Logo
Binnelanders S13 Slim BB Updated November 2023
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Die Augustus-winde bring veranderinge in jou gunsteling kykNET-sepies en telenovelas

Nuus
31 Julie 2023
Wat lê voor vir die karakters in Suidooster, Diepe waters, Arendsvlei en Binnelanders dié maand?
Binnelanders 2

Suidooster:

Rita is oorweldig met wat gebeur het en Nazeem begin te sweet  – gaan die waarheid uitkom oor wat hy gedoen het? En hoe gaan hy keer dat dit nie uitkom nie?  Kate en die res reël ’n verrassing vir Aiden.

Orpa en James se skelmstreke begin hulle in te haal; hoe gaan hulle uit die gemors kom?  Brendan en Carlo se vriendskap word getoets wanneer hulle begin ogies maak vir dieselfde meisie.  Die Rugby Wêreldbeker kom nader en die gees begin op te bou: Een van die Ruiterboschers  is ’n baie groot rugby-ondersteuner en dié persoon soek iemand om saam met hom na die toernooi in Frankryk te gaan.  Elana raak betrokke by ’n swierige geleentheid en twee van Ruiterbosch se bekendste inwoners is skielik in kompetisie met mekaar. Almal is bekommerd en hartseer wanneer ’n geliefde Ruiterbosch-inwoner baie seer kry. 

Binnelanders:

Nicolette begin om in Milan Els se verlede rond te krap, en wanneer die volle waarheid uitkom, is almal geskok. Chiron verwelkom ’n nuwe rekonstruktiewe chirurg en Delia word uiteindelik genoodsaak om drastiese besluite te neem. Annelize neem ’n groot besluit en Conrad is glad nie gelukkig nie. Die eienaars van Tonik en Mimi’s stamp steeds koppe, en twee dokters raak al hoe nader aan mekaar. 

Naomi is stomgeslaan wanneer ’n baie bekende persoon (vir party mense selfs ’n legende) by Binneland opgeneem word. Uys kry ’n lekker verrassing wanneer ’n nuwe verpleegster by Binneland begin werk, en ’n sekere raadslid word van vervalsing beskuldig. Birdy doen iets wat sy berou, Naomi-hulle verwelkom ’n nuwe huismaat, en iemand se lewe verander onherroeplik.

 

Arendsvlei:

Verhoudings word omtrent getoets hierdie maand: Ayesha en Langes gaan deur diep waters voor sprokiesland op die horison is. Beatrice en Clint sit vas. Eva en Lennie beweeg al nader aanmekaar. Bianca en Thys sit met ’n tameletjie. 

Hoor ons trouklokke lui? Langes skraap al sy moed bymekaar om vir Ayesha te vra om te trou, maar die aand loop nie af soos hy gehoop het nie. Al het hy vir Lionel en Janice gevra om hom te help met die planne, het Ayesha steeds te vinnig gepraat voor sy gedink het. Sy begin in haar besluit twyfel en span Janice se hulp in, maar is dit te laat?   

Almal weet nou dat Abigail, Clint se dogter is. Alhoewel dit bitter moeilik is vir Beatrice om dit te aanvaar, probeer sy haar beste om Abigail te verdra. Maar dit is makliker gesê as gedaan. Abigail probeer al hoe meer ’n wig tussen haar pa en Beatrice skep en Beatrice weet later nie meer watter kant toe nie. Speel sy oop kaarte met Clint of verdra sy vir Abigail om vir Clint gelukkig te hou? 

Eva en Lennie besef hulle het nog baie liefde vir mekaar oor en gee hul verhouding nog ’n kans. Maar dit is glad nie ’n maklike paadjie om te stap as Bompie betrokke is nie. Bompie wil vir Lennie terugkry oor sy vorige parool-verhoor. So, hy stel vra sy manne om vir Eddie op te gaan soek. Ja, Eddie, die man wat Tanner vermoor het en waarmee Eva hom gehelp het. Soos die dae verloop en Bompie meer inligting kry, maak hy dit duidelik aan hulle dat hulle nou vir hom met sy plan moet help of hy gee alles vir die polisie. Tot Desmond is op Lennie se spoor. Is Desmond en Bompie nou weer herenig?

Bianca se suster, Zyla, kom kuier vir haar in Arendsvlei en dis als behalwe ’n plesier vir Bianca. Zyla is suksesvol, stylvol en so te sê perfek, so Bianca plaas ekstra druk op Thys om hom mooi te gedra as sy daar aankom. Aanvanklik steek Bianca eers Saartjie se dwelmprobleem weg, maar dan daag Saartjie op in Arendsvlei en Bianca se geheim blaas op in haar gesig. Dis nie al waaroor sy bekommerd hoef te wees nie, soos tyd verloop, besef Thys en Zyla hulle het baie meer ingemeen as wat hulle gedink het.  

Diepe waters:

Wim, Rose, en Nina se karakters gaan almal getoets word hierdie maand – en die dinamika tussen die lede van die hegte gesin gaan sterk moet staan om heel aan die ander kant uit te kom – en dit gaan nie net oor Nina se voorbereiding vir die Amerikaanse verkenner wat nog sy opwagting moet maak nie. 

Johan het alweer 'n ogie op 'n mooi, nuwe lid van die swemspan, maar Charity is nie iemand wat nie met haar hart op haar mou loop nie – vir baie goeie redes!

Kurt stel sy visier in op Lettie – en dit mag dalk daartoe lei dat Henry hom met geweld gaan konfronteer. 

Terwyl Karla en Arno hulle voete probeer vind, is dit nie net Rossouw en Gys wat wil inmeng in die keuses wat hulle maak nie. Weet Karla wat sy doen? En is Arno al hierdie swoeg, sweet, en drama werd?

Bly weeksaande ingeskakel op kykNET, kanaal 144 en kykNET&kie, kanaal 145 vir die nuutste verwikkeling in Suidooster, Diepe waters, Binnelanders en Arendsvlei. Gesels ook saam op Facebook, Twitter en Instagram en onthou dat dié programme ook gestroom kan word op DStv Stream.