Logo
Nataniël. Erik. Wolf.
web uni tv guide

Nataniël. Erik. Wolf.

144LeefstylPG

kykNET trek ‘n nuwe baadjie aan

Nuus
14 April 2021
Van Donderdag trek die kanaal ‘n nuwe baadjie aan met ‘n nuwe voorkoms.
Billboard 1600 x 800 (1)

Elke dan en wan het alles en almal ‘n nuwe lagie verf nodig. kykNET (DStv-kanaal 144) is sinoniem met ‘n paar dinge soos kwaliteit vermaak, Afrikaans uit die boonste rakke, die bonkige K en die kleure blou en geel.

Van Donderdag trek die kanaal ‘n nuwe baadjie aan met ‘n nuwe voorkoms.

“Die kykNET handelsmerk het oor die afgelope 21 jaar bewys dat ons nie terug staan vir vernuwing nie.  Hierdie nuwe voorkoms is verfrissend en in pas met ons wêreldklas Afrikaanse vermaak,” sê Karen Meiring, M-Net-direkteur: kykNET-kanale.

“Met die positionering van kykNET as ‘n premium-handelsmerk in Afrikaans, was dit belangrik om die grafika aan te pas om die kwaliteit van ons inhoud ook te weerspieël,” sê Leo Smit, bemarkingsbestuurder van kykNET. “kykNET is een van die grootste Afrikaanse handelsmerke in Suid-Afrika en ons is werklik trots op die impak wat die kanaal die afgelope 21 jaar op die Afrikaanse vermaaklikheids-ekosisteem gemaak het. kykNET is werklik soveel meer as net TV.”

’n Belangrike aspek van die veldtog was ’n weeklange fotosessie waartydens ons honderde kykNET-persoonlikhede voor Willem Botha se kamera gekry het, elk met twee uitrustings: ’n formele een vir die handelsmerk en een wat gepas is vir hulle program. Daar was vier dae op stel in Johannesburg by Stark Films waar Binnelanders geskiet word, en drie dae in Kaapstad by Atlantic Studios, die tuiste van onder meer Suidooster, Arendsvlei, Kwêla en Tussen Ons.

“Die nuwe voorkoms het ’n sterk fokus op die mense van kykNET – die name en persoonlikhede wat ’n mens elke dag in jou leefkamer verwelkom,” verduidelik  Hennie van Deventer van Clearwater, die reklame-agentskap wat vir die veldtog verantwoordelik is.”

Dit was ‘n enorme produksie met een vervaardiger en produksiebestuurder, ’n produksie-assistant, drie hare- en grimeerkunstenaars, twee persone wat vir die garderobe verantwoordelik was en honderde uitrustings wat gesorg dat sowat 180 kykNET-persoonlikhede voor een fotograaf se kamera geskitter het.

Dié foto’s is toe aan een hoofontwerper, twee assistentontwerpers en drie animeerders oorhandig wat honderde verskillende elemente geskep het. Een musikale regisseur, een liriekskrywer en stemkunstenaar, en een klankinginieur het gesorg vir ’n vars, nuwe klank vir hierdie elemente. Twee redigeerders het dit alles saamgesit en verpak en die hele proses is oorsien deur een kreatiewe regisseur en kopieskrywer asook een skeppende hoof.

Die temaliedjie is deur Loki Rothman en James Bassingthwaighte geskryf.

“Wat ‘n groot voorreg om vir kykNET ‘n nuwe klank te gee en saam met James aan hierdie projek te werk,” sê Loki. “Vir my was die grootste uitdaging om lirieke te skryf wat op twee verskillende maniere geinterpreteer kan word. Ons doel was om ‘n liedjie vir die kanaal te skryf wat ook op radio kan speel en op sy eie kan staan sonder dat jy eers weet dit is vir kykNET geskryf. Ek voel ek en James het die perfekte balans gekry tussen hierdie twee wêrelde. Ons kan nie wag dat almal die liedjie beleef nie.”

Die sanger en fotograaf Willem Botha was verantwoordelik vir die glansfoto’s wat gebruik word. “Dit was so lekker om deel van hierdie projek te wees.  kykNET doen altyd soveel moeite met alles wat hulle aanpak,” sê hy. “Vir my is dit altyd belangrik om elke persoon voor my lens gemaklik te laat voel. Dit weerspieël dan in die foto's. Ons land het beslis die mooiste mense in die wêreld.”

Kyk uit vir kykNET se nuwe voorkoms vanaf Donderdag 15 April 2021 op kykNET (DStv-kanaal 144).