Logo

kykNET sepies en telenovelles spog met 'n groot aantal SAFTA-benoemings

Nuus
29 Augustus 2023
Een van die uitblinkers is die telenovelle "Diepe waters" wat verlede jaar Oktober begin het.
kykNET sepies

kykNET het vanjaar altesame 68 SAFTA-benoemings ontvang – dit sluit in benoemings vir televisieprogramme soos televisie komedie, dramas, en films, asook die kanaal se sepies en telenovelas.

Waldimar Pelser, M-Net-direkteur van Premium-kanale, het die volgende te sê gehad oor die groot getal SAFTA-benoemings waarmee kykNET kan spog: "kykNET is trots op die groot aantal nominasies vir programme waaraan honderde inhoudskeppers hard gewerk het. Om inhoud te maak wat dit regkry om in die bedryf erken te word én aan gehore plesier te verskaf, is nie maklik nie. Ons en ons vervaardigers sal die erkenning nie as vanselfsprekend aanvaar nie."

Die SAFTAs, oftewel die South African Film and Television Awards, vind plaas op 29 en 30 September 2023 met die groot toekenningsgeleentheid wat regstreeks uitgesaai sal word op 30 September op Mzansi Magic, kanaal 161 om 19:00. 

Hier is die lys van benoemings wat kykNET se sepies en telenovelles ingepalm het:

Binnelanders

Die sepie wat vervaardig word deur Stark Films, het nege benoemings ontvang.

Elsje Stark, die vervaardiger van Binnelanders, het gesê haar span is in hulle skik met die reeks se niks minder as nege SAFTA-nominasies. “Om genomineer te word in soveel uiteenlopende kategorieë getuig van ons span se toewyding om deurgaans ’n kyk-ervaring van hoë standaard vir ons kykers na te streef.”

Hier is Binnelanders se lys benoemings:

  • Beste prestasie in Klank: TV-sepie/ telenovela
  • Beste prestasie in Regie: TV-sepie
  • Beste Vroulike Byspeler: TV-sepie (Odelle De Wet)
  • Beste Manlike Byspeler: TV-sepie (Charlie Bouguenon)
  • Beste Manlike Byspeler: TV-sepie (Gerald Steyn)
  • Beste Aktrise: TV-sepie (Cindy Swanepoel)
  • Beste Akteur: TV-sepie (Clint Brink)
  • Beste TV-sepie
  • Gewildste TV-sepie of telenovelle (Kykerskeuse)

Suidooster

Hierdie sepie Suidooster wat vervaardig word deur Suidooster Films, spog met altesaam agt benoemings.

Volgens Wilmer Muller, die publisteitsbestuurder van Suidooster, is die produksie se hoofdoel nie om benoemings vir toekennings na te streef nie, maar om stories op só ’n manier te vertel dat dit mense behoorlik boei en veral om inklusiwiteit te bevorder. “Tog beteken dit egter baie vir elke spanlid, voor en agter die skerms, dat Suidooster weer eens ’n handvol SATFA-benoemings gekry het, want almal hier het ’n stormsterk-passie vir die produksie. Soos ons kollegas by ander sepies sal getuig, verg dit harde werk en toewyding om kykers daagliks te vermaak en met enige benoeming, word die kollig ook op hierdie toewyding geplaas.”

Hier is Suidooster se lys benoemings:

  • Beste prestasie in Hare en Grimering: TV-sepie/ telenovelle
  • Beste prestasie in Klank: TV-sepie/ telenovelle
  • Beste prestasie in Kuns/Produksie-ontwerp: TV-sepie/ telenovelle
  • Beste prestasie in Regie: TV-sepie
  • Beste Vroulike Byspeler: TV-sepie (Marion Holm)
  • Beste Akteur: TV-sepie (Irvine van der Merwe)
  • Beste TV-sepie
  • Gewildste TV-sepie of telenovelle (Kykerskeuse)

Arendsvlei

Die telenovelle word vervaardig deur Penguin Films. Hulle het drie benoemings gekry insluitend "Beste prestasie in Regie vir 'n telenovelle" waarby Roberto Kyle, Jarrid Geduld en Darryl Fuchs betrokke is.

Roberta Durrant, kreatiewe vervaardiger van Arendsvlei, het gesê: “Soos ons seisoen ses van Arendsvlei betree, is ons verheug met blydskap oor die benoeming van beste telenovelle, sowel as beste regiespan. Dit is absoluut welverdiend en ons wens hulle alle sterkte toe met die aand.”

Hier is Arendsvlei se lys benoemings:

  • Beste prestasie in Regie: Telenovelle
  • Beste Telenovelle
  • Gewildste TV-sepie of telenovelle (Kykerskeuse)

Diepe waters

Hierdie telenovelle word ook deur Penguin Films vervaardig en het altesame ses benoemings ontvang.

Roberta Durrant, kreatiewe vervaardiger, het gesê hulle is absoluut verheug dat die area’s van kamera, redigering, grimering en klank benoem is vir dié jaar se SAFTA’s. “Dit is ’n eer om te weet dat die SAFTA’s die kwaliteitproduk wat ons produksiespan verfilm, raaksien. Ons is baie trots op die professionaliteit van die akteurs en die span agter die kamera’s. Ons is veral opgewonde oor die benoeming vir beste draaiboek. Alles begin met die teks en ons span verdien werklik hierdie nominasie.”

Hier is Diepe waters se lys benoemings:

  • Beste prestasie in Hare en Grimering: TV-sepie of telenovelle
  • Beste prestasie in Klank: TV-sepie/ telenovelle
  • Beste prestasie in Redigering: TV-sepie/ telenovelle
  • Beste prestasie in Kinematografie: Telenovelle
  • Beste prestasie in Teks/Draaiboek: Telenovelle
  • Gewildste TV-sepie of telenovelle (Kykerskeuse)

Onthou, jy kan vir jou gunsteling sepie of telenovelle stem tot die 27 September 2023.

Gesels saam op sosiale media deur die hutsmerk, #SAFTAs te gebruik.