Logo
Getroud Met Rugby Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Getroud Met Rugby

144Sepie13

Miskraam: Gee tyd vir genesing – Getroud met Rugby

Nuus
08 April 2020
“Hoe verskriklik sag het jy op jou toontjies in ons wêreld ingesluip, amper stil, en vir slegs ’n oomblik het jy gebly. Maar wat ’n reuse indruk het jou voetstappe op ons harte gelos.” – Die Amerikaanse skrywer Dorothy Ferguson
Miskraam Artikel

Blitz en Julia se hartseer ná haar miskraam is vir menige paartjies ’n nare werklikheid. Sy sukkel om die skok te hanteer, hy dink hulle moet so gou moontlik probeer om weer swanger te raak. Is daar ’n reg en ’n verkeerd? Hoe verwerk jy so ’n trauma? Kom jy ooit werklik daaroor? En hoe moet vriende en familie die situasie hanteer? Dr. Gerdi van den Berg, ’n terapeut en sosioloog van Kaapstad, sê elke individu het sy eie kapasiteit om verlies te hanteer. Die omvang van die verlies kan beïnvloed word deur vorige ervarings en ook verwagtinge van wat uit die lewe verwag word. Elkeen moet ook sy eie pad na genesing volg.

Is daar raad vir paartjies om die hartseer te hanteer?

Beide ouers het objektiewe hulp nodig. Hulle het nodig om binne ’n veilige spasie te kan praat en praat en praat tot hulle meeste van die binne-gesprekke geleentheid gegee het om hoorbaar te wees en te verbaliseer. Só geleentheid moet vir spesifieke tye ononderbroke wees en die luisteraar moet met volle aandag en sonder reaksie luister. 

Wat met sulke praat-sessies gebeur, is genesend op sig self; dis asof jou ‘binnewond’ skoon bloei. Dit maak spasie vir vars perspektief en dit help om by die dieper onderliggende pyn uit te kom. Hierdie pyn hou ’n klomp wan persepsies en leuens vas – oor jouself, jou self definisie en jou opinie van ander en die lewe. Ook in meeste gevalle oor God.

Dis tydens sulke sessies wat jy agterkom wie jy kwalik neem vir jou pyn – jouself, moontlik die pa van die kind, dokter, verkeerde raad van ander, die Here of ander rolspelers. Hoekom hul kwalik geneem word, sal die proses van ‘closure’ kan aanhelp. Soos wat elkeen dan hierdie redes geïdentifiseer het, kan perspektief hopelik herwin word en die persoon beweeg weg van die magtelose gevoel van slagofferskap. Beheer oor hulle lewe kan dan begin herstel en die individu kan deur die proses, wat soms maande kan neem, begin vergewe sodat hulle weer vrede kan kry.   

Hoe kan die struikelblokke oorkom word? 

Die sleutel woord is individue. Soos elkeen sy eie uniekheid en persoonlikheid het, het elkeen ook sy eie manier om trauma, skok, teleurstelling en verlies te hanteer. Elkeen se rouproses is ’n unieke reis wat met die nodige respek van ander onderneem moet word. Dit sal insluit om geen druk of manipulerende verwagtinge van mekaar te hê nie, maar net berekende aanmoediging en fokus op elkeen se sterk eienskappe. Met ander woorde daar moet nie druk wees om byvoorbeeld weer swanger te probeer raak nie. Daarvoor moet daar op ’n tydperk ooreengekom word en dit moet redelik beide kante toe wees.

Praktiese raad is vir elkeen om ’n lys van vyf dinge neer te skryf wat vir hulle lekker sal wees om saam te doen, maar ook op hulle eie. Daar kan selfs ’n tipe kontrak of ooreenkoms oor die verskeie aspekte opgestel word en onderteken word. Beplanning en verantwoordbaarheid kan deur geliefdes, sonder enige ongenooide inmenging, gehandhaaf word.

Is daar ’n verskil tussen ’n miskraam en die dood van ’n geliefde? 

Die verskil lê in soveel dinge betrokke: die rol van die geliefde in die persoon se lewe, hoe die toekoms lyk sonder die persoon. Die verskil is dat ’n miskraam nie net verlies inhou nie, maar ook die vrese rakende toekomstige swangerskappe en die impak op die huwelik en gesin dinamika.

Wat moet deel van die helings proses vir paartjies wees?

Die rouproses is ’n nodige deel van effektiewe genesing. Rou is in sy kompleksiteit so mooi en nodig en kan kosbare karaktereienskappe help vestig –  mits dit gerespekteer word. 

Daar moet spasie wees om binne gesprekke te verbaliseer en die emosionele inhou van die verlies moet as’t ware toestemming gegee word om na vore te kom. Uitbreiding van die emosionele woordeskat help geweldig baie. Hoe meer erkenning aan emosies gegee kan word, hoe beter kan die rouproses beskryf word en kan die persoon beheer oor hulle emosies en pyn, woede en enorme teleurstelling hanteer. Indien die teleurstelling of enige blaam nie hanteer word nie, kan bitterheid en depressie maklik kom nesskop in die hart van so ’n slagoffer.

Buiten geestelike en emosionele gesondheid, is fisiese gesondheid ook ’n baie belangrike aspek van die genesing proses. Die mamma moet besef haar liggaam is deur geweldige skok en ook haar hormone moet tyd gegun word om deur die swangerskap proses se onderbreking te werk. Dit neem gewoonlik maande. Hormonale gemoed skommelinge kan die rouproses vertraag en sy het juis daarom ’n emosioneel veilige omgewing vir herstel nodig – liggaam, siel, gees en hart. 

Praat, praat, praat, skryf indien nodig, teken, dig, sing, dans en werskaf in die tuin en son kan gerus deel vorm van haar herstelproses. Gesonde vriendskappe wat haar in haar rouproses verwelkom en bly koppel aan die normale gang van die lewe se mooi. Moeite met effektiewe aanvullings en gesonde eet en leefstyl sal ook bydra, maar moet nooit onredelike druk op haar plaas nie. 

Deel van die rou is die begrafnis en afsien van jou kind. Afhangende van wanneer in die swangerskap die miskraam was en ook die ouers, kan ’n begrafnis ’n baie effektiewe deel vorm van die genesing proses. Daarmee saam die hantering van die items wat reeds aangekoop was ter voorbereiding van die geboorte. Wegpak in mooi verpakking of verberging tot die paartjie saam besluit het wat daarmee gedoen kan word sal ook positief bydraend wees. 

Dit is ontsettend belangrik om ’n onsigbare punt agter die klein mensie se lewe te sit sodat die oorlewendes ’n kans gegun word om met die lewe aan te gaan.  

Tyd en respek (vir self en ander asook vir die proses) is twee baie belangrike komponente van die genesing pad. Weereens: veilige ruimte daarvoor is baie nodig.

Wat is die rol van vriende en familie? 

Dit is baie kompleks. Om dit reg te antwoord kan baie lank vat, miskien in kort: Die paartjie wat deur die trauma gaan, moet hulself en mekaar as prioriteit sien. Nie elkeen se ouers, ander familie of vriende nie. Hoe hierdie prioriteit in gedrag en verhoudings gaan manifesteer, moet deeglik deurgepraat word sodat hulle op dieselfde bladsy is. 

Dit vorm die gesonde grenslyne waar binne hulle as paartjie, vriende en gemene vertroosters gaan moet optree. Vir hulself en vir mekaar. Hulle moet met ander woorde beste vriende wees. Dit is die ideale situasie. 

Die raad aan familie (veral ouers) en vriende sal dan wees om die paartjie te respekteer en hoofsaaklik net raad te gee wanneer daarvoor gevra word. Hulle behoort met groot wysheid en diskresie die ondersteuning te bied wat bitter nodig is. Wees prakties in ondersteuning: stuur blomme, kos, betaal vir terapie indien daar instemming vir terapie gegee is, lees die situasie fyn en ondersteun binne die raamwerk van die slagoffers se unieke persoonlikhede en liefdestale. 

Oortreding van die grenslyne mag net oorskry word wanneer die individu se funksionaliteit in die rooi beweeg: persoon kan na dae of weke steeds nie eet of alledaagse take verrig nie. Hoe veiliger die vriend of familielid as mens is, oor die algemeen, hoe groter die waarskynlikheid van effektiewe inspraak.

Is daar ’n goeie tyd om weer te probeer swanger raak?

Vir sommige is die beste poging tot genesing onderdrukking. Van die pyn, die teleurstelling en die verlies. Dit is egter selde langtermyn doeltreffend. Iewers in die toekoms haal dit mens in.      

Mans neig gemiddeld meer om oplossing-gedrewe te wees. Vroue weer oor die algemeen verbaliseer met emosionele oorweging. Kommunikasie oor die verskillende probleem hanterings moet bespreek word en wedersydse respek moet gehandhaaf word.

Dit is so belangrik om nie die volgende swangerskap as ’n plaasvervanging van die miskraam te sien nie. Die kind wat in daardie baarmoeder groei, mag baie moontlik die rou optel en in die vorige doods atmosfeer sy identiteit probeer vind. Ek het dit al telkemale in terapie gesien.

Alvorens die spanning (bewustelik en onbewustelik) eers herstel het tot sy gesonde rusplek, behoort daar nie eers oor die onderwerp gepraat word nie. Elkeen kan hulle behoeftes neerskryf en/of met persone by wie hulle veilig voel bespreek, maar gun mekaar gesonde tyd vir genesing. Dan kan die klein mensie wat daarna kom, welkom voel vir wie hulle is – as ’n individu in sy eie reg en met ’n mamma en pappa wat uitsien met genoeg geloof dat hy enduit sal groei om die lewe voluit te LEEF.