Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Binnelanders: Kupido-pyltjies tref nie almal nie

Nuus
02 Februarie 2016
Februarie is sinoniem met liefdesmaand, maar kykers moenie verwag dat almal in die gange van Binneland Kliniek in Kupido se pyltjies gaan vasloop nie.
Binnelanders Feb01

Februarie is sinoniem met liefdesmaand, maar kykers moenie verwag dat almal in die gange van Binneland Kliniek in Kupido se pyltjies gaan vasloop nie.

Daar wag definitief ’n slang vir Bronwyn Abrahams wanneer haar onmiddellike baas haar laat weet dat sy ’n nuwe baas kry – en dit is nie wie Bronwyn of Steve verwag het nie. Dié vrou lyk aanvanklik asof sy Bronwyn se beste vriendin wil wees, maar kort voor lank wys sy haar ware kleure – en dit is duidelik dat die Abrahamse nie weet hoe om hierdie nuwe situasie te hanteer nie.

34 binnelanders feb04


Liefde word lankal nie meer by die etenstafel bedien vir Daleen en Tertius Jonker nie, en wanneer Tertius die magtige Maggie inspan om sy skermutselings te wen, is dit nie net Daleen wat rooi sien nie. At Koster gaan nie toelaat dat die klein doktertjie met die ma van sy kleindogter mors nie – en dit is wanneer Tony Rossouw weer ingespan word om van Tertius maalvleis te maak. Maar gaan Tony se donker konkelwerk die letter en die gees van die wet waarvoor Maggie leef oortref? Of sal Tony tot nuwe laagtes moet daal om hierdie oorlog in die kleine te wen?

34 binnelanders feb01


Dit is natuurlik nie net kleine Nina wat in die middel van Jonkers se koue oorlog beland nie, maar ook Pippa en Rian. Wanneer Daleen uiteindelik besluit om die Malherbes te help om dit te kry wat hulle nog altyd wou gehad het, is dit Tertius wat hierdie feit en ’n ou koei uit ’n sloot opgrawe om haar as ’n onbevoegde ma te bestempel. Beteken dit dat Rian en Pippa hulle vriendskap met Tertius en Daleen vir eers opsy moet skuif om te verseker dat surrogaatskap as ’n pion in ’n vuil en gemene speletjie gebruik sou kon word nie? Of is die ‘ou koei in die sloot’ dalk net die troefkaart wat gaan verseker dat Tertius op die ou einde van die dag alles kry waarvan hy nog net gedroom het?

34 binnelanders feb05


In Mia en Christiaan se verhouding is dit duidelik dat die liefde die setel van hul besluitnemings is, maar eers moet daar gesien word wat presies met Christiaan fout is! ’n Mens kan nie net van koue water en liefde leef nie, en Jana gaan verseker nie toelaat dat emosies groot besluite gaan beïnvloed nie. Dit maak natuurlik dat sy en Mia nie altyd om dieselfde vuur sit nie, veral nie wanneer dit by Christiaan en sy gesondheid kom nie… ’n Mens kan maar net hoop dat Jana en Mia se liefde vir Christiaan hulle albei gaan dwing om beter met mekaar te kommunikeer – veral wanneer sy lewe in gevaar is.

34 binnelanders feb07


Morné en Liezl is nie die enigste twee wat slawe is van die liefde in Februarie nie. Ivanka probeer haar bes om Gustav te kry om deel te neem aan ’n gelukkige prystrekking om sodoende genoegsame fondse in te samel, maar die hardkoppige Gustav gaan dit nie vir haar maklik maak nie.

34 binnelanders feb06


Gelukkig is Ivanka ’n uitgeslape vrou wanneer dit kom by die weë (en die speletjies) wat in die hartskamer plaasvind. Is hierdie net nog ’n oorwinning wat vir Gustav wink, of is daar dalk meer op die spel hierdie keer? Indien hierdie enigsins beskryf kan word as ’n ernstige dans van passie, kan ’n mens maar net wonder wat gaan gebeur wanneer At Koster en Karli du Preez (en moet nooit vergeet van Binneland Stereo nie!) van hierdie kinkel in die kabel uitvind.

34 binnelanders feb03


Kyk Binnelanders, weeksaande om 19:30.