Logo
Die brug S1 Slim BB

Oktober hoogtepunte om na uit te sien op kykNET en kykNET&kie

Nuus
04 Oktober 2023
Groot vermaak is op pad hierdie maand!
Oktober hoogtepunte

Die brug

Donderdae om 20:00 van 26 Oktober

Twaalf vreemdelinge moet ’n brug bou om by ’n eiland en ’n skat van R1 miljoen uit te kom. Die reeks is by die Buffeljagsdam buite Swellendam in die Wes-Kaap verfilm en die twaalf deelnemers kan nie meer van mekaar verskil nie.

Taktiek

Maandae om 20:00 van 2 Oktober

Iewers in Suid-Afrika is daar ’n dorpie genaamd Schusterton. En soos enige ander dorpie in die land, het Schusterton ’n sekuriteitsmaatskappy wat na die veiligheid van die inwoners omsien. Daar is net twee probleme: Schusterton die veiligste dorp in die land waar daar min tot niks aangaan nie en die grootbaas is in die tronk vir allerlei ongerymdhede en die sekuriteitsmaatskappy, Taktiek, is nou in die hande van sy dogter.

Straat

Dinsdae om 20:00 van 17 Oktober

Inwoners van ’n cul-de-sac in ’n middelklasbuurt, debatteer of hulle ’n muur om hulself te laat bou om die gevaar buite te hou. Min weet hulle ’n fluitjieblaser in getuienisbeskerming het pas ingetrek...

Hougaard: Die Liefling van Loftus

Woensdae om 20:00 van 25 Oktober

Ons ontmoet die voormalige Bloubul-legende en Springbokspeler Derick Hougaard vir wie sy gloriedae deesdae net ’n vae herinnering is. Die reis begin in Piketberg waar Derick as kind gewoon het. Die reeks bestaan uit ses episodes.

Lottoland: Help ’n dorp

Woensdae om 21:00 van 11 Oktober

Lottoland help ’n dorp is ’n sustersprogram van die gewilde Dankie, Lottoland en in die nuwe reeks gaan die Lottoland dorpe dwarsoor die land besoek en mense ontmoet wat ’n plan of ’n droom het om hul gemeenskap te verbeter. Die aanbieder is Leah.



Fiks of niks

Sondae om 17:30 van 8 Oktober

Ses deelnemers, elkeen met hulle eie rede hoekom hulle dit doen, verander hulle leefstyl om fikser, maerder en gesonder te word.



Gee my krag

Maandae om 17:30 van 9 Oktober

Mense in die wildernes, ver van die kragnetwerk. Ontmoet van Suid-Afrika se wilde pioniers wat ’n bestaan maak ver van die land se kragnetwerk en die gemak van die moderne samelewing.



KoppieTeeFontein

Dinsdae om 21:30 van 3 Oktober

Jak de Priester is terug met nog ’n reis deur die land en ’n koppie tee met bekendes.



4x4 met André

Maandae om 17:30 van 2 Oktober

Die bekende 4x4 spesialis André de Villiers, wat meer as 'n miljoen kilometer se 4x4 paaie al gery het, is terug met nog ’n reeks.



La’t wiel

Dinsdae om 17:30 van 3 Oktober

La’t wiel skop die nuwe seisoen af agter die stuur van ’n baie rare BMW wat jou R3,4 miljoen uit die sak sal jaag. Hulle kuier ook by die legendariese motorsportman Sarel van der Merwe.



Met ’n huppel in die stap

Woensdae om 17:30 van 4 Oktober

Die aanbieders, Bettie Kemp, Riaan Cruywagen, Jacqui January en Simon Bruinders, gesels onder meer met seniors wat verskillende avonture beleef soos 4x4-ritte, jagtogte en die neem van foto’s die wêreld oor.



Hannes aan huis

Donderdae om 17:30 van 5 Oktober

In die nuwe reeks word daar by die oud Bok-kaptein Wynand Claassen, die hartchirurg Dr. Wouter Basson, die media-magnaat Hardus Zevenster, die akteur Johan Scholtz en die atleet Elana Meyer gekuier.



Vat jou goed en trek

Vrydae om 17:30 van 6 Oktober

Henck en sy kundige span besoek 13 families wat sukkel om hulle eiedom te verkoop. In net 72 uur bring hulle veranderinge aan wat die waarde van die eiendom lig met die hoop dat dit vinniger sal verkoop.



Hier gaan ons alweer

Vrydae om 18:00 van 7 Oktober

Reeks 22 van die gewilde hengelprogram skop in Oktober af met Petri de Wet en sy gashengelaars wat die waters van die land verken en wys waar die beste plekke – varswater én soutwater – is om die groot visse uit te trek.



kykNET Storiefilms

In Oktober is daar nie net herhalings van die gewildste Storiefilms nie, maar ook van die beste kortfilms en dokumentêre wat vanjaar by die Silwerskermfees te sien was.

7 Oktober

20:00 Halwe ton dinamiet, ’n komedie met Deon Lotz, Hannes van Wyk, Daneel van der Walt, Lea Viviers en Bennie Fourie.

20:55 Teater na die mense, ’n dokumentêr oor die skrywer Adam Small se samewerking met die Cape Flats Players en hoe van sy legendariese toneelstukke opgevoer is.

21:40 Helmhart vertel die verhaal van Ragel, ’n jong verpleegster wat in Kaapstad in 1968 werk en ’n geheim bewaar: Sy’s met die helm gebore. Met Vashti Prins, Clifford Joshua Young en Megan Choritz.

14 Oktober

20:00 Nommer 5, ’n komedie oor ’n familie wat elke jaar op dieselfde plek kamp. Met Marion Holm, Chris van Nieker, Ludwig Binge en Amalia Uys.

20:45 ’n Gids vir Louzanne, ’n inspirerende dokumentêre film oor die paralimpiese-atleet Louzanne Coetzee en die gidse wat deur die jare saam met haar gehardloop het.

21:30 ’n Doop om stilte, ’n kortfilm oor Joshua, ’n graad 8-leerling en die aand van sy ontgroening by ’n seunshoërskool. Met Tiaan Luyt, Darren Cloete en Jan Combrink. Aangewys as die beste kortfilm by vanjaar se Silwerskermfees.

21 Oktober

20:00 Tannie Elsie, ‘n Storiefilm oor die stoudste en grootste rebel van al die inwoners by die aftree-oord. Met Antoinette Kellerman, Stian Bam en Hannes Brümmer.

20:50 Langafstand, ’n dokumentêr oor Deon-Lee Hendricks van Cloetesville, Stellenbosch se voorbereiding vir die landloopproewe waar die Suid-Afrikaanse span gekies gaan word om die land in Australië te verteenwoordig. Wenner vir beste regie van ’n dokumentêr by vanjaar se Silwerskermfees.

21:22 Die Swart Draak Ontwaak, met Lee Roodt, Burhaan Jardine, Taariq Jardine en Izaan du Totit, vertel die verhaal van ’n gevreesde skopbokser genaamd The Kigpin wat ’n bendegeteisterde gemeenskap met ’n ystervuis regeer, maar dan span Clifford Smith tradisonele Oosterse gevegskuns in vir ’n goeie doel.

21:47 Koors. Daardie dag elke maand wat sommige vrou vrees, tref Simone op die mees ongeleë tyd en plek denkbaar – op pad na ’n voorlegging aan ’n nuwe kliënt. Met Mandri Sutherland, Ben Albertyn en Frank Rautenbach.

28 Oktober

20:00 Nommer 54 is die opvolg op Nommer 5 en hierdie keer het die kampende Malherbe-familie meer probleme as ooit tevore. Met Marion Holm, Chris van Niekerk, Ludwig Binge en Emma van Heyn.

20:50 Die Blokke, met Gershwin Mias wat as beste akteur in ’n kortfilm by vanjaar se Silwerskermfees aangewys is, is die storie van drie jong vriende wat in dieselfde woonstelblok op die Kaapse Vlakte woon; ’n plek waar ’n lewe min werd is en werk skaars is.

21:10 As vertel die verhaal van ’n ma, Mara, wat nie oor die dood van haar lieflingskind, Elouise, kan kom nie. Mara vervreemd haarself van haar man, Rigter, en ander dogter, Hannah. Mara ontruim uiteindelik Elouise se kamer, maar vind wel ’n manier om naby haar te bly ... Roeline Daneel is as beste aktrise in ’n kortfilm aangewys vir haar spel as Mara.

21:35 Straatrotte was die gehoor se gunsteling by vanjaar se Silwerskermfees. Drie hawelose kinders maak ’n plan om geld te kry om vir die een, wat amper blind is, die nodige bril te kry – ontvoer die burgermeester van Kaapstad se papegaai ...

kykNET&kie



OmmiGhellie

Vrydae van 6 Oktober om 19:30

Die tweede reeks van die sonderlige reeks met Frazer Barry en die span wat die stories en mense van kleiner dorpies in Suid-Afrika vasvang en dieper delf om die beste storievertellers, steunpilare en hartsmense te kry.