Logo
Suidooster S9 Oct 2023 Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

145Drama13

Vyf jaar later – en dis steeds voet in die hoek met "Suidooster" se bestuurskool

Nuus
29 Mei 2023
Sedert die afskop van die bestuurskool-inisiatief het verskeie lede van die sepie se eie produksiespan en akteurs só hul lisensies gekry.
Suidooster Bestuurskool 2023 Article Image

Bykans vyf jaar ná kykNET se gewilde sepie Suidooster die Filmgro-bestuurskool in samewerking met die SA FILM Academy (SAFA) en Suzuki Suid-Afrika by Atlantic Studios in Kaapstad begin het, het talle jongmense in die plaaslike TV- en filmbedryf só hul bestuurslisensies gekry.

Malwande Menelisi, wat tans ’n internskap by Homebrew Films doen, het onlangs die 80ste persoon geword wat danksy Filmgro sy bestuurslisensie ontvang het. Homebrew Films en Origin Financial borg saam met Suzuki en Suidooster die Filmgro-inisiatief.

“Een van die grootste struikelblokke vir jongmense wat in die TV- en filmbedryf begin werk, veral vir diegene wat uit voorheen benadeelde gemeenskappe kom, is dat hulle nie ’n bestuurderslisensie het nie. Dit verhoed hulle dikwels om permanente aanstellings in die bedryf te kry,” sê Wilmer Müller, Suidooster se woordvoerder.

Volgens Wilmer gaan dit vir die vervaardigers, die produksiespan en akteurs by Suidooster oor veel meer as om deur daaglikse vermaak op die kassie mense se lewens aan te raak. Dit gaan ook daaroor om ’n daadwerklike verskil in hul lewens te maak.

“Daarom het ons destyds met die SA Film Academy en Suzuki SA kragte saamgesnoer om ’n oplossing te help bewerkstellig. ’n Bonus was dat ons ’n groot parkeerarea by ons ateljees tot ons beskikking vir lesse gehad het.”

Sedert die afskop van die bestuurskool-inisiatief het verskeie lede van die sepie se eie produksiespan en akteurs só hul lisensies gekry.

Seton Bailey, hoof van die SA FILM Academy, sê dié nie-winsgewende organisasie dien as ’n brug tussen opleiding en werksverskaffing.

“Interns word verder opgelei en aan tipiese werksomstandighede blootgestel, terwyl hulle terselfdertyd vergoed word,” sê hy.

“Dit is deel van ons missie om jong mense met die ontwikkeling van hul vaardighede te help in die veld waarin hulle studeer, want só doen hulle direkte werksondervinding op deur betrokkenheid by plaaslike en internasionale produksies.”