Logo
Diepe waters
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13

‘n Vuurwarm November lê voor in jou gunsteling kykNET-sepies en telenovelas

Nuus
01 November 2023
Lees hier vir meer inligting oor wat voorlê vir die karakters in “Diepe waters”, “Arendsvlei”, “Suidooster” en “Binnelanders”.
Binnelanders 5

Arendsvlei

Terwyl daar ’n paar ou gesigte weer ’n draai kom maak in Arendsvlei, leer die gemeenskap ook nuwe mense ken. Lee-Roy daag onverwags op, terwyl Calvin op sy eie manier Lee-Roy se wêreld kom ontstig. En dan ontmoet Beatrice iemand spesiaal…

Vroeg in November klop Lee-Roy aan Janice en Lionel se deur en dit is alles behalwe gelukkige tye. Janice se huis is heeltemal somber vandat hy daar opdaag, maar Daniel help hom uit die put. Hy gee vir Lee-Roy inspirasie om ’n teaterstuk te skryf en soos die tyd verloop, is hy hard aan die werk en wil selfs die teaterstuk by die skool opvoer. Maar een van die mense wat kom oudisie vir die stuk, maak ’n onverwagte impak op Lee-Roy wat tot ’n soen lei.

Cupid sprei weer sy vlerke oral in Arendsvlei, want Sasha por vir Beatrice aan om op ’n romantiese afspraak te gaan. Clint daag ook altyd net te laat op as Beatrice hom nodig het. En hierdie keer loop hy sommer in op Beatrice se romantiese afspraak. Hein neem sake in sy eie hande en moedig vir Clint aan om alles in sy vermoë te doen om vir Beatrice terug te wen. Maar dit lyk of dit hierdie keer finaal verby is tussen hulle wanneer daar ’n nuwe polisiekaptein opdaag en Beatrice van haar voete afslaan. Gaan Clint steeds veg vir sy liefde vir Beatrice?

 

Suidooster

Daar steek dalk waarheid in die sêding dat “ou liefde nooit roes nie”, want dit lyk of Alex in Ty se slaai gaan krap... Ja, die Daniels-egpaar se huweliksbootjie is in troebel water, veral as Lee-Ann saam met Alex na Mauritius wegglip al is dit glo net vir “besigheid”.

Justin bevind homself ook in ‘n liefdesdriehoek, en dinge raak nogal gekompliseerd tussen hom en Veroné wanneer haar verloofde, Jabes, opdaag...

Rhafiek het groot drome vir Atlantic Adrenaline, maar dit ontaard eerder in ’n nagmerrie na ‘n staptog skeef loop. Rhafiek en die stappers, wat sy ma, Mymoena, insluit verkeer in ’n lewensgevaarlike situasie veral na een hulle beseer word.

In die skadu’s in Ruiterbosch word wraakplanne gesmee... Gary is in Nazeem se kloue vasgevang, en word gehiet en gebied om sy vuilwerk vir hom te doen.  Só moet Gary vir Nazeem help om Bridgette en JPD tot ‘n val te bring. 

 

Binnelanders

Conrad en Delia neem ’n besluit wat Steve heeltemal uit die veld slaan, en Tertius begin besef onder watter omstandighede en druk Annelize by die veldhospitaal werk – totdat iemand se lewe uiteindelik in gevaar gestel word. Febé se gevoelens vir ’n kollega verdiep, en Delia sê vir Steve sy wil nog ’n kind hê.

Terwyl Karen se opwinding oor ’n verjaarsdagpartytjie al groter raak, word twee mense in kwarantyn geplaas. Jeremy tree onverantwoordelik op, en Tertius en Tracy besluit om ’n groot geheim van iemand te weerhou. Liam speel nie oop kaarte met Karen nie, Naomi ontvang slegte nuus, en iemand vra die ja-woord!

 

 

Diepe waters

Die liefde is 'n vreemde, en dikwels wrede, ding - veral wanneer 'n mens nie daarvoor gaan staan en soek nie. 

Johan is nie van plan om aan sy neus rond gelei te word nie, en slaan 'n rigting in om bietjie sonskyn in sy lewe te bring. Charity is nie seker wat om met hierdie nuwe pad van hom te maak nie, want sy wil nie volg, lei of vermy nie. 

Sanet se nuwe pad lei haar na vreemde plekke – en nie almal is gelukkig daarmee nie. Maar hoe maak 'n mens as een tipe verslawing dan nou lei tot die volgende een? En hoekom is die tonge los – nie net op social media nie! – oor haar en die nuwe dominee? 

Zelda se soeke na belangrike dinge bring haar weer by 'n kruispad met die liefde – die groot, onvermydelike en skadelike liefde! – van haar verlede, maar hierdie keer is dinge nog meer ingewikkeld as voorheen.

Die Rossouw-huishouding het 'n swaard wat oor hul geluk hang, want een woord wat uit plek uit val kan 'n hele nuwe dinamiese drama veroorsaak. Die vraag is net: Hoe lank kan so 'n geheim regtig bewaar word, en wat gaan wie doen wanneer die aap eers uit die mou is?

Skakel weeksaande in vir die nuutste verwikkelinge in Diepe waters, Suidooster, Binnelanders en Arendsvlei. Gesels ook saam op Facebook, X en Instagram deur die volgende hutsmerke te gebruik: #DiepeWaters, #Suidooster, #Arendsvlei en #Binnelanders.