Logo
web uni tv guide

Die Laaste Tyd Met Aleit

144GeselsprogramPG13 L

'n Lied vir Aleit – Die laaste tyd met Aleit

Nuus
21 September 2022
Om afskeid te neem van Aleit Swanepoel se laaste reeks, word 'n liedjie wat vir sy vriende geskryf is, bekendgemaak.
Die laaste tyd met Aleit

Charl Folscher is die regisseur en redigeerder van Die laaste tyd met Aleit. Charl en Aleit het mekaar geruime tyd geken voor die maak van die reeks en Charl vertel dat Aleit altyd gesê het: “Give to givers”. Hierdie lewensbenadering tydens die produksie van die reekse het hulle verhouding van kennisse na baie goeie vriende verander.

Met die maak van die Die laaste tyd met Aleit, het hulle soos gewoonlik hard gewerk, maar al wat Charl kan onthou is die lag, pret en ongelooflike oomblikke saam. Aleit is skielik in Mei vanjaar oorlede en daar is daarna besluit om tog die reeks te voltooi as huldeblyk aan hom.

“Daar was deur die jare veral ’n sterk band tussen my, Aleit en Lindi Erasmus wat nie net al Aleit se sosiale media hanteer het nie, maar ook met die nuwe reeks ’n produksierol ingeneem het,” sê Charl. 

“Ons het so baie segmente saam geskiet, dat ons amper ’n heilige driehoek gevorm het waar vertroue en ’n sterk gevoel van eenheid ons saamgebind het. Die dag toe daardie driehoek gebreek is, was ’n baie moeilike een.”

Charl sê hy het ná Aleit se dood aangeneem die nuwe reeks gaan nie voltooi word nie, maar tydens ’n gesprek met die vervaardiger, Jorrie van der Walt, het hy besef daar is ’n gevoel dat hulle dit vir Aleit moet doen.

“Jorrie was dadelik aan boord en het dit was deel van die afskeidproses gesien,” sê Charl.

Charl is ook ’n liedjieskrywer en deel van sy eie afskeidproses, was die skryf van die liedjie “Nog een keer”. Dit was ’n liedjie wat hy vir hom en Aleit se vriende geskryf het, maar terwyl hy besig was met die redigering van die laaste reeks, het hy besef hy sal dit graag in een van die episodes wil gebruik.

“Dit was redelik op die ingewing van die oomblik en daar was min tyd, maar my goeie vriend Franco Gagiano van Upper Room Studios het ingestem om te help,” sê Charl.

Die vervaardiging van Die laaste tyd met Aleit is klaar en Charl sê dit maak hom hartseer, maar tog ook verlig. “Die proses om die program te sny terwyl Aleit nie meer lewe nie, was moeilik maar tog ook ongelooflik belonend. Ek hoop hierdie laaste reeks was en is ’n waardige afskeid vir die kykers,” sê hy.

  • Jy kan na die vol-lengte liedjie luister op Charl Folscher se Spotify-rekening - die liedjie is beskikbaar teen middernag (00:00).

Spandeer jou tyd saam met Aleit met die uitsaai van die laaste episode van die huldeblyk reeks, Die laaste tyd met Aleit - dit saai hierdie Saterdag om 18:00 uit op kykNET en jy kan ook die reeks 'binge' op DStv Catch Up.