Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Nêrens, Noord-Kaap

144Drama

Skuif reg vir Nêrens, Noord-Kaap

Nuus
25 Augustus 2021
Nêrens, Noord-Kaap saai vanaf Dinsdag 31 Augustus 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en sal ook op DStv Catch up beskikbaar wees.
NNK HP BB

kykNET se nuwe dramareeks, Nêrens, Noord-Kaap, begin Dinsdag 31 Augustus om 20:00 en dié wat dit al onder oë gehad het, stem saam: hierdie is ’n reeks wat nie misgeloop mag word nie.

In 2017 debuteer die dramaturg en regisseur Nico Scheepers se toneelstuk Nêrens, Noord-Kaap by die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein. Die akteurs wat die rolle van die drie Adendorff-broers speel, Geon Nel, Albert Pretorius en De Klerk Oelofse, speel die gehoor stil. Die stuk het siel en ’n reuse-hart en in 2018 wen die spelers die Fiësta-toekenning as beste ensemble. De Klerk is ook benoem as beste akteur en die teks is benoem as beste nuwe Afrikaanse teks en verskyn later in boekvorm. Nêrens, Noord-Kaap toer daarna die land vol voor volgepakte gehore en daar is nie ’n optrede waar dit nie ná die tyd staande toegejuig word nie. 

In Desember 2018 kry Nico ’n versoek van kykNET: Kan Nêrens, Noord-Kaap nie as dramareeks ontwikkel word nie? Nico stem in op een voorwaarde – Geon, Albert en De Klerk moet weer die Adendorff-broers wees.

En hier is ons nou. ’n Prag-reeks van dertien episodes wat deur die bestes in hulle veld vervaardig is. Nêrens, Noord-Kaap is nie kitskos nie. Dit is soos ’n geskenk wat in die mooiste lae papier toegedraai is; ’n bottel wyn wat jy teug vir teug moet waardeer. ’n Reeks wat herinner aan ikoniese reekse soos Verspeelde lente en Arende.

In die eerste episode kom die broers bymekaar op hulle familieplaas, Nêrens, vir ’n familiegeleentheid. Dit is vanuit die staanspoor duidelik dat die drie broers elk uit ’n ander stuk lap gesny is. Hulle pa, Lourens en Maggie, wat al jare in die huis op Nêrens werk en ’n tweede ma vir die broers ná hul eie ma se dood is, probeer die gesin bymekaar hou, maar dis asof elkeen in sy eie rigting trek. Maggie se seun, Jan-Jan, is ’n kindertyd-vriend van die broers wat hulle beter as hulleself ken. 

Geon Nel (Die Boekklub, Vallei van Sluiers en Boland Moorde) is die oudste broer, Frans. Albert Pretorius (Johnny is nie dood nie, Dwaalster en Waterfront) is Ronnie en De Klerk Oelofse (Hotel, Die Boekklub en Kyk wie praat) is Andries. Die rol van Lourens word gespeel deur Frank Opperman (Ds. Tienie, Ouboet en Wors en G.I.L.) en Ilse Klink (Arendsvlei, Fynskrif en Skemerdans) is Maggie. Dean Balie, wat veral vir sy werk in die teater bekend is en vroëer op kykNET te sien was as Slappies in Ekstra medium, is Jan-Jan.

Ander spelers sluit in Shana Mans as die buurdogter Lorrie, Marion Holm as Lourens se suster Ans, Aletta Bezuidenhout as Olivia, Ronnie se snobistiese skoonma, en Natalie Robbie as Shannon, Ronnie se bruid en ma van baba Lourens.

Die span agter die skerms is ewe indrukwekkend. Die mede-regisseurs is Nico Scheepers en Johan Cronjé (Wonderlus, Meisies wat fluit) en die kinematograaf is Chris Lotz (Somerkersfees, Sara se geheim). Die kunsregisseur is Chris Joubert (Wonderlus, Liewe Kersfeesvader) en Marí Conradie (Blood & water, Johnny is nie dood nie) is hoof van kostuums en grimering. Die meesleurende klankbaan is deur Franco Prinsloo gekomponeer.

Moenie die eerste episode van Nêrens, Noord-Kaap misloop nie. Elke Dinsdagaand op kykNET, DStv-kanaal 144, en ook beskikbaar op DStv Catch Up.