Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Prontuit

144NuusPG13

Prontuit: Huiswerkers in die letterkunde

Nuus
10 September 2015
Die skrywer Ena Jansen gesels oor haar nuwe boek, Soos Familie.
kn_prontuit_20150909_enajansen_900
Die skrywer en akademikus Ena Jansen is tans op besoek aan Suid-Afrika uit Amsterdam. Sy was op Prontuit om met Kabous Meiring te gesels oor haar nuwe boek, Soos Familie, waarin sy die rol van huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste ontleed.

Die boek begin by Krotoa, die slavin wat Jan van Riebeeck se kinders opgepas het en as’t ware die eerste kinderoppasser in Suid-Afrika was. Dis vir haar ’n akademiese belangstelling, sê Jansen; sy is al lank geïnteresseerd in slawerny.

“Krotoa is natuurlik iemand uit die geskiedenis. Jan van Riebeeck was nogal geïnteresseerd in haar en het haar ’n paar keer direk aangehaal in sy dagboek. ’n Mens sien later ooreenkomste met haar in Suid-Afrikaanse literatuur.”

Huiswerk, sê Jansen, is ’n soort historiese konstante: “Dit is ’n voortdurende deel van die Suid-Afrikaanse leefwyse. Óf jou ouers het huiswerkers in diens geneem, óf jy is miskien ’n kind van ’n huiswerker en het jou ma nie baie gesien nie.”

Die klassieke Suid-Afrikaanse teks oor ’n huiswerker is natuurlik Die Swerfjare van Poppie Nongena.

“Elsa Joubert het baie mense wat self ’n Poppie in die kombuis het, se oë oopgemaak oor hul omstandighede,” sê Jansen.