Logo

Tussen tonele met Jenna-Leigh Bilong

Nuus
25 April 2024
Die gewilde TV-aanbieder en nuusleser vertel vir ons wat gebeur agter-die-skerms en onthul wat haar motto is.
Jenna-Leigh Bilong

Hoe hou Jenna-Leigh Bilong kop van wat sy moet kommunikeer op televisie en hoe benader sy die verskillende stories? Ons vind uit!

Watter items gaan ten alle tye saam met jou stel toe?

’n Pen, my selfoon en my oorstuk.

Mense vra my gereeld oor die pen in my hand: Wat maak ek daarmee? Wat skryf ek tydens die nuus? Wel, ek maak aantekeninge oor uitsprake en notas vir myself oor die berigte. Ek skryf gewoonlik bo-aan elke teks wat die “gevoel” van elke storie is, sodat ek elke berig met die korrekte instelling, tempo en uitdrukkings kan benader.

My selfoon is om te kyk of daar enige verwikkelinge is in die nuus en my oorstuk, want dit is hoe die mense in die beheerkamer met ons kommunikeer.

Jy is 'n radio-omroeper en 'n aanbieder op verskeie TV-programme: Watter medium geniet jy die meeste?

Beslis TV. Vir jare was my antwoord radio, maar ek dink TV het my na meer as tien jaar oortuig. Jy kan soveel meer kommunikeer met jou lyftaal as slegs met jou stem. Moet egter nie die belangrikheid van dinge soos intonasie in televisienuus onderskat nie. Jou stem en lyftaal skep die geheelbeeld.

Het jy onlangs iets geleer by ’n ander aanbieder/ persoon op stel wat jou geïnspireer het?

‘n Mens weet nooit alles nie, so ek leer voortdurend by my kollegas. Meeste lesse sal wees oor uitsprake van vreemde name. Meeste van ons vra mekaar gereeld “hoe sê jy hierdie?”

Is daar ’n fliek of reeks op kykNET of Showmax wat jy onlangs gesien het waar jy gedink het jy sal nogal graag daarin wil speel?

Daar is baie! Ek wou graag deel van die Spinners-reeks wees. 😊 Ek wil ook op Suidooster ‘n draai maak en ek kan tot vandag toe nie verstaan waarom ek nooit in Arendsvlei nuus gelees het nie. Hopelik sal ek die volgende ontvouende nuus deel op kykNET.

Hoe motiveer jy jouself nadat jy ’n moeilike dag agter die rug het?

Deur onder my komberse te klim en ‘n goeie reeks op Showmax te kyk. Dit is hoe ek myself beloon vir ‘n dag van harde werk en moeilike nuus.

’n Goeie reeks is een van die min dinge wat my werklik ontvlugting bied. Dan is daar niks so bevredigend as om saam met my man om die etenstafel te sit en land en sand te praat nie. Hy is al persoon vir wie ek my geheime kan vertel. Hy is ’n pastoor en is nogal goed daarmee om ander mense se geheime te hou, so ek kan hom vertrou 😃

Verder motiveer ek myself vir die volgende dag deur myself te herinner dat ek hier op aarde is vir ’n rede en die beste moet doen met die tyd wat ek het om my roeping te vervul en ’n verskil te maak.

Wat is jou motto in die lewe?

Nie alle goeie dinge is God-dinge nie.

Ek moet myself altyd herinner nie alle geleenthede, praatjies of geselskap wat op die oog af goed lyk is noodwendig in God se plan nie. Ek streef om my lewe te vul met “God-dinge”, nie goeie dinge nie.

Het jy ’n geheime talent waarvan ons nie weet nie? 

Hmmm… Meeste mense weet ek kan kook, ek sing, ek skryf en persoonlik dink ek; ek kan dans 😊.

Miskien weet mense nie dat ek ook eintlik ‘n haarkapper kon wees as ek wou nie. Ons was te arm om na haarsalonne toe te gaan, so meeste van ons moes leer om ‘n borsel en haardroër met vernuf te gebruik. Ek blowdry jou hare uit jou haarwortels uit, meisie. 😃

Maak seker jy skakel in vir Die Groot Ontbyt op weeksdae om 06:00 op kykNET, kanaal 144 en stroom eNuus Maandae tot Saterdae om 19:00 en Sondae om 18:30.