Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Nêrens, Noord-Kaap

144Drama

5 Hoogtepunte in episode 12 van Nêrens, Noord-Kaap

Nuus
17 November 2021
Nêrens, Noord-Kaap saai elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook op DStv Catch up beskikbaar.
Nerens Noord Kaap – Episode 12

Pak op, pak op

Jan-Jan (Dean Balie) gaan konfronteer vir Lourens (Frank Opperman) ná hy die vorige aand vir Maggie (Ilse Klink) weggejaag het. Jan-Jan sê vir Frans (Geon Nel): “Hy het haar weggejaag, Frans. Ons ma”. Frans probeer red wat te redde is, maar wanneer Jan-Jan terug by sy huis kom, sê hy vir Chrissie (Bianca Flanders) en Maggie hulle moet pak en dat hy nie ’n oomblik langer op die plaas wil bly nie.  

“Hallo Mamma, hierdie is Suzette”

Ronnie (Albert Pretorius) neem vir Suzette (Daneel van der Walt) na sy ma se graf. Hy sê vir Suzette dat hy net herinneringe sien waar hy kyk wanneer hy op die plaas is. Suzette besef dis vir hom moeilik en ons kan sien dat sy weet Ronnie gaan sukkel om nie weer sy sorge by die partytjie te verdrink nie. Klein Lourens (Arnold Swart) is net so bekommerd en probeer sy pa ’n rat voor die oë draai deur brandewyn aan die rand van die glas te smeer.

“Is dit nie bietjie grênd nie?”

Frans (Geon Nel) beplan al weke aan sy pa se verjaardagpartytjie en geen moeite word ontsien nie. Selfs Ans (Marion Holm) wonder of dit nie bietjie te deftig is nie. Sal enigiets wat Frans doen ooit goed genoeg vir sy pa wees?

Ans se harde woorde

Ans gaan praat met Lourens waar hy in sy kamer sit. Sy sê onder meer dat sy skaam is vir hom en dat dit dalk ’n goeie ding is dat Katja (Tinarie van Wyk Loots) dood is. Die woorde het duidelik getref want Lourens stap na Maggie toe en vra haar vergifnis. Wanneer hulle by die partytjie aankom, dring hy aan dat Maggie, Jan-Jan, Chrissie en die kinders by hom aan tafel sit. “Familie, soos dit hoort,” sê Lourens.

Die verlore seun

Andries (De Klerk Oelofse) is terug by die huis en bel vir Frans om hom te kom haal. Frans laai hom by die sogenaamde poort na die plaas af omdat Andries aandring om die res van die pad te loop. Hy gaan eers na sy ma se kerk toe en kom later by die partytjie aan. Wat gaan Lourens se reaksie wees wanneer hy vir Andries sien?

Nêrens, Noord-Kaap saai elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit en is ook op DStv Catch up beskikbaar.