Logo

Koekedoor-bakboek binnekort op die rakke

Nuus
05 Junie 2015
Koekedoor Bak is vanaf 20 Augustus op die rakke en kos R270.
Koekedoor-Bak-300x200

Errieda du Toit, inhoudsvervaardiger: kos van Koekedoor en skrywer van die bakboek, Koekedoor Bak.

“Haal uit die mengbak. Kry die koekpanne reg. Stof die familieresepte af. Dis weer cool om te bak.” Só lui my eerste sin in die nuwe Koekedoor-bakboek.

Soos kykNET met die Kokkedoor-reeks ’n waardering vir onthoukos gekweek het, klits Koekedoor eietydse idees by ou tradisies en tegnieke. Koekedoor bring gebak terug as iets sinvol wat die gesin kan saamdoen om nuwe herinneringe – en ’n bruisende nuwe bakkultuur – te skep.

Koekedoor voel die tien deelnemers, asook Tannie Elizabeth, Mari-Louis Guy en Tiaan Langenegger, soos ou bekendes. Ek kan verstaan dat kykers skoon hartseer is om te groet, maar gelukkig sal Koekedoor Bak ’n manier wees om hierdie mense in jou eie kombuis in te nooi.

Nou is dit jóú kans om by die Koekedoor-bakrevolusie aan te sluit, en die prettige kant van bak te ontdek.

Die boek bevat 80 resepte van die kompetisie se hoogtepunte, met ’n wye spektrum begeerlike kleingebak, groot koeke en brode. Jy gaan ver soek om nog so ’n manjifieke versameling resepte elders te kry.

Oudisiekoeke

Daar word sommer op ’n hoogtepunt afgeskop met die tien oudisiekoeke waarmee die deelnemers ’n indruk gemaak het, soos:


  • Mareli se vanieljesponskoek met witsjokolade-roomkaasganache;


  • Martjie se vanieljeframboossponskoek met makrolletjies;


  • Gerda se engeltjiekoek met sjokolademoutballejties en mandjie-weef-versiersel;


  • Gerrit se piesang-pynappel-wortelkoek;


  • Valerie se ontblote troukoek met asemrowende smaak-kombinasies;


  • Cecilia se trippel-sjokoladekaaskoek met sout-neutkaramel;


  • Murray se murgpampoentjiekoek met kardomom;


  • Caroli se toffie-en-peer warmmelksponskoek;


  • Tish se wortelkoek met verglansde vrugte, en


  • Louise se amandeltorte met meringue, framboos en basielkruid (deur die proepaneel beskryf as een van die opwindenste koeke uit die honderde oudisiekoeke!)






’n Bakfees van ’n boek


  • Die tuisgebak-resepte bied ’n vars kykie op nostalgiese gunstelinge soos piesangbrood met pekanstreusel, grondboontjiekoekies en telefoonpoeding-kolwyntjies.


  • Die kleinkoekie-hoofstuk gaan jou koekblikke volhou (ek het Tish se Monte Carlo-koekies seker al tien keer gebak!).


  • Bou ’n spoggerige bakreputasie met pronkgebak, van Mareli Visser se pikdonker sjokoladekoek met oblietjieskerwe (waarmee sy die basaar-episode gewen het), tot haar “Beste Dag Ooit” –troukoek, waarmee sy die kompetisie gewen het.


  • Martjie Malan se top-gebak seëvier ook in die boek, met spesiale meesterklasse vir makrolletjies, sierkoekies en petit fours.


  • Ontdek die koeksister-geheime van Gerda Swanepoel, en maak Gerrit se manjifieke dekoratiewe druiwetert.


  • Word bakfiks met fyngebak-resepte soos Mari-Louis se Battenbergkoek, Jodekoek met framboosmalvalekkers, haar suurlemoen-meringuekoek vir die engele (“gee jou eie koek vlerke”), Tiaan se roompoffertjies met karamelkragies en Tannie Elizabeth se vindingryke mini-randkoekies.


  • Daar’s matrasbrode, gesnipperde platblaarbrode, roosmaryn-heuningdeelrolletjies, sjokoladeskeppings, opgerolde-, onderstebo en albasterkoeke en terte.






Glansgebak van gaste

Nog ’n bonus is die moet-bak-resepte van die glansgaste wat Episode 1 van die reeks so opwindend gemaak het. Wie kan Herman Lensing se sjokoladekoek met bladgoud vergeet (waarmee Gerda haar mooi rooi stoof gewen het)? Of Carmen Niehaus se aardse kykie na die ikoniese wortelkoek, wat sy versier het met ’n groentetuintjie?

Almal wou na hierdie episode die indrukwekkende spiraal-groentetert bak wat Daleen van der Merwe van Human & Rousseau gemaak het – en daarom is dit ook in die boek. Johnny Hamman se onderstebo-uietert met spek-roomys sorg vir iets spoggerigs sout. Bak Wade van der Merwe se suurlemoen- en papawerkoek, Jacques Erasmus se klassieke Franse gateau success, of die glutenvrye rumkoek van Callie Maritz. Katrien van Zyl se ragfyne mini-koekies, wat Murray so laat bewe het, is ook daar!

Daar is pragfoto’s by elke resep, en ’n uitgebreide hoofstuk vol flatervrye vulsels, versierings en basiese bakwenke sorg verder vir baksukses.

Na my ervaring om op die nuwe Koekedoor-stel omring te wees met die bakmal-deelnemers en inspirerende beoordelaars, bak ek weer dat die meel stofwolke maak. Mag jy ook bakkoors kry en mag jou koeke van jou ’n ster maak – in jou eie kombuis.

Groete,
Errieda

Koekedoor Bak is vanaf 20 Augustus op die rakke en kos R270. Dit word deur Human & Rousseau uitgegee. Die fotograaf is Myburgh Du Plessis, Caro Alberts het die smulmooi-stillering gedoen en Christine Capendale het die resepte getoets.