Logo
Die Hof – Billboard Slim
web uni tv guide

Die Hof

145RealiteitPG13

Die Hof binnekort op die kassie – en beloof hope vermaak

Nuus
27 September 2021
kykNET & Kie se splinternuwe arbitrasie-realiteitsreeks, Die Hof, begin 13 Oktober 2021 – en beloof om hope drama na die kassie te bring!
1 2

In Die Hof stel twee partye hul sake aan die Arbiter, waarna sy die gegewe bewyse opweeg en ’n regsbindende besluit neem. Die waarde van elke geskil beloop nie meer as R20 000 nie.

Daar is familielede wat baklei oor geld, ’n verdagte motorwerktuigkundige wat mense inloop en selfs twee plaasboere wat baklei oor die testikels van ’n bul!

Maar volgens Debby Schulman, vervaardiger van die program, is die lekkerste saak waaraan die span gewerk het, dié van twee vriende van Kaapstad.

“Die twee vriende was kwaad vir mekaar en het daarop aangedring dat hulle nie naby mekaar sit voordat die saak aangehoor word nie. Ons het toe die saak opgeneem en ná die tyd, was dié twee weer hul ou selwers – lekker gelag en langs mekaar gesit op die vliegtug op pad huistoe!” vertel Debby.

Alhoewel hierdie die lekkerste saak was, was daar ook oomblikke waar die vervaardigers behoorlik gesnak het na hul asem. “Daar is gravitas aan die werklike arbitrasies wat jy in jou bors kan voel,” vertel Debby.

Voormalige polisiespeurder, Advokaat Suzie Gordon is Die Hof se Arbiter. Sy is ook ’n gekwalifiseerde forensiese ondersoeker en verdedig al jare lank die buiteperd in arbeidsake.

Suzie sê sy sien uit om meer mense te help en om ’n maatstaf te kan skep waarmee die howe hul produksie kan verbeter.

“Ons moet die kwaliteit van die howe verhoog, om die gewone bloot te stel aan die funksionering van die howe. Die regsproses is duursaam en Jan Alleman beskik nie oor die finansies om ’n persoon wat hom skuld, agterna te sit nie. Die Hof skep ’n geleentheid vir die gewone verbruiker om hul klein eise na hierdie hof te verwys. Geen onnodige uitstel van sake, wat somtyds nie bekostigbaar is aan die Eiser nie,” sê Suzie.

Kykers van regoor die land kan ook met hul regskwessies via video inbel om advies in te win van die Arbiter.

Die Hof is vanaf 13 Oktober 2021 om 20:00 op kykNET & kie, DStv-kanaal 145.