Logo
Die brug S1 Slim BB

Die brug – Só werk dit

Nuus
18 Oktober 2023
Ons het almal ’n brug wat ons moet oorsteek – iets in ons lewens wat ons moet oorkom. En as ons aan die ander kant kom, kyk ons terug na die reis en besef dat ons die gereedskap gehad het om self die brug te bou.
Die brug format article image

Dit is die konsep waarop die nuwe internasionale werklikheids-TV-formaat van kykNET, Die brug, gegrond is. Die plaaslike weergawe van die reeks begin Donderdag 26 Oktober om 20:00. Dit plaas twaalf vreemdelinge in ’n afgeleë wildernis in die omgewing van Swellendam. Hul taak is om binne 20 dae ’n brug te bou in die hoop om met prysgeld van R1 miljoen weg te stap. In die proses om ’n brug aanmekaar te slaan om by die prysgeld uit te kom, is daar kinkels en uitdagings wat die ekwilibrium in die groep laat wankel. Die spelers se sosiale vaardighede, morele waardes, fisieke en geestelike krag en uithouvermoë word tot die uiterste beproef.

Sal die geld of die spel hul morele waardes beïnvloed? Sal hulle in spanne kan saamwerk? Wie gaan selfsugtig optree? Sal die spelers die versoeking kan weerstaan om mekaar in die rug te steek? En wie sal uiteindelik oor die brug loop? Sal hulle kies om die prysgeld te deel of om alles vir hulself te hou?

Die brug werk met elemente van avontuurverhale en verken die dramas wat afspeel wanneer ’n groep onder geweldige druk geplaas word. Die titel het egter ook ’n simboliese betekenis, want die spelers bevind hulle in hul eie lewens ook in situasies waar hulle brûe moet oorsteek om nuwe moontlikhede te ontsluit. Dít verdiep die menslike drama en maak van die reeks vir die deelnemers ook ’n stryd om selfoorwinning.

Belangrike terminologie in Die brug:

• “Houthuis” – waar die spelers woon en werk. Dit bestaan uit ’n slaaparea, ’n leefarea, ’n werkswinkel en ’n pier.

• “Toring” – 250 meter van die oewer af en die spelers se uiteindelike bestemming, want dit is waar die prysgeld wag.

• “Eiland” – waar die Toring en die prysgeld is. Die spelers moet ’n brug bou om daar uit te kom.

• “Posvlot” – halfpad tussen die oewer en die Toring. Dis waar die spelers boodskappe en instruksies moet gaan haal.

• “Poskan” – die vaartuig waarin spelers boodskappe en instruksies ontvang. 

• “Fakkels” word gebruik om die spelers te laat weet wanneer daar nuwe pos op die Posvlot is.

• “Verwydering” verwys na ’n speler wat huis toe gestuur word. Dit kan enige tyd gebeur. Anders as in ander realiteitsprogramme, is daar nooit dieselfde reëls of meganisme vir die “verwydering ” nie. Dit is net so onvoorspelbaar soos die gebeurtenis self. As spelers verwyder word, moet hulle hul besittings pak, op ’n boot klim en die spel onmiddellik verlaat.

Die brug word deur Red Pepper Pictures vervaardig. Die reeks word uitgesaai op DStv Premium op kykNET (DStv-kanaal 144) vanaf Donderdag 26 Oktober om 20:00. Dit sal ook via DStv Stream gestroom kan word en beskikbaar wees op DStv Catch Up ná elke uitsending. Besoek die kykNET-webwerf vir eksklusiewe programinhoud en sluit aan by die gesprek op XInstagram, TikTok en Facebook deur #DieBrug te gebruik.