Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Wêreldgesondheidsorganisasie: Wat presies doen hulle? – Binnelanders

Nuus
04 Februarie 2021
Wie is die Wêreldgesondheidsorganisasie?
Untitled design (1)

In Binnelanders verteenwoordig Conrad (Hykie Berg) Binneland Kliniek by ‘n funksie wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie gehou word. At Koster (Hans Strydom) doen self so nou en dan werk vir hulle op die kantlyn. Maar wie is die Wêreldgesondheidsorganisasie?

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is ‘n afdeling van die Verenigde Nasies en sien om na internasionale publieke gesondheid. Hulle hoofdoel is om toe te sien dat alle mense wêreldwyd so gesond moontlik moet wees. Die WGO se hoofkantoor is in Genève, Switserland, maar daar is ses streekskantore en 150 veldkantore wêreldwyd. Die streekskantore is in:

  • Brazzaville, Republiek van die Kongo wat na Afrika omsien;
  • Manila, Filipyne wat omsien na die Westerse Pasifiese-streek;
  • Kaïro, Egipte wat omsien na die Oosterse Middellandse-streek;
  • Nieu-Delhi, Indië wat na Suidoos-Asië omsien;
  • Kopenhagen, Denemarke wat na Europa omsien en
  • Washington D.C, VSA wat na die Amerikas omsien.

Die WGO is op 7 April 1948 gestig, ‘n dag wat vandag as Wêreldgesondheidsdag gevier word. Die eerste vergadering is op 24 Julie 1948 gehou. Die WGO is afhanklik van skenkings van hulle lede asook van skenkers. Die jaarlikse begroting vir die organisasie is $4,2 biljoen.

Die WGO het 7 000 mense in diens in 149 lande en streke. Dit sluit in wetenskaplikes, mediese dokters, ekonome en noodpersoneel. In ondersteuning vir ‘n tabak-vrye werksomgewing, is daar geen rokers wat vir die WGO werk nie.

Die huidige direkteur-generaal is Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, ‘n voormalige minster van gesondheid van Etihopië. Hy is die eerste WGO-leier uit Afrika en die eerste direkteur-generaal wat nie ‘n mediese dokter is nie – hy het ‘n doktorsgraad in gemeenskapgesondheid.

Van die WGO se interessante en suksesvolle gebeure sluit in:

  • Die WGO het reeds in 1948 ‘n veldtog begin om polio uit te roei.
  • Victor Zhdanov, die adjunk-minister van gesondheid van die destydse USSR, het in 1958 die WGO gevra om ‘n internasionale veldtog te bestuur waarin daar gepoog word om pokke (smallpox) uit te roei. In 1967 het die WGO $2,4 miljoen bewillig om pokke te beveg – die siekte het steeds vir sowat twee miljoen mense se dood gesorg - en in 1972 het hulle gehelp om ‘n pokkeplaag in die destydse Joego-Slawië te beveg. In 1979 het die WGO aangekondig dat pokke geheel en al vernietig is, die eerste siekte in die geskiedenis wat deur die mensdom vernietig is.
  • Die Global Polio Eradication Initiativ is in 1988 gevestig en daar is gehoop dat polio ook vernietig kan word. Alhoewel dit nog nie geheel en al reggekry is nie, is polio – as gevolg van die entstof wat babas kry – so te sê vernietig. Noord- en Suid-Amerika is byvoorbeeld in 1994 polio-vry verklaar met die laaste geval ‘n seun wat in 1991 in Peru, Suid-Amerika gediagnoseer is.
  • Die WGO het in 2001 ‘n veldtog van stapel gestuur om mense teen masels in te ent en het teen 2007 die sterftes as gevolg van masels met 68 persent laat krimp.
  • Tussen 1990 en 2010 was daar, met die WGO se hulp, ‘n 40 persent afname in sterftes as gevolg van tering. Sedert 2005 is meer as 46 miljoen mense daarvoor behandel en ‘n geskatte sewe miljoen mense se lewens is gered.
  • Die WGO het op 1 Januarie 2020, ‘n dag ná die Chinese regering aangekondig het hulle het gevalle van longontsteking as gevolg van ‘n onbekende virus, ‘n spesiale taakspan saamgestel. Op 5 Januarie 2020 het die WGO lidlande laat weet van die siekte en op 14 Januarie het hulle bevestig dat die virus van persoon na persoon oorgedra kan word. Op 30 Januarie het hulle ‘n PHEIC, of Public health Emergency of International Concern, verklaar en op 11 Maart het hulle verklaar dat COVID-19 ‘n pandemie is.
  • Die Verenigde State van Amerika (15,9%) is een van die grootste bydraers tot die WGO, waarna die Bill en Melinda Gates Foundation (9,4%), die Verenigde Koninkryk en Ierland (7,7%), Duitsland (5,2%) en Japan (3,8%) is. Rotary International, ‘n gemeenskapsorganisasie wat hulle al dekades lank beywer vir die uitwissing van polio, dra jaarliks 2,5% tot die jaarlikse begroting by.

Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram en onthou om weeksaande om 19:30 in te skakel vir die jongste drama en intrige wat in die gange van Binnelanders uitspeel.