Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Jou sepies in Mei-maand

Nuus
06 Mei 2022
Hier is waarna jy kan uitsien.
GMR s06 ep214 05151

Binnelanders

Kupido en die winde van verandering waai sterk deur die gange van Binneland-kliniek, net voor die nuwe seisoen volgende maand sy verskyning maak. 



Uys is beslis nie so stadig soos wat almal dink nie – maar hy mag dalk Rian se hulp benodig. Martin se besluit kan Chanel se toekomsdrome verander, en Karen moet haar nuwe verhouding in die weegskaal laat hang, want as sy nie iets vinnig doen nie, gaan sy dalk die man van haar drome baie vinniger verloor as wat sy dink. En om alles te kroon, staan At alweer in die pad van Annelize se geluk – of dalk net mooi andersom. 



Terwyl Kupido spartel om sy arsenaal van pyle by hulle regte teikens uit te kry, is daar ook groot omwentelinge in ’n raadsaal. Daar is nie regtig tyd vir geheime agendas wanneer die hospitaal se reputasie aan ’n dun draadjie hang nie – en Annelize se plan met Jeremy Gavins is net die begin van ’n hele paar skokgolwe wat deur die gange van Binneland-kliniek gaan eggo.

Binnelanders is weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).
 
Suidooster

Daar is groot hartseer in Ruiterbosch wanneer Simon sterf, maar vraagtekens hang oor hoe hy dood is. Het Danni die moed gehad om haar pa se wens te vervul of het iemand anders hom gehelp?



’n Nuwe gesig in Ruiterbosch gee vir Wade vlinders, en dit lyk of hy Anker se kroegman dalk ’n nuwe liefde gevind het. Ja, Angie mag dalk net die perfekte pasmaat vir Wade wees, wat al soveel hartseer in verhoudings gehad het.

Dinge lyk egter nie baie rooskleurig vir Tim en Zoë se huwelik, wat voor nuwe uitdagings te staan kom, nie. Het Bridgette ’n plan om finaal Tim se houvas op Zoë te breek en terselfdertyd van hom ontslae te raak by JPD?



Rhafiek se verlede kom spook ook by hom, wat moontlik sy verhouding met Kaashifa in troebel water kan laat beland. 

Suidooster is weeksdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET & kie (DStv-kanaal 145).

Getroud met rugby

Jordan en Bibi se huwelik vat ’n knou wanneer Bibi uitvind van Jordan en Amanda se soen.



Anastasia kry die skok van haar lewe wanneer sy uitvind sy is swanger ­– met Ryno se kind. Ten spyte van al die uitdagings, besluit hulle egter om die kind saam groot te maak.



Asof Lulu se lewe nie swaar genoeg is met ’n man in die hospitaal en twee babas om na om te sien nie, word die mat heeltemal onder haar uitgeruk wanneer sy baie moeilike nuus ontvang.



Pine neem ’n drastiese besluit, terwyl onwettige dwelms ontdek word. Speursersant Breytenbach is vasbeslote om uit te vind wie die dwelms in sy besit gebring het.



Die waarheid oor Amanda se eerste aanval word op die lappe gebring, en Jana spoor ’n Riana Duvenhage op, ’n skoolvriendin wat ook die suster is van Schalk se oorlede vrou Lanie.



En die Stryder-gemeenskap maak gereed vir hulle eerste groot danskompetisie, die “Fabulous Vastrap.”

Getroud met rugby is weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Onthou om weeksaande in te skakel vir jou gunsteling kykNET-sepie en ons saam te gesels op FacebookTwitter en Instagram deur die hutsmerke #kykNETGMR, #Suidooster en #Binnelanders te gebruik.