Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Augustus-winde bring lief en leed na jou gunsteling kykNET-sepies!

Nuus
31 Julie 2020
Ons wonder wat tydens Augustus gaan gebeur in jou gunsteling sepie… Lees die artikel vir al die ‘spoilers’.
Article Header

Getroud met Rugby:

Die maand van Augustus verseker heelwat intrige, romanse én drama in Getroud met Rugby. Maryke ervaar ongewone simptome in haar lyf en sy besluit uiteindelik om dokter toe te gaan. Sy ontvang slegte nuus oor haar gesondheid en die Stryder-gemeenskap hou asems op wanneer sy ’n lewensgevaarlike operasie ondergaan. ’n Nuwe band vorm tussen Maryke en Magda ná ’n verrassende onthulling…


Bart neem ’n besluit oor Mia en Renate en Wynand gaan deur ’n moeilike tyd.


Iemand uit Reitz se verlede daag by sy huis op en hy neem ’n belangrike besluit oor sy toekoms.
Anna maak ’n groot aankondiging en Candice verbrand haar vingers met haar twee werke.
Die nuwe, borrelende familie-vriendin van Festus en Koekie, Euvoniqué (oftewel Nesie), trek by die Beltrame’s in en neem die GMR-familie oor. Sy droom daaroor om “famous” te wees, maar ná ’n mislukte verhoog-oomblik in Pottie’s, besluit sy om by die pompoms aan te sluit. Sy laat smelt uiteindelik ook ’n teddiebeer-Stryder se hart…

Anton toets Ryno en Thinus se huwelik. Sal ware liefde oorwin?
Jordan raak halsoorkop verlief en Simon en Lulu besluit dit is tyd dat hul ouers mekaar ontmoet.


Blitz en Lienkie besluit dis tyd om eerlik met Johan te wees… 

Suidooster:

Imraam maak ‘n voorstel wat Kaashifa ongemaklik maak. Wade worstel met ‘n moeilike besluit. Nazeem ontdek iets wat sy bloed laat kook. ‘n Storm teister Ruiterbosch en het ‘n vreemde uitwerking op almal. Tim kry skokkende nuus en AB voel skuldig oor Farah. Joy veg om staande te bly. Dit lyk of Bridgette en Chris se geheime plan gaan werk. Mymoena vind uit waarmee AB besig is en konfronteer hom daaroor.

Binnelanders:

Okkie Ferreira se diagnose is 'n skok vir nie net sy sisteem nie, maar ook vir sy familie en vriende. Behalwe dat hy moet besluit of hy die operasie wil ondergaan om sy toestand te probeer verbeter, begin hy vrae vra wat nie altyd maklik is vir enigeen om te antwoord nie. Okkie is 'n vegter en met die diagnose kom 'n nuwe lus vir die lewe ook, maar of hy die tyd gegun gaan word om hierdie nuwe lewenslus met mening uit te leef is 'n ander saak.

Annelize Roux-Koster kom by 'n kruispad wat dit vir haar moeilik maak om 'n rigting te kies. Want wat gebeur wanneer alles waarvoor jy gewerk het by jou weg geneem word, en jou lewe in 'n oogwink verander? Annelize gaan 'n nuwe manier moet vind om uiting te gee aan haar innerlike demone, want wanneer sy begin losbrand op die personeel van Binneland Kliniek om uiting te gee aan haar emosies en gepaardgaande frustrasies is daar meer as een vriendskap en werksverhouding wat in die kruisvuur beland. 

Sergio de Freitas is nie onbekend met trauma nie, want in sy lewe het hy al baie deurgemaak. Hy het 'n passie vir 'tactical medical training' en leef sy passie uit deur 'n kursus waarmee hy by Binneland Kliniek beland. Maar dit is nie net hierdie rigting van die mediese veld wat hom dryf om die beste uit die lewe te kry nie - hy het ook 'n jarelange raaisel waarvoor hy antwoorde soek! Hierdie raaisel bring hom by Binneland Kliniek uit, en dit is hier waar hy hoop om die antwoorde te kry wat sy siel sal laat rus. 

Elana se pendel-bestaan tussen haar huis en haar oorlede suster se huis kom met 'n prys, en Steve begin al hoe meer bekommerd raak oor die prys wat dit op hul verhouding plaas – nie eers te praat van die druk nie. Wanneer daar 'n geleentheid opduik om die probleem aan te spreek, is daar groot besluite wat geneem moet word wanneer dit kom by Vicky en Ruan de Beer (Elana se susterskinders) en waar presies hulle in die toekoms gaan inpas.

Die weë van die liefde verloop nie altyd so seepglad in Conrad Bester se lewe nie – veral nie wanneer hy vasgevang is tussen die gerustheid van die verlede en die opwinding van die toekoms nie. Wanneer die verlede en die toekoms dus vir mekaar begin naels wys, is daar nie veel wat Conrad kan doen as om te kyk hoe dit uitspeel nie, maar tog: hoe kies 'n man tussen dit wat bekend is, en dit wat onbekend is? Is daar spasie om beide wêrelde te verken?

Onthou om weeksaande in te skakel vir jou gunsteling kykNET-sepie en ons saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerke #kykNETGMR, #Suidooster en #Binnelanders te gebruik.