Logo
Prontuit 1600x160 Slim Homepage
web uni tv guide

Prontuit

144AktueelPG13

Koebaai, artritis en osteoartrose – Met ’n huppel in die stap

Nuus
13 Maart 2019
Het jy geweet?
Huppel in die stap 5

Foto: Getty Images

deur Francois Retief

Van die lastigste, pynlikste en mees debiliterende chroniese siektetoestande by mense wat ouer word is osteoartrose en osteoartritis. Wat is dit en wat kan ons daaraan doen?

Osteoartrose is primêr ’n degeneratiewe siekte van die kraakbeen wat die gewrigoppervlaktes belyn. Verder veroorsaak dit veranderings
in die been self rondom die gewrigte, wat tot totale verval van die gewrigte lei. Osteoartrose en osteoartritis is soortgelyke gewrigsiektes, maar osteoartritis het ’n addisionele komponent van inflammasie by, m.a.w. die gewrig is rooi en geswel.

Dit is bekend dat veranderings in die beentoestand dikwels vroeg in die siekte plaasvind en selfs die kraakbeenveranderings kan voorafgaan. Dis dus ’n komplekse siektetoestand.

Bloedtoetse kan nie regtig die diagnose maak nie, omdat die inflammasie wat hier ontstaan, nie aantoonbaar is nie.

Osteoartrose in ’n neutedop:

  • Dit is die mees algemene skeletale siekte in die mens.
  • Dis die hoofoorsaak van debilitasie en onvermoë in ouer mense.
  • Simptomatiese knie-degenerasie tas 40% van volwassenes bokant 70 jaar aan.
  • ’n Kwart van lyers het moeite om hulle gewone daaglikse aktiwiteit af te handel.
  • Hoe ouer ons word, hoe meer algemeen word osteoartrose.
  • Mense wat oorgewig is, het ‘n baie groter kans om osteoartrose te kry.
  • Gewrigsiektes is dikwels geneties en kom in families voor.

Gewrigsaantasting deur osteoartrose
Primêre osteoartrose tas veral knieë, heupe en die gewigdraende eerste gewriggie van die groottoon aan, asook die onderste gedeelte van die werwelkolom en die nek. Gewrigsbesering a.g.v. motorongelukke en sport veroorsaak sekondêre osteoartrose (veral rugby is ‘n groot sondebok wat talle knieë, enkels, nekke en skouers al heeltemal afgeskryf het).

Daar is sekere gewrigte wat baie selde aangetas word deur osteo-artrose nl. die gewrigte in die kneukels, die polsgewrig, die tempero- mandibulêre gewrig (kakebeen) en die sakro-iliakale gewrig.

Ander gewrigsvernietigende siektes sluit in: jig (wat uriensuurkristalle in die gewrigte vorm wat uiters pynlik is), rumatoïede artritis, en ook siektes waar daar senuwee-aantasting is (onder andere diabetes) wat dan die gewrig onbeskerm laat en blootstel aan degenerasie – byvoorbeeld, ’n voet sonder gevoel wat oormatig gebruik word, doen gou skade op.

Vetsug en osteoartrose
Vetsug is ’n risiko-faktor vir osteo- artrose van gewigdraende gewrigte en elke een punt verhoging van die massa-indeks (BMI) bo 27 dra ’n 15% verhoogde risiko vir osteoartrose. Aan die ander kant, elke een punt verlies van massa-indeks verbeter die siekte, pyn en funksie.

Die abnormale hoë druk op die gewigdraende gewrigte van ‘n swaar pasiënt stel inflammatoriese sitokiene vry en dit begin ‘n proses van inflammatoriese reaksie waar proteïene vrygestel word wat kollageen en ander boustowwe afbreek. Gevolglik word kraakbeen- afbraak versnel, en die opbou van kraakbeen vertraag.

Benewens die ekstra gewig wat die gewrigte moet dra, is daar ensieme en hormone wat met vetsug verhoog en wat bydra by tot die ontwikkeling van osteoartrose – selfs in nie- gewigdraende gewrigte.

Osteoporose teenoor osteoartrose
Iemand met osteoporose het sagte soepel been wat maklik breek, wat elasties is en wat skok en alle vorme van trauma goed absorbeer. Osteoporose as gevolg van te min vitamien D in volwassenes word genoem osteomalasie. Baie bejaardes kom nooit in die son nie, en die ouer vel is minder effektief om vitamien D te vervaardig.

Behandeling

  • Oefenprogramme, byvoorbeeld Pilates-oefeninge.
  • Ander oefening soos fietsry, swem, stap en joga.
  • Gewigsverlies is krities belangrik.
  • Kundige raad deur podiaters, fisio- en arbeidsterapeute.
  • Hulpmiddels soos elastiese kniebeskermers, kieries en looprame.
  • Selfs akupunktuur, termoterapie en transkutane elektriese stimulasie.

Medikasie

  • Paracetamol.
  • Sterk pynmedikasie: die newe-effekte moet in gedagte gehou en bestuur word.
  • Nie-steroïed anti-inflammatoriese middels het baie komplikasies en newe-effekte.
  • Nie-steroïed anti-inflammatoriese middels wat as velplakkers aangewend word.
  • Die effektiwiteit van “neutraceuticals” soos glukosamien en kondro- toïen in osteoartrose is nog nie duidelik bewys nie.
  • Inspuitings in die gewrig self.

Chirurgiese behandeling

  • As geen mediese behandeling ‘n verskil kan maak nie, kan ’n totale gewrigsvervanging oorweeg word, veral in pasiënte wat nagtelike pyn het en nie respondeer op pynstillers nie. Die heupvervanging het die grootste suksessyfer van hierdie reeks operasies, en staan hiervoor soms bekend as die “operasie van die dekade”. Heup- vervangings maak dit moontlik vir mense wat ná ’n heupfraktuur permanent bedlêend sou wees om weer te kan loop – hoewel ’n kunsgewrig natuurlik nooit so goed soos ’n gesonde, natuurlike gewrig is nie.
  • Vir probleemknieë is ’n baie algemene operasie ’n artroskopie, waar die knie van binne bekyk word en dan binne “skoongemaak” word. Dit is egter goed bewys dat dit hoegenaamd van geen waarde is nie en nie gedoen behoort te word vir osteoartritis nie. (Dit is wel aangewese waar die kraakbeen in die knie beskadig is en daar ’n los fragment in die knie is wat pyn en funksionele probleme veroorsaak).
  • Die algemene gewrigsdegenerasie wat by vroue voorkom – pyn in die gewrig van die duim, die sg huisvrou-duim – kan chirurgies behandel word, selfs met gewrigsvervanging.

Daar is nuwe horisonne in osteoartrose en heelwat navorsing word gedoen. Soos ons die oorsake beter verstaan, kom nuwe behandelingsmoontlikhede na vore.

Voorkoming

  • Beheer jou gewig.
  • Moenie rook nie! (Dis ook ’n algemene oorsaak van osteoporose by vroue).
  • Voorkom en beheer diabetes.
  • Hou cholesterol binne perke.
  • Beheer die bloeddruk.
  • Wees aktief.
  • Pas jou liggaam op terwyl jy jonk is en vermy beserings.

Dr. Francois Retief was die eerste rektor van Medunsa en later dekaan van die Mediese Fakulteit van die Universiteit van die Vrystaat. Hy is nou afgetree en skryf gereeld oor mediese probleme op sy internet-blog.

Sit die huppel terug in jou stap deur in te skakel vir Met ’n huppel in die stap, Woensdae om 18:00 op DStv-kanaal 144. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #HuppelStap​.