Logo
Getroud Met Rugby Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Getroud Met Rugby

144Sepie13

Hier is hulle: kykNET se grootste aanhangers

Nuus
26 April 2021
In Maart het kykNET en die borrelende kykNET-persoonlikheid Stella gevra: Wie is die kanaal se grootste aanhangers? Daardie persoon wat kykNET kyk, luister en leef. Die sogenaamde Super Fans.
Untitled design (3)

Daar was beloftes van groot pryse en ’n belewenis soos min. Soos ons kykNETters deur die jare leer ken het, het hulle nie teleurgestel nie. Daar was inskrywings van heinde en ver en uiteindelik is tien mense gekies vir ’n kykNET-ervaring soos min.

Stella en die span het in die pad geval en van Springs tot Port Elizabeth, Bloemfontein tot Saldanhabaai gereis om hierdie tien super fans te ontmoet. Om die belewenis nog meer spesiaal te maak, het kykNET-persoonlikhede saam op reis gegaan.

Die persoonlikhede is Stephanie Baartman van Getroud met rugby, Mooi maak met Clare se Clare Wiese-Wentzel, Binnelanders se Hykie Berg, Glam Guru se Hannon Bothma, Leef jou reis se Gerrie Pretorius, sangeres en aanbieder Leah, Getroud met rugby se Sean van Noordwyk, Suidooster se Ishraad Alley, Stella (Deoudoné van der Merwe) en Brendon Daniels van onder meer Sara se geheim en Arendsvlei.

Die eerste verrassingbesoek, wat op 26 April uitgesaai word, wys hoe Stephanie vir Ingrid Hermann van Springs verras. Ingrid het, behalwe ’n geskenkpak, ook ’n besoek aan die stel van Getroud met rugby en ’n ontmoeting met van die ander spelers gewen.

“Dit was heerlik,” sê Ingrid. “Ek het dit baie geniet. Dit was vir my ‘n totale verrassing. Die hoogtpunt was om die mense van Getroud met rugby in lewende lywe te sien en om die ateljee te besoek. En natuurlik ook om vir Stella te ontmoet.”

Ingrid sê kykNET is ‘n deel van haar lewe. “My man is Engels, maar ons kyk omtrent net kykNET. Alles van die nuus tot al die vermaakprogramme en die drama’s. En ek kan nie my Binnelanders en Getroud met rugby mis nie.”

 “Dit was ‘n eer om al die verskillende kykNET Super Fans te ontmoet en om elk van hul stories te hoor wat so inspirerend en uniek was,” sê Stella. “Die hele ondervinding was geheel en al die moeite werd. Wat ’n amazing road trip deur ons pragtige land!”

“Ek is natuurlik self ‘n groot aanhanger van kykNET,” sê Gerrie Pretorius van Leef jou reis. “Hulle hou van vernuwing en die kwaliteit van hulle programme kan meeding met die bestes in die wêreld. Hulle ploeg ook terug op verskeie vlakke – in die teater, die kunste, die filmbedryf – en doen dit van die grondvlak op. As dit nie vir kykNET was wat hierdie kwaliteit-programme maak en al hierdie projekte het om ons trots te maak nie, wie het ons?”

Brendon Daniels, die bekroonde akteur wat bekend is vir sy rolle in onder meer Sara se geheim en Arendsvlei, het saam met Stella 'n aanhanger in Saldanhabaai gaan verras.

“Dit het soos ‘n veldbrand deur die hele buurt versprei dat Stella daar is,” vertel hy. “Die gemeenskap het dit baie geniet en dit waardeer dat ons na daardie hoekie van die land gekom het.”

Hy sê dit was vir hom lekker om as Brendon te gaan. “Mense het ‘n persepsie van jou wat hulle skep omdat hulle net jou karakters ken, maar met hierdie besoek was ek Brendon. Daar was dus nie ‘n skerm tussen ons nie en die interaksie tussen ons was baie real. Dit was beslis meer as net ons wat ‘n fan gaan ontmoet het. kykNET-kykers word soos familie en daar was dadelik ‘n connection. Mens besef nie watter impak jy op kykers het voor jy ‘n klein dorpie soos daardie besoek nie. Dit maak dit alles die moeite werd.”

Kykers kan gerus die kanaal dophou vir wanneer dié verrassingsbesoeke uitgesaai gaan word.