Logo
Hartklop slim bb
web uni tv guide

Hartklop

144Drama16 L

Wanneer ’n vrou se loopbaan eerste kom – Hartklop

Nuus
08 Augustus 2023
'n Vleismes op 'n vreemde plek...
Hartklop 5

Wêreldwyd is vroue se keuse om kinderloos te bly besig om al groter te word. Daar is verskeie redes daarvoor, een daarvan dat vroue al meer op hulle loopbane fokus.

Dit was vir Sollie (Christo Davids) ’n groot skok toe hy toevallig uitvind sy vrou, Dr. Veronica Pietersen (Renate Stuurman) gebruik steeds geboortebeperking. Hy was onder die indruk hulle wil met ’n gesin begin, maar vir haar is haar loopbaan net te belangrik. 

Veronica kom van Genadendal in die Wes-Kaap en haar ouers is beide in onderwysers. Om ’n dokter te wees, is haar groot passie en niks sal in haar pad staan nie. Met Sollie wat werkloos is ná sy besigheid in die pandemie gevou het, is sy die een wat die pot aan die kook moet hou. Wil sy werklik kinders hê of is haar loopbaan belangriker? 

Wêreldwyd, ook in Suid-Afrika, is vroue wat kinderloos uit keuse bly, besig om te styg. In Brittanje het navorsing getoon dat een uit vyf vroue – 18 persent - wat 45 jaar oud in 2021 geword het, kinderloos was. In Frankryk is vroue die afgelope paar jaar aangemoedig om meer kinders te kry aangesien die land se geboortetalle vir die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog tot die laagste vlak gedaal het. 

In 2019 het Statistiek SA in ’n verslag gewys dat 8,3 persent Suid-Afrikaanse vroue wat tussen 1962 en 1966 gebore is kinderloos was. Die persentasie vir vroue wat tussen 1967 en 1971 gebore is, is amper dubbel soveel op 17,9 persent. 

Daar is verskeie redes hoekom vroue kinderloos is. ’n Fokus op hulle loopbane is beslis een daarvan. Navorsing deur die Federal Reserve Bank of St. Louis in die VSA het verlede jaar selfs gevind dat ongetroude vroue sonder kinders finansieël sterker is as ongetroude mans met kinders. 

Dit is egter nie die enigste redes nie. Vir sommige is dit ’n finansiële besluit. Daar word gereken dat dit ongeveer R100 000,00 per jaar kos om een kind te versorg. Dan is daar dalende vrugbaarheid en infertiliteit en al meer mense wat glo die aarde is reeds oorbevolk. 

In ’n onderhoud met The Hollywood Reporter in 2021 het die aktrise Jennifer Aniston gesê dat daar was ’n tyd toe sy seergemaak is deur mense wat gesê het sy het haar loopbaan bo kinders gesien. “Jy het nie ’n idee wat met my aangaan op ’n persoonlike of mediese vlak nie. Mense weet nie en dit het seergemaak.” 

Die aktrise Betty White, wat op 31 Desember 2021 op die ouderdom van 99 oorlede is, was vier keer getroud, maar het nooit kinders gehad nie. “Nee, ek was nooit spyt oor die besluit nie. Ek is kompulsief oor dinge en ek weet as ek ooit swanger geraak het, sou dit my totale fokus wees. Maar ek het besluit om nie kinders te hê nie omdat ek op my loopbaan gefokus het en iemand so kompulsief soos ek, sou nie beide kon doen nie.” 

Daar is ’n mes in jou kop! 

Die mediese geval in episode 4 is gebaseer op ’n geval wat in die Kaap gebeur het. ’n Pasiënt het by ongevalle op Kersdag opgedaag met ’n vleismes.“Haar kêrel het haar aan die etenstafel gesteek en hoewel sy by haar volle positiewe was toe sy by die hospitaal opgedaag het, was sy baie onbeskof met die dokters en personeel,” vertel Zoë Laband, hoofskrywer van Hartklop. “Hulle kon nie die mes uithaal nie omdat hulle nie geweet het of dit ’n slagaar gesny het nie en moes wag vir ’n vaskulêre chrirurg om ’n skandering te doen om te sien of daar enige skade was. Dit het ’n wyle geneem aangesien dit Kersdag was en die hele tyd het die vrou op almal geskel wat naby haar gekom het.” 

Interessante feit

“Ek het vir een van die dokters met wie ek gepraat het, gevra wat die mooiste ding was wat sy al ervaar het terwyl sy haar internskap by ’n groot staatshospitaal gedoen het,” sê Zoë. “Sy het vertel dat elke oggend seweuur wanneer die skofte verwissel het, het die verpleegsters saam gestaan en lofsange gesing. Sy sê dit was sielvol en uniek Suid-Afrikaans. Ek wens ons het ’n geleentheid gehad om dit in een van die episodes te gebruik!” 

Skakel elke Dinsdag om 20:00 in vir 'n splinternuwe episode van Hartklop. Dié reeks kan ook gestroom word op DStv. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram deur die hutsmerk, #Hartklop te gebruik.