Logo
#LoveMySelfie

Afrikaanse film oor vriendskap, tweede kanse binnekort in fliekteaters

Nuus
15 Februarie 2024
Johannesburg, 15 Februarie 2024 - Die langverwagte dramedie, “#Lovemyselfie”, maak gereed vir sy nasionale vrystelling op 8 Maart. Na 'n suksesvolle fliektoer aan die kus en in Midrand, word die fliek by 15 teaters regoor die land vrygestel.
#LoveMySelfie

Melanie Williams, Hoof van Bemarking by Nu Metro, het haar entoesiasme uitgespreek en gesê: "Ons is opgewonde oor die vrystelling van #Lovemyselfie. In die lig van die veranderende mark na Covid-19, het Nu Metro die noodsaaklikheid besef om plaaslike industrie te ondersteun.  Ons hoop dat hierdie fliek by gehore sal aanklank vind en die ondersteuning sal kry wat dit verdien."

Gehore kan 'n mengelmoes van emosies verwag, van bittersoet tot lag-uit-maag oomblikke. #Lovemyselfie belowe pure vermaak met hart. Die fliek spog met 'n uitstaande rolverdeling wat Illse Roos, Kevin Smith, June van Merch, Hélène Truter, Joannie Combrink, en Lida Botha insluit.

Die regisseur, Lika Berning, het haar opwinding oor die teater vrystelling uitgespreek en gesê: "Ons kan nie wag dat gehore binnekort #Lovemyselfie in teaters sal kan ervaar nie. Daar is nie ’n beter manier om ’n fliek te geniet as in ’n donker fliekteater sonder afleidings nie. Ons hoop dat mense weer die ervaring van fliek-toe-gaan sal herontdek”.

Naas die hoofrolspelers, bied die fliek uitsonderlike talent in ondersteunende rolle, insluitende TikTok-sensasie Chané Grobler, komediant Moses Williams, Robyn Scott, Chanelle de Jager, Chris van Niekerk, Thokozile Ntsinga, en 'n kamee-vertolking deur die mede-vervaardiger Kurt Darren.

Oor die fliek:

#Lovemyselfie volg die verhaal van plaaslike TV-ster, Adele Swan, wat, nadat sy die verraad van haar verloofde ontdek het, 'n reis van self-ontdekking aanpak. Wanneer sy 'n kans kry om haar finansiële stabiliteit te herwin deur die gesig van 'n veldtog op 'n luukse plesierboot te word, raak Adele verstrengel in onverwagte avonture en herontdek sy ou verhoudings.

#Lovemyselfie maak geskiedenis:

#Lovemyselfie het geskiedenis gemaak as die eerste Suid-Afrikaanse bemanning om 'n fliek op 'n MSC plesierboot te verfilm. Ten spyte van die uitdagings om deur die nag te werk om nie vakansiegangers te pla nie, het die rolverdeling en bemanning hul van hul taak gekwyt en altyd professioneel gebly.

"Ek kon nie vir 'n beter film en akteursspan gevra het nie. Ten spyte van lang ure, waar ons tussen 11 uur in die aand en 6 uur die oggend verfilm het, het die span professioneel en positief gebly, en dit wys regtig op die skerm. Die ondersteuning van Ross Volk en sy fantastiese span by MSC Cruises het ’n groot verskil gemaak; ons is werklik dankbaar dat hulle dit moontlik gemaak het," het Berning gesê.

Ross Volk, Uitvoerende Direkteur van MSC Cruises Suid-Afrika, het kommentaar gelewer op die vennootskap en gesê: "Ons is verheug om saam te werk met die span agter #Lovemyselfie. Hierdie vennootskap beklemtoon ons toewyding tot die ondersteuning van plaaslike talent en stories, veral in die lig van die uitdagings wat die filmbedryf in die gesig staar as gevolg van die COVID-19-pandemie."

Die fliek sal vertoon word by uitgesoekte Nu Metro- en Ster-Kinekor-teaters regoor die land, insluitende Nu Metro Ballito, Boardwalk, Canal Walk, Clearwater, Loch Logan, Menlyn Park, Woodlands, Welkom, en Worcester, sowel as Ster-Kinekor Brooklyn Mall, Garden Route Mall, Somerset Mall, en Tygervalley, en by die Movies@ groep se The Ridge Casino en Silver Star Casino.



Kaartjies sal beskikbaar wees via normale teaterkanale.

#Lovemyselfie word direk versprei deur Advantage Entertainment en sal  vrygestel word op 8 Maart 2024. Bly op datum deur die fliek se sosialemediablaaie te volg vir meer inligting.