Logo
Die brug S1 Slim BB

Wie is die stem in "Die Brug"?

Nuus
04 Oktober 2023
Skakel in vanaf 26 Oktober 2023 om 20:00 vir “Die brug”.
Die brug Neil Sandilands Article Image

Vir ’n avontuur-realiteitsreeks soos Die Brug, waar twaalf vreemdelinge saam moet werk om ’n brug te bou in ’n afgeleë, ongerepte plek met een wat hoop om met prysgeld van ’n R1 miljoen weg te loop, het jy ’n vertellerstem met gravitas nodig – ’n stem wat die drama, aksie, spanning en emosie kan vasvang, inkleur en versterk. So ’n persoon is die enigmatiese Neil Sandilands, die stem agter die mikrofoon vir die debuutseisoen van Die Brug, wat 26 Oktober op kykNET (DStv-kanaal 144) begin. 

Neil het as kinderakteur reeds sy merk op TV gemaak in Meester en Konings, en later het hy beïndruk met sy talent op TV, in rolprente en op die verhoog. Los Angeles het gewink, en rolle in internasionale reekse soos Hap and Leonard en Sweet Tooth het gevolg. Afrika se roepstem was egter altyd daar, en Neil Sandilands het keer op keer teruggekom na Suid-Afrika om hier te kom werk.

Toe ’n jare lange vriend, Cecil Barry, hom ’n paar maande gelede nader en vra of hy die verteller vir Die Brug wil wees, het Neil dadelik ja gesê, sonder dat hy eintlik geweet het waarvoor hy ja sê.

“Maar toe ek eers die inhoud sien en die wonderlike werk wat die kreatiewe regisseur Freddy Louw en sy span gedoen het, was ek pens en pootjies dáár. Om gevra te word om jou stem te gee om ’n storie soos hierdie te vertel, is ’n groot eer, en dit kom op die regte tyd in my loopbaan. Hoe voel ek daaroor? Fantasties!”

Wat dink hy van ’n realiteitsprogram soos hierdie?

“Wel, ek kyk nie juis TV nie, ek maak dit,” sê Neil en lag. “Maar dit gesê: Dit het gou duidelik geword dat ek vasgevang, gestimuleer en selfs weggevoer is deur die inhoud. Die karakters wat ons ontmoet, is nie net appels en pere nie, maar sommer avokado’s ook. Die hart van die program, tematies, sorg vir pret, afleiding, uitdagings en stof tot nadenke. Dit tiek al die boksies wanneer dit by vermaak kom. Die Brug word spoedig hoë avontuur-realiteit en kyk met ’n vergrootglas na die menslike psige.”

Neil kry die episodes wanneer dit klaar geredigeer is en die hele vervaardigingspan tevrede is. “Ek voeg dan my eie geur by deur die storie te vertel soos dit gebeur het. Die vervaardigers het my redelik vrye teuels gegee. Ek het dus die kreatiewe ruimte gehad om te skep. Laat ek dit sê: Ek is verslaaf! Dit het my skuldige plesiertjie geword, en ek weet dit gaan kykers oorrompel. Ek is werklik dankbaar dat die vervaardigers my gevra het om die verteller te wees.”

Die Brug word deur Red Pepper Pictures vervaardig. Die reeks word op DStv Premium op kykNET (DStv-kanaal 144) vanaf Donderdag 26 Oktober 2023 uitgesaai. Dit sal ook via DStv Stream gestroom kan word en sal beskikbaar wees ná elke uitsending. Besoek die kykNET-webwerf vir eksklusiewe programinhoud en sluit aan by die gesprek op TwitterInstagramTikTok en Facebook deur #DieBrug te gebruik.