Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Binnelanders: Gevaarlike speletjies

Nuus
02 Mei 2017
Lees hier wat voorlê vir Binnelanders-kykers in Mei.
Binnelanders Mei 2017 1

Mei is een van die mooiste maande in die jaar, want hier in die hartjie van die herfs gebeur dinge amper ongesiens. In die gange van Binneland Kliniek gaan hierdie seisoen weerspieël word met meer as een magspel wat pionne van die manteldraaiers skei, en waar die koning baie vinnig gaan moet plan maak om te verseker dat hy nie op heterdaad betrap word in ’n skaakmat-situasie nie.

Skokkende verrassings, aangename herontmoetings, en spoke uit die verlede wat helder oordag in Pretoria beland gaan sorg vir ’n kaleidoskoop van hartstog, weemoed, blydskap, en vreugde – maar net as die Binnelanders elkeen die regte voetjie voor sit.

Vir dié wat nog wonder of enige iemand ’n hand gehad het in die genadedood van Rob Willemse, sal die antwoorde dalk nie heeltemal so duidelik wees aan die begin van die maand nie. Een ding is seker: Wilmien Deysel het genoeg gehad van die gevaarlike speletjies en die onderduimse gedrag van meeste van haar seniors. Die arme jong verpleegstertjie is onder vier oë gespreek deur At en Jana Koster, en wat sy te sê gehad het oor Conrad Bester is dalk nie heeltemal so vlyend gewees nie – maar dit was die waarheid. Of was dit? Beskerm sy nie dalk haar heldin van soveel jare, Annelize Roux, nie? Of probeer sy haarself net beskerm? Terwyl die net stywer span rondom die verdagtes in Rob Willemse se saak, is daar iemand wat die waarheid weet – maar wie is dit?

34 binnelanders mei 2017 2 003 pre

Wanneer Conrad uitvind wat Wilmien te sê gehad het oor hom, is die man kennelik woedend. Is dit omdat hy die skuldige een is, of is dit omdat hy meer van Wilmien verwag het? Ook, hoe maak ’n mens nou juis wanneer jou emosies betrokke is op soveel vlakke? Wilmien is ’n welkome verligting op meer as een geleentheid gewees vir Conrad, maar ’n mens kan nou ook nie sê dat hy met respek en eer teenoor haar opgetree het nie.

Wilmien is ook nie meer lus vir speletjies nie, en wanneer dinge te veel raak vir haar neem sy ’n baie groot besluit oor haar toekoms, en oor wie in haar lewe hoort. Een ding kan ’n mens van Wilmien sê: wanneer sy eers haar kop op ’n blok gesit het, is daar nie regtig omdraaikans nie.

Binnelanders is weeksaande om 19:30 op die kassie.

34 binnelanders mei 2017 3

Dit lyk asof dinge baie goed gaan met Pippa en Alex, maar gaan dit dalk net ’n bietjie té goed met hierdie nuwe paartjie? Aan die begin van ’n romanse is daar altyd ’n paar kinkels in die verskillende kabels wat uitgesorteer moet word, en Pippa kom baie gou agter dat Nicci definitief ’n groot kinkel in Alex se kabel is.

Deon Visser se lewe gaan baie interessant raak hierdie maand: nie net is daar ’n brief uit Barberton wat ’n hele nuwe uitkyk op sy lewe kan gee nie, maar dit wil voorkom asof hierdie doktertjie uiteindelik die kloppings van sy eie hart baie hard en duidelik gaan hoor. Natuurlik gaan dinge nie seepglad verloop nie, want die weë van die liefde is dikwels onbekende grondpaaie. Gelukkig is Deon ’n dinamiese man, en laat hy hom nie altyd voorskryf deur sy hart nie – maar hoe nou gemaak wanneer hy homself nie kan help nie?

As ’n man homself nie kan help nie, dan is daar net een uitweg: help iemand anders. Dit is presies wat Wimpie in gedagte het wanneer hy betrokke wil raak by Deon en Louis se bierbrouery – maar ons almal weet reeds dat Wimpie nie eintlik daar is om vrygewiglik te help nie. Hoe gaan die twee ouens die bejaarde kry om af te sien van sy planne? Of gaan hulle dalk eersdaags ’n nuwe vennoot in hul besigheid hê wat heel moontlik hul wins gaan belemmer?

34 binnelanders mei 2017 4

Dr. Desire Eksteen kom maak weer ’n draai in Pretoria, en dit is duidelik dat sy ’n slag het met die medici – dieselfde kan ongelukkig nie gesê word wanneer dit kom by haar interpersoonlike verhoudings nie. Desire weet net hoe om mense, veral mans, verkeerd op te vryf. Is daar dalk iets wat die jong doktertjie wegsteek? Of is sy nou maar net so gemaak en laat staan? Daar word natuurlik baie vinnig op Naomi se knoppie gedruk om haar te help wanneer die kastaings in die vuur beland, maar Naomi het ook nou nie eintlik juis genade vir die suster van haar nie.

34 binnelanders mei 2017 5 004 pre

Iemand wat nie meer iets gaan kan wegsteek nie, is Steve Abrahams. Die afgelope paar weke het dit baie duidelik geword dat die sjarmante plastiese chirurg se liefde vir die vurige Annelize Roux begin afneem het. Die dood van sy boesemvriend het dinge ook nou nie juis makliker gemaak vir hom om reguit te dink nie, en die feit dat hy na die Fynn-debakel reguit na Bronwyn en Lexi toe is het ook boekdele gespreek. Maar hoe nou gemaak? Is Steve vasgevang tussen sy passie vir die ambisieuse Annelize en sy opnuut begeesterde fokus op familie – of is hy nou maar vir eens en vir altyd net ’n rokjagter wat nie ’n besluit kan neem oor die rigting waarin sy hart hom stuur nie? Dinge gaan nog baie gekompliseerd raak wanneer At besluit om vir Steve aan te hits om vir die Hoof van Onkologie-pos aansoek te doen – terwyl Annelize eintlik daardie einste pos haar nuwe doelwit maak.

34 binnelanders mei 2017 6

Annelize word so gedryf deur haar ambisie (en ’n geheim!) om bo uit te kom, dat sy ook nie skroom om vuil te speel nie. Ivan Jones is ongelukkig nie ’n man wat om die bos gelei moet of kán word nie. Wanneer hy dus ’n besluit moet maak oor wie hierdie belangrike pos moet beklee, is sy keuse nie net verrassend nie – maar krap dit heelwat verhoudings om.  As Ivan se keuse maar net die einde van die foltering is wat op Annelize wag, sou sy dalk nie so vinnig en rats soos soos ’n Kaapse kobra optree nie. Annelize is ’n gevaarlike en uiters aantreklike vrou – en soms moet ’n vrou al haar kragte saamsnoer om te kry wat sy wil hê, al beteken dit ook dat sy haar stille konkelwerk in die donker moet uitvoer…

So gepraat van verhoudings omkrap: wie onthou nog vir Margot Brink? Die eertydse assistent van Jana Koster is weer terug in Pretoria, en ’n mens sou dink dat sy hier is om die foute van haar verlede te kom regstel. Ongelukkig vir Jana is sy hier om haar pond vleis te eis, want niemand mors met Margot nie – veral nie iemand soos Jana nie. As Margot maar net kon besef dat Jana die een is wat gekeer het dat sy nie in die tronk beland na dit wat sy aan Tertius en Daleen gedoen het nie, sou sy dalk eerder aangedring het op ’n vredespyp as ’n vredesoffer…

34 binnelanders mei 2017 7

Vir Tertius Jonker is die tyd van vrede eers iets van die verlede in Mei. Dié dokter mag dalk vreeslik verlief en verlore wees in sy nuwe verhouding met Karli du Preez, maar die lewe en die liefde vra altyd ’n prys vir daardie gelukkige einde waarop elke held hoop. Wanneer Tertius se ou vriend Eric Sadie in Pretoria beland, is dit nie lank voor Eric en Karli lekker saam begin kuier nie. Dit is nie net Tertius wat hierdie nuwe vriendskap met valkoë dophou nie, want Pippa Malherbe is ook nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Wat Tertius sien, en wat Pippa ervaar, is natuurlik twee verskillende dinge. Wanneer die waarheid uitkom oor wat presies hier aan die gang is, gaan dit dalk die einde van die sprokiesverhouding wees – of dalk net die begin!

Mei gaan voorwaar die staal en kaliber van elke Binnelander toets, en wanneer herfs tot ’n einde kom, is daar die koue winter wat op almal wag. Ons sal maar moet wag om te sien wie sit buite in die koue, en wie het ’n kaggelvuur (of dit nou van verraad of liefde gebou is!) wat hulle deur die volgende paar maande gaan dra.