, grawe en pikke is onder meer van die toerusting wat nodig is. 

Wat Leah gesien en gehoor het, was meer as genoeg om daardie groen koevertjie “vir Boeta en Bloemfontein” aan hom te oorhandig. Hy kon nie breër glimlag toe hy besef daar is R490 000 in die koevert vir hul projek nie. En toe vloei die trane . . . en Leah self moes ook ’n paar moes afvee. 

4 weke later 

Die eerste wat Leah opmerk, is die fontein wat werk. Boeta sê toe hulle eers die fontein na baie jare aan die gang gekry het, het hulle geweet alles gaan bymekaarkom.  

Ja, daar is baie hard gewerk, erken hy. Maar dit was nie net hulle nie. Die gemeenskap het bymekaar gekom en almal het gehelp, vertel hy. 

Die fontein was ’n uitdaging op sy eie. As hulle hier die water oopgedraai het, het dit daar gelek. As hulle dit op ’n ander plek oopgedraai het, het dit weer elders gelek.  

“Ek dink ons praat van olifantjies eet op ’n slag, maar ons het naderhand gevoel hier’s ’n trop olifante wat hier verbykom,” is hoe Johan dit opgesom het. 

Krane wat gesteel word, was een van die kopsere. Maar die munisipaliteit het hier na vore getree en verantwoordelikheid vir die krane oorgeneem. So is daar nog bande versterk.  

’n Sekuriteitsmaatskappy het ook aangebied om iemand te stuur om snags te patrolleer om die diefstal van elektrisiteit en ander vandalisme te help bekamp. 

Op die laaste dag van hul vier week-lange projek, beloof Boeta vir Leah dat daar 125 rose gebring gaan word en dat die gemeenskap gaan help om dit te plant. Hulle het ook ’n borgskap van R100 per roosboom van stapel gestuur. En daarna gaan daar gebraai word! 

“Ons is trots op Bloemfontein en ons wil hê Bloemfontein moet weer die Stad van Rose word, soos wat dit altyd was. Ons kan nie meer terugsit en wag vir iemand anders om dit te doen nie. Ons neem dit in ons eie hande,” vertel Anneke Anker, bestuurder: OurSA. 

Leah verduidelik die simboliek van die rose. Elke roos verteenwoordig ’n woongebied in Bloemfontein en so kom alles mooi bymekaar by die fontein.  

“Hoe kan jy jou stad geniet?” vra Lindiwe Mokoena, direkteur: OurSA. En sy gee self die antwoord: “Jy moet betrokke wees. Daar is ’n deel vir ieder en elk.” 

Mpho Mojanaga, direkteur: OurSA, wil sien dat Bloemfontein en Mangaung in die algemeen ’n beter plek en ’n skoon en misdaadvrye gebied is. Hy wil hê dit moet weer ’n gebied word wat beleggings trek en werksgeleenthede skep.  

“Die munisipaliteit het nie hul kant gebring nie, die gemeenskap het nie hul kant gebring nie. Selfs ek het nie my kant gebring nie. Maar ek is vandag gelukkig dat ons as OurSA saamgespan het met die gemeenskap en Achor of Hope om weer iets te doen,” het Lindiwe gesê. 

Anchor of Hope het ook vir Vrystaat Krieket gehelp om die pad skoon te maak, het Johan van Heerden, uitvoerende hoof van VK gesê.  

“Ons het twee internasionale wedstryde hier teen Australië aangebied en daar was 20 000 mense wat dit bygewoon het. Dit was ’n wonderlike ondervinding gewees met ’n mooi, skoon area reg rondom die stadion.” 

Die braai-area self lyk soos ’n nuwe sikspens. Die dakkies en dromme is geverf, die bankies is herstel en dis mooi skoongemaak. 

“En nou gaan ons braai,” verklaar Boeta. En daar is gebraai, geswem, gekuier en gesels. 

“Die geleentheid wat ons gekry het om te groei, is wonderlik. Dis nes ’n saad – as dit natgegooi word, sal dit groei. En hy gaan saad gooi, en hy gaan saad gooi . . .” 

Die fontein was ’n absolute treffer. Oud en jonk, Leah inkluis, het kort voor lank sommer met hul klere en al dit in die skitterskoon fontein gewaag. “Jy’s deel van die water wat lewe is,” het sy verklaar. 

Marietjie Gericke, ’n Netwerk24-joernalis kon haar verbasing oor die transformasie nie keer nie. “Jy voel weer ek het lus om te lewe, ek het ’n lied in my hart.”  

Nog ’n inwoner wat kwalik sy oë kon glo, is Charl van Schalkwyk, finansiële bestuurder: Raubex. Vir hom is dit baie lekker om te sien mense kan weer die park geniet nadat dit iets was waarop hy nie trots kon wees nie. 

Johan het op sy beurt weer ’n juweeltjie gedeel na aanleiding van ’n gesprek met ’n Sotho-oom: “Seun, die grond is partykeer kliphard, maar al wat jy nodig het is ’n druppeltjie water. Gooi net môre nog ’n druppeltjie water. So word dit sag. En jy kan naderhand kleipotte daarvan maak. So kan jy dit die moeite werd maak.” 

’n Poegaai, maar gelukkige Boeta, het die projek as net die begin beskryf. Hy is opgewonde omdat hy weet hulle kan nou vorentoe gaan en nog meer goed doen.  

“Die hele ervaring het my geleer ménse maak ’n verskil, nie ’n organisasie of ’n persoon nie. 

“Ek weet nie of LottolandSA ooit sal besef hoe groot die deposito is wat hulle in Bloemfontein gemaak het nie. Om van ’n inskrywing te gaan, wat ’n hoop is, en oor te gaan in die werklikheid was vir my net ’n amazing journey.” 

Skryf in vir “Lottoland help ’n dorp” Seisoen 2! 

Lottoland is terug met ’n tweede seisoen van Lottoland help ’n dorp – ’n program wat hoop bring na Suid-Afrika se dorpe. Skryf jou gemeenskap se droom-projek in en staan ’n kans om met behulp van Lottoland ’n verskil te maak. 

Lottoland wil vir Suid-Afrikaanse dorpe weer hoop gee met ’n tweede seisoen van die inspirerende kykNET-program – Lottoland help ’n dorp. 

In hierdie reeks besoek die Lottoland-span vir dorpe regoor Suid-Afrika en ontmoet mense wat ’n plan en ’n droom het om hul gemeenskap te verbeter. 

Dorpe wat deur Lottoland gekies word vir die reeks, ontvang befondsing vir hul droom-projekte, maar met ’n uitdaging – elke dorp het slegs vier weke om die projekte te voltooi. 

Skryf jou gemeenskap se droom-projekte in en staan ’n kans om met behulp van Lottoland ’n verskil te maak. 

Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom op DStv Stream.