Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Donker geheime, nuwe geleenthede en meer op pad in Afrikaanse sepies

Nuus
03 Januarie 2023
Hierdie Januarie word vele geheime bewaar, maar is dit die regte ding om te doen?
Afrikaanse sepies

Binnelanders

Karen word onwillekeurig by Armand en Stiaan se sake betrek en dit lei tot groot amok in die hospitaal. Elise ontvang ’n onverwagse besoeker, Annetjie is bekommerd oor Snoet, en hulle word betrek in ’n plan om meer geld te verdien.

Nuus oor ’n ineenstorting versprei soos ’n veldbrand. Naomi en Louis besef Thalia is nie so onskuldig soos wat hulle dink nie, en sy ontmoet Uys se broer, Lood. Tertius soebat vir Annelize om ’n geheim te bewaar.

Gaby kry onstellende nuus oor Koos, en sy blameer vir Karen. Lexi word in die hospitaal opgeneem, en haar lewe is in gevaar. Steve en Ewa maak vir die eerste keer in ’n lang ruk weer kontak, en Soekie Kellerman daag op om ’n testament te betwis. Liam is die ooggetuie van ’n aanranding, Elise wil bedank, en Annetjie vrees vir haar lewe.

Binnelanders is weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Diepe Waters

In Januarie raak dinge vuurwarm in Diepe Waters, en die troebel waters vloei in 'n stormagtige see...

Die Rossouws ontvang 'n nuwe – en interessante - gas, wat spanning veroorsaak met meer as een lede van die huisgesin. Rossouw moet doodeenvoudig net 'n baie moeilike gesprek begin, maar hoe dit eindig is iets wat selfs Mills & Boons lesers sal laat ongemaklik giggel langs 'n swembad.

Johan is 'n man met 'n missie, maar is dit sy passievolle ambisie, of sy passievolle aggressie, wat hom dieper in die diepkant laat spring? Karla is gereed om 'n nuwe lewe in 2023 vir haarself uit te kerf, maar sal 'n splinternuwe afrigter dalk haar drome in die wiele ry? Sanet maak beslis nie 'n moordkuil van haar hart nie, maar groot besluite dra ook groot gevolge - en nie almal kan daardie prys betaal nie. 

Stilbly is ook 'n antwoord, maar wanneer dit beteken dat reg en geregtigheid nie sal geskied nie, is dit regtig die beste keuse? Tshepo dink nie so nie, maar hy word die dood voor die podium gesweer indien hy nie sy mond hou oor wat regtig gebeur het by die klubhuis nie. Wat staan 'n man te doen as hy weet iets is nie reg nie, en niks daaromtrent doen nie? Dit is ook 'n vraag waarmee Tommy sukkel, veral na sy ontdekking...

Zelda vang meer as een prooi in haar wip - en dit gaan nie net oor haar indirekte houvas op Johan nie. Pam is gelukkig nie onder 'n kalkoen uitgebroei nie, maar sal sy kan deurdruk om die waarheid te hoor - en iets daaromtrent te doen? Daardie koppie tee waarna sy al die jare smag gaan begin koud raak as sy nie onmiddellik iets omtrent die saak doen nie, en Bybie se ontdekking maak dinge nie makliker nie.

Lettie en Nomsa staan gereed om Pam te help voorberei vir haar groot ontmoeting, maar op die ou einde van die dag is dit net Pam wat aan daardie deur sal kan klop - en wag om te sien of dit oop sal gaan!

Gys se probleme ken geen einde in 2023 nie. Hoe lyk dit dan asof Meghan weet wat sy doen, en dat daar iets baie groot is wat Gys nie van bewus is nie? Wanneer 'n boedel uiteindelik afgehandel word, is die onverwagse nuus 'n skok vir die sisteem - en nie net vir Gys nie. Beteken dit dat hy aan sy drome sal kan werk in die nuwe jaar - of is dit tyd om nuwe drome te begin droom?

Diepe Waters is Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Suidooster

Ruiterbosch se inwoners is opgewonde en gereed vir die nuwe jaar wat wag! Almal probeer ‘n skoon blaadjie omslaan, maar sommige inwoners dra nog bietjie swaar aan ou bagasie.

Só moet die Samsodiens spoke uit die verlede in die gesig staar, terwyl Keith verder in Justin se slaai krap. Tog bring 2023 ook nuwe geleenthede, en Zoë kry die kans om haar vlerke te sprei.

Nazeem raak betrokke by ’n JPD projek en verbaas almal met sy toegewydheid en entoesiasme. Maar ‘n jakkals verander mos nie van haar en nie  van snaar nie, of hoe?

Daar’s ook liefdesdrama wanneer Wade weer begin om iemand in die geheim te sien, want sy vriende en familie mag dalk net vuur daaroor spoeg.

Linda is terug en Bennie begin 'n lewe te beplan wat meer as net die buurtwag en sy stokperdjies behels…

Suidooster is weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET & kie (DStv-kanaal 145).

Arendsvlei

Dis ’n nuwe jaar en Arendsvlei het geen behoefte aan nóg skokkende nuus nie, want dié maand, is daar een skok ná die ander een.

Kykers het al vir Xander ontmoet, maar met tyd raak Nicolene en Xander baie geheg aanmekaar en dit laat vir Beatrice bekommer. Sy probeer vir Hein oorreed om ten minste net vir Xander te ontmoet, nie net omdat hy en Nicolene geheg raak nie, maar omdat hy ook by die bakkery werk. Maar toe Clint op sy eie self begin krap, kom hy iets agter wat hom tot in sy binneste geskok het. Hy vertel vir Nicolene en Kaptein Karelse, maar die nagevolge daarvan sit nie net hulle lewens in gevaar nie, maar ook Xander s’n. Moet ons weer begrafnis hou in die Vlei?



Asof daai nie genoeg mens se senuwees die dak in laat skiet nie, daag ’n onbekende persoon by die George Cupido-dag op wat die Cupido’s lewens vir altyd sal verander. Kyk, nie eers Ma Laetitia het dit gesien kom nie! Beatrice en Thys probeer uitvind wie dié man is en of hy die waarheid praat. Eers bly die man stil, maar dan kom hy by Aunty Gertie uit en sy verdwyn vir ’n hele paar dae…

Gepraat van Ma Laetitia, sy en Parra is terug vir wie weet watookal. Maar terwyl hulle gedink het hulle kom in vrede, daag nóg ’n onbekende persoon in die Vlei op en laat vir Ma Laetitia in ’n totale toestand. Parra probeer help, maar vir die eerste keer is Ma Laetitia so vreesbevange dat sy nie eers ’n woord uit kan kry nie. Die geld wat hulle het, besluit hulle om vir Petra te gee om te hou sodat hierdie persoon nie daarby uit kom nie. Maar nie eers ’n paar dae later nie, en die geld is skoonveld. Nie Petra, Parra of Ma Laetitia weet wie dit gesteel het nie. Is Parra en Ma Laetitia se lewens wéér in gedrang?



Emile het mos nou vir almal belowe dat hy dié keer oor wil begin en dinge reg doen. Maar dit hou glad nie lank nie. Aan die begin van Januarie vind hy uit Janice is swanger en is heeltemal verras. Langes laat weet vir Emile dat hy vir Janice instaan vir ’n tydjie, maar soos tyd verloop, besef Emile, Langes weet nie dat Ayesha, Janice en Lionel se surrogaat is nie en hy kom agter dié twee gaan op ’n paar afsprake. Emile besluit dit is sy reg om vir Langes te vertel dat Ayesha swanger is. Sal dit nou Langes en Ayesha se moontlike verhouding kelder?

Arendsvlei is weeksdae om 19:30 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145).

Onthou om weeksaande in te skakel vir jou gunsteling kykNET-sepie en ons saam te gesels op FacebookTwitter en Instagram deur die hutsmerke #DiepeWaters, #Arendsvlei, #Suidooster en #Binnelanders te gebruik.