Logo

kykNET hou partytjie en jy is genooi! 

Nuus
11 November 2019
Hiér is waarna jy kan uitsien tydens die regstreekse uitsending die 15de November ter viering van #kykNET20!
Persverklaring – Artikel

Op 15 November word daar groot makietie gehou vir kykNET se 20ste verjaardag. Dit gaan ’n geleentheid wees met asembenemende optredes, kleurvolle en komiese hoogtepunte, asook ’n terugblik na waar dit alles begin het; ’n aand vol verrassings, hoogtepunte en die room van die vermaak-wêreld op een verhoog. Van toeka tot nou. Van Coenie de Villiers tot Early B.

En die beste van alles: kykers is genooi! Hierdie jollifikasie word op 15 November om 20:00 regstreeks op kykNET uitgesaai om kykers deel te maak van die viering van ’n kanaal wat juis die suksesverhaal is wat dit is as gevolg van die volgehoue ondersteuning van hulle kykers. 

Wat kan jy verwag? Wel, alles en almal – ons praat hier van 60 van kykNET se bekendste persoonlikhede! Van die aanbieders is Tracey Lange, Henré Pretorius, Hannes van Wyk, Elana Afrika-Bredenkamp, Janina Oberholzer, Leah en Kim Cloete. Ook op die program is Emo Adams, Nadia Beukes, Willem Botha, Rian van Heerden en Terence Bridgett wat ’n liedjie gaan sing oor kykNET se programme en aanbieders oor die jare.

Die klawers gaan behoorlik sing met Pedro Kruger, Rocco de Villiers, Coenie de Villiers en Clint Brink wat hulle staal gaan wys. ’n Paar kykNET-gesigte gaan sorg vir die komedie en ’n rits celebs gaan meer as net ’n paar interessante danspassies ten toon stel.

Daar is ’n Boer Soek ’n Vrou-verrassing en Hannon kom bespreek saam met Cindy Swanepoel en Bennie Fourie die filmbedryf. Die wenners van die eertydse Zing!-kompetisie, die sangpaar Johnny Davids en Vivian Molauly, tree weer vir die eerste keer in ’n lang tyd weer saam op. Sandra Prinsloo en Amanda Strydom gaan verdere glans aan die aand bring en ons finale gaan wys – Afrikaners is Plesierig.  In kort: ’n geleentheid wat nie misgeloop moet word nie. So skuif reg op 15 November en klink ’n glasie op kykNET se spesiale mylpaal.